Uit Abducting A General
deur Patrick Leigh Fermor
Toe Dick Barnes se boodskapper opgedaag het, het dit geblyk dat hy George Psychoundakis was. George was vir ’n lang ruk eers Xan Fielding se gids en boodskapper, en toe myne, ná ek vir verskeie maande Xan se area oorgeneem het. Hierdie jeugdige, Kim-agtige persoon was almal se gunsteling omrede sy humorsin, sy opgewektheid, sy durf en waagmoed, sy verbeeldingskrag, en bowenal, vir die onvermoeide entoesiasme waarmee hy homself oorgegee het aan sy taak. As daar iemand was wat binne veertig minute ’n gordel om Kreta kon trek, dan was dit hy. George was ’n herderseun uit die groot dorp Asi Gonia. Hy het later ’n merkwaardige boek geskryf wat die hele besetting en die weerstandsbeweging gedek het. Ek het dit uit sy manuskrip vertaal, en dit was met groot sukses onder die titel The Cretan Runner deur John Murray in Londen gepubliseer. Dit is ’n wonderlike boek wat ek sterk aanbeveel vir enigeen wat in hierdie dinge belangstel. Sy weergawe van daardie besondere dae is deurgaans aandoenlik, taamlik lewendig, komies, en altyd waar.
Hierdie buitengewone seun het nie net ’n brief van Dick afgelewer nie, maar met spoed deur die hele Retimo beweeg en ’n hele swerm minder prominente boodskappers tot aksie oorgehaal. Hy het gehelp om oplossings vir baie van ons probleme te kry. Hy het Leftheri Papayanakis van die dorp Akhtounda, wat net aan die binneland van die kus reg suid van ons geleë is, opgespoor. Ek het gehoop dat hy vir ons ’n strand sou kon vind waar daar geen Duitsers was nie – een wat ons kon gebruik om weg te kom. ’n Garnisoen was lank reeds daar by die Preveli-klooster gevestig – maar wat van die grotjie van Karamé op die steil suidelike hang van die Kedros-berg? Leftheri sou vir ons die terrein verken en terug rapporteer.
Vervolgens het George Yanni Katsias, na wie ek gesoek het, gevind en hom ingebring. Hy was groot, gedug, ’n vrybuiter en ’n reus soos ’n Kazantzakis-held wat elke klip, fontein en voetpaadjie in die suidelike omgewing van die berge geken het. Vir jare al was hy pens en pootjies betrokke in die lewe van vetes wat al lank aan die gang was, en het sy lewe lank te doene gehad met stropery in daardie omgewing. Hy was dus ’n veteraan van strooptogte om vee te smokkel. Hy was sonder twyfel die regte man om ons oor die ou versteekte paaie te begelei, en om ons uit die gesig en weg van leed te hou. Behoedsaam en met lang hale het hy oor die heuwels gekom om by ons aan te sluit. Hy was besonder aantreklik en uiters goed gewapend, en ’n tulbandhoed vol swaar fraiings het ’n oortollige skaduwee oor sy gesig, wat nie juis sigbaar was nie, gegooi. Sy grootte en krag was van so ’n aard dat sy geweer wat altyd in sy hand was, en wat hy só ligweg op ’n middelpunt van balans gedra het, dat dit gelyk het of dit ooreengekom het met die omvang en gewig van ’n takkie. Dit was beter om hom as jou vriend te hê as jou vyand, maar gelukkig het ons albei baie van mekaar gehou.
Met groot haas het George toe weer na die noord-weste toe vertrek, na die skeur by Dryade waar die draadloosstel was. Hy het die volgende oggend met Dick Barnes, die einste hy, teruggekeer. Dick het deur en deur soos ’n ware Kretenser gelyk, van sy stewels af tot by sy kopdoek en wol skouermantel. Ek was bevrees dat dieselfde probleme oor vervoer hom sou verhoed het om die draadloosstel nader te bring terwyl alles nog so deurmekaar was. Hy sou ook vir ’n dag van die lug af moes gaan net toe ons dit die nodigste sou gehad het. Heelwat beter om dit in situ te los met die “Changebug” (George) wat heen en weer soos Ariel kon vlieg. As daar geen strand reg suid van ons geskik sou wees nie, was hy – anders as Ralph – ten gunste daarvan om iets in die Rodakino area, ’n afstand van omtrent drie dae se loop weswaarts, in te rig.
~
Hierdie reünie met Dick – soos heelwat ander geleenthede in die besette Kreta toe mens nie eintlik besig was om die vyand te ontwyk het nie – het die verskoning geword vir ’n matige fuifparty. In sy boek het George Psychoundakis dit so beskryf:
“Ek en mnr. Pavlo het na Yeni toe gegaan waar ons mnr. Mihali” (dis nou ek) “en oom Yanni Katsias raakgeloop het. Ons het daar gesit tot dit aand geword het en die son ondergegaan het. Yanni het ons na die oostekant van die dorp geneem waar hulle vir ons kos en bobaas wyn gebring het, en ons Keph (ons welsyn en samesyn) was uitstekend. Die vier van ons was gou besig om te sing. Mnr. Mihali het ’n koeplet, op die wysie van Pentozali, oor ’n skaapstelery gesing. Dit het so geklink:
Ag, peetbroer, die nag was donker
Vir ’n lam en bok en ’n ooi, Meneer.
Maar toe ons die brandmerk gesien het,
Het ons net die ram gesteel, Meneer.
Die ram – die hoof (die leier) van die trop – verwys na die generaal. Dit was ’n koeplet wat hy op die styl van die ou Kretense mantinada opgemaak het. Dit lui as volg:
Ag peetbroer, ons kon nie sien nie
Die nag was swart en vuil,
Maar toe ons die brandmerk gesien het,
Is net dertig deur ons vasgelê.”
(Dit is ’n satiriese koeplet oor ’n skaapdief wat skielik uitgevind het dat die diere wat hy van plan was om te gaps, aan sy peetbroer behoort het. Maar toe hy sy peetbroer se brandmerk sien, het hy net dertig gevat in plaas van die hele trop.)
Yanni het dié middag ’n yslike groot haas platgetrek wat hy met olie en uie gaargemaak het. Hy het baie geheg geraak aan die “Changebug”, wat op ’n slag sy twee klein kindertjies gered het, toe die Duitsers ’n paar maande vroeër die dorp aan die brand gesteek het. Hy het met hulle dwarsoor ’n hele bergreeks gehardloop terwyl hy hulle op sy rug geabba het. Ons het tot laat in die maanlig gesit en die karba geledig. Dit was presies wat ons nodig gehad het om die spanning en angs van die situasie te vergeet. George het met die nuus teruggekeer dat dit alles goed verloop het met die ander span. Vir die eerste keer in baie nagte het ek goed geslaap, hoewel ek vaagweg steeds gedink het oor die problematiese aankoms van die boot, maar, te danke aan daardie besonderse wyn, was dit vêr verwyderd. (Dis my genot op ’n helder nag, en die seine is Monkey King). Die volgende dag het Dick en George Psychoundakis teruggekeer na hulle lêplek toe.
Uitstekende kommunikasie is toe bewerkstellig. Gedurende die nag van die 7de het die groep met die generaal gemaklik na Patsos toe geloop. Dit was net twee of drie ure van my af. George Harocopos en sy familie het hulle kos gegee en opgepas. (George, ’n bedagsame en belese kêrel wat later ’n begaafde joernalis geword het, was die seun van ’n baie arm, maar uiters dapper en goedhartige familie. Hulle was almal groot weldoeners vir die swerwende Britte.)
Alles het volgens plan verloop – as die nuus van die kus af tog net goeie nuus kan wees.
Next →
← Previous