Uit Abducting A General
deur Patrick Leigh Fermor
Die siërras van die besette Kreta, heel bekend na my twee jaar van geheime verblyf en honderde veeleisende opmarse, het baie anders gelyk deur die kykspleet van die omskepte bomwerper se vloer en die openinge in die wolke onder ons. Dit was ’n warboel van sneeubedekte, alleenstaande en ontsaglike spitse wat so wit soos ’n gletser in die maanlig van Februarie gevonkel het. Toe was daar op ’n klein plato tussen die pieke skielik die flikkering van drie seinvure. ’n Paar oomblikke later het hulle vinnig groter geword: uiteindelik bevry van die lawaai binne in die Liberator, het die valskerms stadig na die hart van die driehoek afgedaal. Klein figuurtjies het in die lig van die vuur gehardloop en binne die volgende paar oomblikke het die sneeu die impak van die landing gedemp. Daar was ’n skrum van baardmanne wat mekaar omhels het, die geluide van die Kretensers se stemme, een daarvan Engels. ’n Perfekte landing!
Die Kathero-plato was te klein vir al vier die passasiers om saam te spring: vir elke sprong was daar ’n nuwe invlug nodig. Nadat ek dus veilig geland het, moes ek met die flits ’n veiligheidsein gee. Maar die opening in die wolke waardeur ek gespringval het, het toegetrek; vir ’n oomblik het die geluk teen ons gedraai. Ons het beurte geneem om in die rigting van die terugkerende gedreun van die vliegtuig, wat met tussenposes net aan die anderkant van die drywende wolke gesien kon word, te sein. Dit het ons gedoen totdat die geluid nie meer gehoor kon word nie, en toe het ons geweet dat die vliegtuig na Brindisi teruggekeer het. Ons moed het ons begewe. Ons was bevrees dat die geluide deur die Duitse garnisoen in Kritza gehoor kon word. Ook was dit moontlik dat die daeraad ons kon inhaal op ons pad na benede.
Ná ons die vure geblus en die vraglose pakmuile met ’n paar klappe aan die gang gekry het, en gehoop het dat ’n sneeuval ons voetspore sou verbloem, het ons die lang afwaartse geklouter aangepak. ’n Honende helder maan het ons pad die hele tyd verlig. Uiteindelik, toe die oggend van 6 Februarie 1944 aangebreek het, het ons stokflou deur die eikebome en die bessiestruike in die kamergrot neergesak.
~
Dit het so gebeur dat ek vir meer as ’n maand saam met Sandy Rendel in die grot deurgebring het. Dit was geleë naby ’n gerieflike fontein in die Lasithi-gebergtes bokant die dorpie Tapais in Oostelike Kreta. Die grot was rokerig, trekkerig en klammerig, maar nogtans knussig met gestrooide struikgewas onder die stalaktiete. Die grothuis was tipies van verskeie wegkruipplekke wat verspreid op die eiland geleë was. Elke skuiling het ’n sersant vir seinwerk, ’n klein gevolg van Kretense helpers, en een elk van ’n verspreide handjievol swaar vermomde Britse liaison-amptenare bevat.
Nie een van hierdie Britse liaison-amptenare was beroepsoldate nie. Die enigste ding wat hulle in gemeen gehad het, was ’n paar woordjies klassieke Grieks uit hulle skooldae. Hulle het almal egter groot simpatie gehad vir Griekeland en Kreta, en hulle was diep betrokke, nie slegs by die militêre grootsheid en ellende van die eiland nie, maar, soos die besetting voortgeduur het, ook in elke ander aspek van die lewe daar: die ontruiming van die agtergeblewe verdwaaldes, en (vir opleiding en herontplooiing) van opstandelinge op vlug; om die bedroefdes te probeer help, help met die versameling van inligting oor die vyand, om behulpsaam te wees met kommandostrooptogte, en met die neerlaat van wapens en voorrade, die organisering van verset, en om die geskille tussen leiers te besleg.
Ons het, so te sê, deel van die familie geword. Ons verblyf in die grot was meestal van korte duur. Ons teenwoordigheid daar het ’n ernstige gevaar geskep vir die dorpies wat ons voorsien het van boodskappers, van kos en brandwagte, en ons was dikwels verdryf deur die vyand wat met geweld op ons jag gemaak het. Dit was ’n spel van wegkruipertjie, wat gewoonlik geëindig het in ’n wanordelike wegsluipery na ’n nuwe skuilte in die volgende bergreeks. Ons sou nie ’n dag kon uithou sonder die eilanders se geesdriftige ondersteuning nie. Dit was ’n sentiment wat deur die verskriklike ontberinge van die besetting, die teregstelling van die gyselaars, en die uitwissing en slagting van die dorpies, slegs versterk is.
’n Tyd van bitter weersomstandighede het aangebreek: uitstellings, kansellasies, en mislukte en valse aanvangsreëlings. Nag ná nag, het ek en Sandy met ons groep na die plato gegaan, en weer en weer, het ons die vliegtuig bokant die wolke hoor sirkelvlug, en altyd was dit tevergeefs. Sersant Dilley het permanent voor sy stel gesit en boodskappe van die SOE Hoofkwartiere in Kaïro oorgetik of ontvang. (Kaïro het deksels vêr van ons af gelyk!) Ons ledige ure het ons langs die vuur gelê en sing, en saam met die Kretensers stories vertel terwyl ons die koue weerstaan het met Turkse raki-likeur en wyn. Die papierspeletjies en gepratery het nooit opgehou nie. Dit het geblyk dat daar baie tyd was om ’n snor te kweek, soos een van daardie waarmee al die Kretensers gespog het, en om die gevoel van bergklere weer terug te kry: ’n Kort broek, hoë swart skoene, ’n gedraaide moerbei-syserp; ’n dolk met ’n ivoor handvatsel in ’n lang, silwer skede, ’n swart hemp, blou geborduurde onderbaadjie, en styfpassende swartgesoomde tulbandhoed. Verder, wanneer daar beweeg is, ’n mantel van tuisgespinde bokhaar met ’n wit kap, ’n groot inmekaargedraaide stok, ’n bandelier, en ’n geweer met ’n skouerband – die gepaste verpersoonliking van ’n lang en roekelose tradisie van bergvyandskap, guerrilla en gewapende weerstand teen die Turke. Maar, bowenal, was daar tyd om aan die plan wat gewag het te dink.
Next →
← Previous