Ommekeer

Posted on August 19, 2016 by Cape Rebel

Uit Reader's Digest, Januarie 1953
deur Roman Turski

Ek is in Pole gebore waar, voor die laaste oorlog, godsdienstige onverdraagsaamheid nie ’n ongewone ding was nie. Ten spyte van my pa se teenkanting teen my deelname aan die anti-Semitiese demonstrasies in Warskou, het ek nogal heelwat klippe deur die vensters van winkels wat aan Jode behoort het, gegooi. Ek het geen bedenkinge oor my optrede gehad nie, maar later het dit maande van swaarkry en vervolging, en ’n Jood, geneem om my te wys hoe om my te onderwerp aan die Bybelse gebod van: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”.

Hier is my storie.

Toe Hitler Oostenryk geannekseer het en dit gelyk het of daar ’n oorlog op hande was, het ek my werk as ’n vlieginstrukteur by ’n vliegklub in Lyons in Frankryk laat vaar, en in my vliegtuig huis toe vertrek. My vliegtuig se masjien het egter magneto-probleme ontwikkel en ek moes in Wene land en daar oornag sodat dit reggemaak kon word.

Die volgende oggend, net toe ek by my hotel uitgestap het om ’n paar aandenkings te gaan koop voordat ek weer sou opstyg, het ’n man aangehardloop gekom en my voor die ingang lelik raakgestamp. Heel ontstoke het ek hom beetgekry, en ek was reg om hom ’n oorveeg te gee, maar toe het ek sy bleek gesig vol vrees gesien. Al hygende het hy homself uit my greep probeer loswoel en net gesê: “Gestapo – Gestapo!” Ek het ’n bietjie Duits geken, en het gou begryp dat hy besig was om van die gevreesde Duitse geheime polisie af weg te hardloop.

Ek het inderhaas met hom na die voorportaal toe beweeg en op met die trappe na my kamer toe. Ek het hom op die punt van my bed laat lê en sy skraal, inmekaargevoude liggaam met gedrapeerde komberse op ’n kunstige manier toegemaak sodat dit gelyk het of die bed leeg was. Ek het my baadjie uitgetrek, my das en boordjie verwyder, en so voorgegee dat ek so pas opgestaan het, as die Gestapo-manne daar sou aankom.

En na ’n paar minute was dit toe wel die geval.

Hulle het my paspoort ondersoek en dit teruggegee, en my toegegooi met vrae waarop ek geantwoord het: “Ich verstehe es nicht” – ’n uitdrukking wat ek uit my kop uit geken het. Sonder om die kamer verder te deursoek, het hulle vertrek.

Sodra hulle weg was, het ek die deur gesluit en die komberse opgelig. Die arme kêrel het losgetrek in ’n snelvuur Duits. Dit was nie nodig om ’n woord te kon verstaan om te besef dat hy vreeslik dankbaar was nie.

Ek het my vlugplan uitgehaal en, met gebare en deur prentjies aan die kantlyn van die kaart te teken, het ek verduidelik dat ek ’n vliegtuig besit het en dat dit vir my moontlik was om hom uit Oostenryk weg te kry. Hy het na Warskou gewys, en sy uitdrukkingsvolle hande het gevra: “Kan jy my daarnatoe neem?”

Ek het my kop geskud en hom laat verstaan dat ek in Cracow moes land vir brandstof. Ek het prentjies van die polisie en tronktralies geteken om te illustreer dat hy met sy aankoms op enige lughawe gearresteer sou word, en ek het verduidelik dat ons net anderkant die Poolse grens op ’n grasvlakte kon gaan land waar hy dan kon afklim. Heel tevrede het hy sy kop geskud, en sy skraal gesig en donker bruin oë het weereens sy diepe dankbaarheid oorgedra.

Die doeane- en immigrasie-personeel by die lughawe het ons beduie om deur te gaan toe ek hulle vertel het dat my vriend my net kom afsien het. My vliegtuig was opgewarm en gereed vir die vlug. Ons het ingeklim en kort daarna was ons in die lug.

Ons het oor Czechoslovakia gevlieg en kort voor lank het ons die dun band van die Vistula-rivier en die stad van Cracow opgemerk. Ons het in die veld naby ’n spoorwegstasie en ’n woud geland, en ek het op die kaart aan my metgesel gewys waar ons was. Ek het hom die meeste van my geld gegee en hom alles van die beste toegewens. Hy het sonder ’n woord in my oë gekyk, my hand geskud, en toe vinnig die bos ingehardloop.

Toe ek by die Cracow lughawe geland het, was daar ’n afdeling polisiemanne saam met die immigrasie-inspekteur. ’n Polisieman het gesê: “Ons het ’n lasbrief om jou vliegtuig te deursoek – jy het ’n man gehelp om uit Wene uit te ontsnap.”

“Gaan gerus voort,” het ek geantwoord. “Terloops, waarom soek hulle die man?”

“Hy is ’n Jood,” het die polisieman gesê.

Hulle het my vliegtuig deeglik gefynkam, en natuurlik moes hulle my laat gaan weens ’n gebrek aan getuienis.

~

Die oorlog het aangebreek, en ná ek as ’n vegvlieënier in die Poolse lugmag in ons kort, bloedige stryd teen die Duitsers gedien het, het ek by duisende van my volksgenote, wat wou voortgaan om vir vryheid te veg, aangesluit. Ons het die grens na Roemenië oorgesteek, maar was spoedig gevange geneem en na konsentrasiekampe toe gestuur.

Uiteindelik het ek daarin geslaag om te ontsnap, en het toe by die Franse lugmag aangesluit. Na die val van Frankryk, het ek Engeland toe gegaan en in die lugslag om Brittanje geveg. In Junie daarna is ek gewond terwyl ek in ’n geveg oor die Engelse kanaal betrokke was en die Luftwaffe ons oor Boulogne geskraap het. Op daardie vroeë aanvalssendings is ons gewoonlik oortref in getalle en het dus teen die Luftwaffe die slegste daarvan afgekom. Slegs in ons moraal was ons egter hulle meerdere.

Op ons pad terug, het ek ’n ME-109 toegetakel maar ’n stuk van sy afgeskeerde stert het my vliegtuig getref. Ek was half verblind deur my eie bloed. Die eskader het my egter met my onttrekking oor die kanaal gedek, maar ek was bewusteloos toe my Spitfire in Engeland gepletterland het. (Later het ek gehoor dat ek skedelbreuk opgedoen het en dat ek so na aan die dood was dat die hoofchirurg by die hospitaal waar ek opgeneem is, gemeen het dat dit so te sê nutteloos sou wees om op my te opereer.)

Toe ek weer my bewussyn herwin het en my oë oopgemaak het, het ek bewus geword van ’n smal gesig met groot bruin oë wat op my afgekyk het.

“Onthou jy my?” het die eienaar van die gesig gevra. “Jy het my lewe in Wene gered.” Hy het met net ’n sweempie van ’n Duitse aksent gepraat.

Sy woorde het my teruggebring na die hede toe. Ek kon sy sensitiewe gesig onthou en kon net daarin slaag om te vra: “Hoe het jy my gevind?” Toe het ek sy wit doktersjas opgemerk. “Werk jy hier?” het ek gevra.

“Dis ’n lang storie,” het hy geantwoord. “Na jy my afgelaai het, het ek die pad gevat Warskou toe, waar ’n ou vriend van my my gehelp het. Net voor die oorlog het ek ontsnap en Skotland veilig bereik. Toe een van julle Poolse eskaders homself in die lugslag om Brittanje onderskei het, het ek gedink dat jy dalk een van hulle kon wees. Dus het ek aan die ministerie van lugvaart geskryf en uitgevind dat jy wel daaraan verbonde was.”

“Hoe het jy my naam geken?” het ek gevra.

Hy het geantwoord: “Dit was in die kantlyn van jou kaart geskryf, en ek het dit onthou.”

Sy lang vingers het koel om my pols gevoel. “Ek die storie gister in die koerante gelees oor die Poolse held wat vyf vyandelike vliegtuie in een dag afgeskiet het, en toe naby hierdie hospitaal gepletterland het. Hulle het gemeen dat jou toestand hopeloos was. Ek het dadelik die lugmag in Edinburgh gevra om my na hierdie hospitaal toe te vlieg.”

“Hoekom?” het ek gevra.

Sy answoord: “Ek het gedink dat ek uiteindelik iets kon doen om my dankbaarheid te wys. Jy sien, ek is ’n breinchirurg – en ek het vanoggend op jou geopereer.”

Posted in Afrikaans


Next

Previous