Om Hulle Swakhede Weg Te Steek

Posted on March 16, 2017 by Cape Rebel

Uit Bushveld Romance 
deur Herman Charles Bosman

 

Dis ’n vreemde ding – het oom Schalk Laurens opgemerk – hoeveel moeite mense sal doen om hulle swakhede van die wêreld af weg te steek. Dikwels, natuurlik, is dit glad nie eers swakhede nie; dis net dat die mense wat hierdie eienaardighede het, dit nie weet nie. Nog iets wat hulle nie weet nie, is dat die wêreld die hele tyd bewus is van die dinge wat hulle dink hulle wegsteek.

Ek onthou ’n storie wat my oupa lief was om te vertel – oor iets wat gebeur het toe hy ’n seuntjie was. Natuurlik was dit lank gelede. Dit was voor die Groot Trek. Maar dit lyk of daar selfs in daardie dae baie probleme tussen die Boere en die Engelse was. Dit het baie te doene gehad met die slawe. Die Engelse regering wou die slawe vrystel, het my oupa gesê, en een man wat baie prominent was by die vergaderings wat gehou is om daarteen te protesteer, was Gert van Tonder.

Dit was so dat Gert van Tonder ’n baie knap kêrel en ’n goeie spreker was. En hy was dan ook op sy allerbeste wanneer hy oor ’n saak gepraat het waarvan hy niks geweet het nie. Dan het hy baie hard gepraat. Soos jy kan sien, was hy ’n goeie leier.

En so, toe die slawe vrygestel is, en ’n manifesto opgetrek is om aan die koning van Engeland gestuur te word, het die Boere van Graaff-Reinet dit eers na Gert van Tonder toe geneem vir sy handtekening.

Jy kan jou voorstel hoe verras almal was toe hy geweier het om dit te onderteken. Hy het daar gesit met die manifesto voor hom, en die pen in die hand, en hy het gesê dat hy van besluit verander het. Hy het gesê dat hulle miskien ’n bietjie oorhaastig was om aan die koning van Engeland oor so ’n onbelangrike saak te skryf.

“Selfs al is die slawe nou vry,” het hy gesê, “maak dit glad nie saak nie. Laat net een van my slawe optree asof hy vry is. Ek sal hom wys. Laat hy net probeer.”

Die plaasboere het vir Gert van Tonder gesê dat hy heeltemal reg was. Dit het nie regtig saakgemaak of die slawe vry was of nie. Hulle het gesê dat hulle dit reeds geweet het. Maar daar was ’n hele klomp ander griewe in die manifesto, het hulle verduidelik, en hulle wou dit aan die koning van Engeland stuur sodat hy kon weet dat, as die onregte teen hulle nie reggemaak word nie, hulle uit die Kaapkolonie sou wegtrek.

My oupa het altyd gesê dat almal nog meer verbaas was toe Gert van Tonder die pen neergesit het, heel ferm en beslis, en aan die Boere gesê het dat hulle maar kon trek, reg tot aan die anderkant van Afrika vir al wat hy omgee. Hy was heeltemal tevrede met die manier wat die koning van Engeland dinge gedoen het. Gert het gesê dat daar baie omtrent die Engelse bestuur was waarvoor hulle almal dankbaar behoort te wees.

Die uiteinde van al dié gebeure was dat, toe die Boere uit die Kaapkolonie weggetrek het, noorde toe, met hulle swaargelaaide waens, en hulle lang spanne osse, en hulle gewere, Gert van Tonder nie saam met hulle gegaan het nie.

My oupa het dikwels gepraat van hoe ’n nietige ding dit was wat Gert van Tonder daarvan laat weerhou het om in die geskiedenis as een van die leiers van die nasie onthou te word. Dit was alles as gevolg van een swakheid van hom  hy wou nie dat die mense moes weet dat hy nie kon lees of skryf nie.

~

Wanneer ek praat van mense en hulle eienaardighede, laat dit my altyd dink aan Stoffel Lemmer. Hy het ’n heel ander soort swakheid gehad. Wat so eienaardig van Stoffel Lemmer was, was dat as ’n meisie, of ’n vrou, net na hom sou gekyk het, hy seker was dat sy op hom verlief was. En wat dit erger gemaak het, was dat hy nooit die moed gehad het om na die meisie toe te gaan wat hy gedink het met hom ogies gemaak het nie.

’n Verdere vreemde ding van Stoffel Lemmer was dat hy net so verlief op die nooi was as wat hy hom verbeel het sy op hom was.

~

“Ek kon aan die kyk in Minnie Bonthuys se oë sien dat sy lief was vir my, oom Schalk,” het Stoffel Lemmer weer op ’n keer aangegaan, “en op die ferme manier wat sy haar mond toegemaak het wanneer sy my raakgesien het. Dis ’n feit dat ek nie eintlik kan sê dat sy na my gekyk het nie. Dit het alles so vinnig gebeur. Sy het net so ’n vinnige blik in my rigting gegee, en toe die venster toegeklap. Al die meisies wat op my verlief raak, doen dieselfde ding.”

Dit was maar net een voorbeeld van die soort goed wat Stoffel Lemmer aan my vertel het daar waar ons op my stoep gesit het. Dit was meestal in die aande. En dan sou hy in die skemerte uitkyk en sê, dat die skaduwees wat oor die doringbome gelê het, ook in sy hart was. Soos ek vir jou gesê het, ek het hom dikwels presies dieselfde ding hoor sê. Oor ander meisies.

Dit het altyd op dieselfde manier geëindig – met hy wat sê dat dit so ’n droewige ding was dat hy haar nooit sou kon vertel hoe lief hy haar gehad het nie. Hy het ook gesê hoe dankbaar hy was dat hy iemand soos ek gehad het wat na sy treurige storie sou luister, en wat hom verstaan het. Dit het ek ook al voorheen gehoor. Al baiemaal.

Wat vra jy? Het hy haar al ooit vertel? Wel, ek weet nie.

Die laaste keer wat ek Stoffel Lemmer gesien het, was in Zeerust. Dit was voor die kerk, net na die seremonie. En met die vasbeslote uitdrukking wat Minnie nog steeds op haar gesig gehad het toe die huweliksgaste die rys en konfetti oor haar en Stoffel gegooi het – nee, ek dink nie hy het ooit die moed bymekaar geskraap om haar te vertel nie.

Posted in Afrikaans


Next

Previous