Niks kon my gelukkiger gemaak het nie, as toe ek aan land gegaan het ná ek die grootse struikelblokke om te ontsnap, te bowe gekom het. Ek was toe binne bereik van die bystand en ondersteuning van my familie en vriende in Edinburgh. Dit was egter nie sonder heelwat pyn en swaarkry nie, dat ek daarin geslaag het om oor te steek – die toestand van my hande was nou amper so erg soos dié van my voete tien dae tevore: hulle was heelwat geswel en het baie gebloei. Maar dit het my nie veel gepla dat my hande vir ’n paar dae onbruikbaar was nie, want daar sou nie veel geleentheid wees om hulle te gebruik nie, en my voete het nou mooi genees. Na ek omtrent ’n afstand van ’n geweerskoot van Prestonpans af geland het – waar ons so ’n briljante oorwinning oor die Engelse behaal het – kon ek dit nie waag om voor donker Edinburgh te nader nie. Ek het toe besluit om die hele dag op die slagveld deur te bring om my gemoed ’n bietjie te kalmeer, en om die ellende van my lotgevalle te lenig deur oor die verlede te peins.
Hierdie plek het ’n treffende simbool verteenwoordig van die wisselvalligheid van die wedervaringe waaraan ons mense onderworpe is. Ek het my situasie op daardie glorieryke dag – toe ek as aide-de-camp vir die prins gedien het en oral heen met sy opdragte geskarrel het en in bevel was van dertienhonderd Engelse gevangenes – met my teenwoordige toestand vergelyk. Nou was ek in vodde geklee om die skavot te ontsnap en oorstelp deur probleme en angs. My enigste vertroosting het gelê in die hoop om na ’n vreemde land te ontsnap en, meegaande daarmee, om die land van my geboorte en my familie en vriende vaarwel toe te roep. Hoe skril was die kontras.
Ek kon nie help om te dink dat die voorsienigheid omstandighede so geskik het dat ek naby die velde van Prestonpans moes land – deurdat die uitgaande gety ons so ver oos laat vaar het – eerder as in die omgewing van Leith waar ons beplan het om te land, sodat die lesse ’n onuitwisbaar stempel op my gees moes maak om nooit weer uitgewis te word nie. Ek sou dit so geniet het om sommige van die prins se uitverkore vriende te sien – daardie aan wie vroeër vernaamheid geskenk is as gevolg van hulle begunstigde posisies, en wat hulle toe so onbeskof, hooghartig en voorbarig gemaak het. Ek kon my voorstel as ek hulle nou kon sien – gemeen en kruiperig soos knegte in ons veranderde omstandighede. Ek het inderdaad sommige van hulle sederdien gesien, en gevind dat my vermoedens nie verkeerd was nie. Hulle optrede was presies wat ek verwag het.
Die onbestendigheid van geluk behoort mense die noodsaaklikheid van die instandhouding van ’n koersvaste karakter te leer. As ons onsself nie toelaat om deur welvaart verwaand te raak nie, maar om ons lewenswyse te bestuur deur altyd beskeie en nederig te wees, sal ons nie ontmoedig of onderworpe in teenspoed wees nie. Arrogansie en ydelheid is onfeilbare tekens van kleingeestigheid, en dit slaag altyd daarin om te ontaard, wanneer die geluksgodin haar rug op jou draai, in die gemeenste kruiperigheid. ’n Nederige, saggeaarde en weldadige mens sal nooit homself toelaat om so laag te daal nie. Wat ook al die veranderinge in sy geluk mag wees, en hoe hoog die verhewendheid van waar hy geval het ook al gewees het, sy teenspoed sal altyd vergesel wees deur die agting en simpatie van goeie mense, en die openbare mening sal altyd ten gunste van hom wees.
Daar waar ek oor die slagveld gestap het, het elke tree ’n besonder aspek van die geveg in herinnering geroep. Toe ek die plek bereik het waar ek gesien het hoe tagtig Hooglanders dertienhonderd Engelse prisoniers bewaak, het ek gaan sit om iets te eet, en my brood en kaas en ’n bottel Canary-wyn wat mnr. Seton op my afgedwing het met ons afskeid, uitgehaal. Die herinnering aan daardie roemryke en ondenkbare oorwinning wat ons op daardie plek behaal het, het bygedra tot my groot blydskap om oor hierdie gedeelte van die see te wees.
Omdat ek bang was dat ek herken sou word as ek reguit Edinburgh toe sou gaan, het ek besluit om skuiling in die huis van my ou goewernante, mev. Blythe, in Leith te soek. Sy het vir twee en twintig jaar in my ma se diens gestaan, met die spesifieke taak om my te versorg nadat sy my van my verpleegster ontvang het toe ek maar nog net twaalf maande oud was.
Die probleme, las en ongerief wat sy gedurigdeur met my in my jeug te doene gehad het, was in die eerste plek gevaarlike siektes, en toe ook my driftige, voortvarende en onbesonne karakter wat ek in gemeen gehad het met ander enigste seuns. Dit het egter eenvoudig net gedien om haar vriendelikheid en liefde vir my te verhoog. Sy het my so liefgehad asof ek haar eie kind was. Mnr. Blythe, wat baie ryk en die eienaar van ’n klein kusvaarder was, het tot haar aangetrokke gevoel toe sy vyftig jaar oud was, en het aangebied om met haar te trou. Dié huweliksaanbod was te voordelig vir Margaret om te huiwer om dit te aanvaar. Dit was reeds drie jaar sedert sy ons huis verlaat het om by haar man in Leith te gaan bly, en hulle was baie gelukkig saam. Blythe was ’n Calvinis en ’n geswore vyand van die huis van Stuart, maar hy was ’n deugsame man en ek het niks te vrese van hom gehad nie. Daarom het ek Prestonpans voor sononder verlaat om sy huis in Leith ná donker te bereik.
Next →
← Previous