Nee – het oom Schalk Lourens gesê – jy kry nie blomme in die Groot Marico nie. Dis nie ’n slegte distrik vir mielies nie, en op ’n slag was my uie in ’n klein tuintjie wat ek langs die dam gemaak het, heel goed, maar wat jy rêrig blomme noem, is maar rare goed hier in die Marico. Miskien is dit die hitte. Of die droogte.
Ewenwel, wanneer ek ook al oor blomme praat, dink ek altyd aan Willem Prinsloo se plaas by Abjaterskop waar die dans was. En ek dink aan Fritz Pretorius wat daar bleek en siek langs die pad gesit het, en ek dink aan die wit roos wat ek in my hoed gedra het, ewe swierig. Maar meestal dink ek aan Grieta.
As jy oor my plaas na die bultjie toe loop, en jy kyk in ’n noordwestelike rigting, kan jy Abjaterskop anderkant die Dwarsberge se rante sien. Die mense sal jou vertel dat daar spoke op Abjaterskop is. Hulle sal jou ook vertel dat dit een maal die tuiste van hekse was. Dit kan ek glo. Ek was nog net een keer by Abjaterskop. Dit was baie jare gelede. En ek het nooit weer daarheen gegaan nie. Nogtans was dit nie spoke wat my daar weggehou het nie; ook nie hekse nie.
Dit het tyd geword vir Grieta Prinsloo om van die afrondingskool op Zeerust af terug te keer. Sy het daarheen gegaan om Engelse maniere, diktee en ander vername en deftige vakke te leer. Derhalwe het haar pa, Willem Prinsloo, ’n groot dans op sy plaas by Abjaterskop gereël om Grieta se terugkoms te vier.
Ek is na die partytjie toe genooi. So ook Fritz Pretorius. En so ook elke ander persoon in die distrik, van Derdepoort af tot by Ramoutsa. En wat nog meer is, omtrent elkeen van hulle hét gegaan. Natuurlik was ons almal ietwat senuweeagtig om Grieta te ontmoet. Met al die superieure dinge wat sy by die afrondingskool geleer het, sou ons nie maklik met haar op ’n geselserige manier kon praat asof sy maar net ’n gewone boeremeisie was nie. Maar wat almal na Abjaterskop gebring het, was dat ons geweet het, dat Willem Prinsloo die beste perskebrandewyn in die distrik gemaak het.
Fritz Pretorius het met my gepraat oor die moeilikheid wat Grieta se geleerdheid geskep het.
“Ja, jong,” het hy gesê, “ek sê jou, ek voel heel bewerig om met haar te praat. Ek het egter my geleerdheid so ’n bietjie opgevryf. Gister het ek my ou lei uitgehaal, wat ek sewentien jaar gelede gebruik het toe ek die skool verlaat het. En ek het ’n paar somme gedoen, optel en aftrek. Ek het ook ’n bietjie vermenigvuldiging probeer. Maar ek het vergeet hoe dit gedoen word.
Ek het Fritz vertel dat ek hom graag sou wou help, maar ek het nie so ver soos vermenigvuldiging geleer nie.
Die dag van die dans het aangebreek. Die poskar wat Grieta na haar pa se huis vervoer het, het in die oggend deur Drogedal gery. Ek het die middag aangetrek. Ek het ’n swart baadjie, vaalbruin broek, en ’n pienk hemp gedra. Ek het ook die bruin skoene wat ek ’n jaar tevore gekoop het en waar daar nog nie geleentheid was om dit te dra nie, aangetrek. Want ek sou verspot gelyk het as ek op die plaas met ’n paar winkelskoene rondgeloop het, terwyl almal tuisgemaakte velskoene gedra het.
Toe het ek op my perd geklim, met my hoed ewe windmaker aan die eenkant van my kop, en in die pad geval – die regering s’n. Ek het geglo dat ek maklik die besgeklede jongman by die dans sou wees.
Dit was amper sononder toe ek by die voet van Abjaterskop aangekom het. Ek moes langs die kant van Abjaterskop verbyry om by Willem Prinsloo se plaas, wat in ’n laagte anderkant die heuwels genestel het, uit te kom. Soos ek gery het, het ek gedink dat dit dom was vir ’n man om op ’n plek te bly waar dit na bewering gespook het. Die bome het langer en digter geword soos dit maar gewoonlik op hoërliggende grond die geval is. En hulle het ook heelwat donkerder geword.
Regoor die hele plek was daar vreemde, donker skaduwees. Ek het nie daarvan gehou nie. Ek het onthou dat ek stories gehoor het van die hekse van Abjaterskop, en wat hulle aan reisigers gedoen het wat in die donker verdwaal het. Dit het gelyk of dit maklik was om tussen daardie lang bome te verdwaal. Gevolglik het ek my perd spore gegee om te galop, om so gou as moontlik uit hierdie sombere omgewing weg te kon kom. Eintlik is ’n perd sensitief oor dinge soos spoke en hekse, en was dit my plig om toe te sien dat my perd nie onnodig bang gemaak is nie. Veral nie as daar ’n koue wind skielik deur die poort opgesteek het nie, en dit een of twee keer geklink het asof ’n bose stem my naam genoem het. Toe het ek vinnig begin ry. Maar ’n paar oomblikke later het ek omgekyk en die situasie mooi begryp. Dit was Fritz Pretorius wat agter my op ’n galop aangery gekom het.
“Waarom was jy so haastig?” het Fritz gevra toe ek stadiger gery het om hom toe te laat om my in te haal.
“Ek wou graag deur daardie bome kom voor dit te donker geword het,” het ek geantwoord. “Ek wou nie hê my perd moes skrikgemaak word nie.”
“Dit is seker waarom jy met jou arms om sy nek gery het,” het Fritz opgemerk, “om hom te kalmeer.”
Ek het nie daarop geantwoord nie. Maar wat ek wel raakgesien het, was dat Fritz ook baie modieus aangetrek was. Dit is so dat ek hom geklop het wat die hemp en die stewels betref, maar hy was in ’n nuwe grys pak uitgevat met sy kouse wat oor die onderste dele van die broekspype opgetrek was. Hy het ook ’n sakdoek gehad wat hy ’n hele paar keer ewe pronkerig uitgehaal het.
Natuurlik kon ek nie jaloers wees op ’n persoon soos Fritz Pretorius nie. Ek was net vies as ek daaraan gedink het dat hy homself belaglik gemaak het deur na ’n partytjie toe te gaan met ’n vreemde, uitlandse ding soos ’n sakdoek.
Next →
← Previous