Uit Abducting A General
deur Patrick Leigh Fermor
“Wel, Herr Major, hoe vorder die planne vir ons vertrek?” Teen dié tyd het die generaal net so besorg oor die sukses van ons verkassing geword soos ons.
“Wunderbar, Herr General!” Ons is besig om te vertrek!”
Dit was waar. Die opdrag dat ons die wyk gaan neem, of die belofte daarvan, het ons bereik. Die Duitse dryfjag deur die Asi Gonia-gebergtes het vir Dennis ondergrond gedwing en sy stel vir ’n oomblik van die lug afgehaal. Maar boodskappe vanuit Kaїro is nou na alle stasies toe uitgesaai, en toe die groot nuus deurgekom het, het Dick homself, toe hy van ons plaaslike probleme te hore gekom het, dwarsoor die grote Retimo gesnel, en ons neerslagtige grot lank ná sononder bereik. Die boot sou ’n kus naby Rodakino teen 22h00 uur op die nag van 14 en 15 Mei bereik – “10 uur môreaand!” Dit was presies ’n dag van nou af. Ons sou net daarin slaag om die afspraak na te kom.
Die taak was om die hoofgroep onder die beskerming van die donkerte by die kus te kry. Ek het Billy saam met George en die ander kêrels, en Yanni Katsias en sy twee wilde seuns, vooruitgestuur. Hulle sou ’n kortpad volg wat hulle teen dagbreek by ’n plek sou bring waar hulle vir ons kon wag. Ek en die generaal en Manoli sou ’n heel veiliger en heelwat langer roete volg, waar die berge so steil en verlate was, dat, met ’n klomp verkenners op die uitkyk, ons gedurende die dag sonder veel gevaar sou kon beweeg. Ongelukkig was dit te steil en ongelyk vir ’n muil, en die generaal sou dus te voet moes aanstoot. Maar die lug was skoon en daar sou ’n helder maan en sterlig wees. Yanni sou die spanne van Rodakino waarsku dat ons van plan was om koers berge toe te kies, en party van hulle vra om ons tegemoet te kom.
Dalk ondersteun deur die gedagte dat hy aan die einde van sy beproewing kom, het die generaal hierdie via crucis amper sonder ’n kreun of ’n gesug aangepak. Bygestaan deur my en Manoli wanneer hy gestruikel het en dan ook deur die guerrillas wat soos spoke uit die duisternis geglinster het, het hy oor die landskap in ’n soort van beswyming beweeg. Maar hoe pynigend ons reis ook al was, het die glans van die maan met sy ondergang en die volle prag van die sterre wat amper net so helder was, die kabaal van rotse getemper. En dan deur ’n planetêre patroon in samewerking met die optiese truuks waar dit, op sekere oomblikke, gelyk het of Kreta daaruit saamgestel is – dit behels gemanipuleerde weerkaatsing en fokus, levitasie, meetkundige verskuiwings en ’n versmelting van vaste stowwe gebalanseerd deur ’n verharding van skaduwees – volgemaak deur die holte, dan poreus en uiteindelik deursigtige eiland onder jou voete met eienskappe van die maan en sterre en gestut deur verskeie myle, terselfdertyd, met bewegings so stil soos ’n openingskuif gevolg deur opmarse van die ridders en lopers, vinnig en stilletjies soos ouma se voetstappies, wat lei tot ’n voorlaaste rokade en ’n skielike skitterende skaakmat en al die bergpieke van Kreta word binne raakafstand hergroepeer. Die valleie en die voorheuwels het weggeval uit hierdie drywende driehoeke. Hulle het in die windlose koue sterlig gedryf met die bleekheid, afwisselend volgens hulle afstande, van ys en ivoor.
Die son het sy kop agter Ida-berg uitgesteek en, teen die tyd wat dit op was, het daar omtrent twintig guerrillas sag en gedemp langs ons beweeg. Hulle was almal van die Rodakiniot-span van die Kapitans Yanna, Kotsiphis en Khombitis. Net soos ’n klomp van hulle manskappe, was hierdie van my ou vriende sedert my tyd in hulle omgewing, maar ek het meeste van hulle vir ’n jaar en ’n half nog nie weer gesien nie.
’n Paar uur later het ons afgekyk na die punt waarbinne die Duitsers gelewe het – stewig beskerm deur ’n doringdraadheining om die perimeter. Gelukkig was hulle omtrent twee myl weg van ons voorgenome vertrekpunt af. (Ons skof, tot waar ons in die middel van die oggend met Billy se groep verenig is, het dertien uur geneem. Dit was as ’n groot kordaatstuk beskou.) Billy en die ander het by ons afgesproke plek – ’n uitsteeksel van die berge met ’n uitsig oor die hele kus – net voor dagbreek bereik. Daar was ’n gevoel van groot opwinding in die lug. Die hoofmag van die vyand was ’n myl verder wes. Ons het die buitepos hier direk onder ons dopgehou terwyl hulle in hulle kamp met die normale garnisoentake rondbeweeg het. Skielik het dit gelyk asof hulle gehardloop het om in ’n oop gedeelte in ’n lang uitgerekte tou, wat aan die anderkant minder geword het, te gaan staan. Ek het Minoli vir die verkyker gevra. Hy het daardeur gekyk, gelag, en dit aan my gegee. Billy het syne verstel en toe ons gesien het dat hulle hasieoorspring gespeel het, het ons altwee sommer aan die sing gegaan. Die generaal het vir ’n hele ruk na hulle gekyk en toe die verkyker, met een van sy diep sugte, teruggegee. Ek dink nie hy het daaraan gedink om gered te word nie. Dit was nou te laat. Met al daardie swart geklede guerrillas wat daar gelê en rook het, en stilweg met mekaar daar tussen die rotse gesels het, met hulle gewere langs hulle, was dit ’n te vêr verwyderde moontlikheid. Ek dink die sug en die gelate glimlag en die skouerophaling wat daarop gevolg het, het beteken dat daardie klein figuurtjies daaronder die laaste van die Duitse weermag was wat hy sou sien tot die oorlog verby was. Sonder sarkasme het hy gesê: “Julle voel seker baie gelukkig en tevrede.”
Maar dit was nie só nie, nie heeltemal nie. Beide ek en Billy het gevoel dat dit hierdie keer reg sou verloop. Ons was trots op die Rodakino-kapteins: lank voor ons die skip verwag het, sou daar tagtig ofhonderd goed gewapende manne in die berge wees. Sou daar op die laaste oomblik probleme ontstaan, sou hulle die passe na die binneland sluit, en langs die berghange afstroom. Dit was vir hulle moontlik om daardie smal Thermopylean-deurgange tussen die see en die berge teen ’n hele regiment te behou.
Maar dit is altyd moeilik om Kreta te verlaat.
En die Kretensers? In hierdie weergawe was daar meer as net ’n sinspeling van hulle goedheid en vrygewigheid, en dat dit daardie aspek van die Kretaanse lewe was wat skielik die frase “Gewapende Broederskap” soveel betekenis gegee het.
Maar daar was ’n ander kant aan die Kretensers waarvoor daar glad nie ruimte in hierdie vertelling was nie, en wat mens weet wat jy die meeste sou mis: Die flair vir vriendskap, vir saamwees, om te gesels, genot en musiek, oorspronklikheid en vindingrykheid wanneer daar gepraat word, en ’n enorme lewenskrag wat homself skynbaar herlaai uit die stroomspanning in die lug. Dit was ook te danke aan die lug dat hulle die kapasiteit gehad het om verskeie bergreekse te oorkruis teen dieselfde weerligspoed op ’n leëmaag nadat hulle genoeg raki en wyn weggesluk het wat enige ander sterwelinge vir ’n week lank lam sou gemaak het. Hoe hulle na jou gekyk het en hoe hulle gepraat het was in gelyke mate onopgesmuk. Daar was iets wat beide aristokraties en boheems in hulle houding teenoor die lewe was, en hulle humorsin was ’n draad wat deur alles geloop het – nie ligsinnig nie, liewer uit gelatenheid as dinge sleg verloop het – om enigiets wat te sentimenteel of te retories was en wat te ernstig geword het, weg te vee. Balhorig teenoor amptelike onderdrukking, hulle sou alles prysgee vir die abstrakte idees waarom hulle lewens gedraai het.
Op ’n manier was hulle gereed vir alles wat besig was om te gebeur. Hulle het grootgeword met die geweer in die hand, en met tradisies van om te veg teen besetting. Hulle het alles geweet oor die koste van ’n huweliksfees. Selfs al sou die hele plek afbrand, het hulle geweet hulle sou aan die einde die oorwinnaars wees – as dit nie dié keer sou wees nie, dan die volgende keer.
Wanneer hulle in skaapkrale en grotte geëet en gedrink het, was dit met die doel om reguit te wees dat hulle ’n kamma-heroïese, en amper lelike, toon aangeneem het wanneer hulle hul glase teen mekaar laat klink het en gesê het: “Mag ons sterf met eer!” Maar hulle het dit bedoel, en hulle het met eer gesterf.
Teen die einde het die opwinding aan die gedagte om die generaal van die eiland af te kry, en om uiteindelik bevry te kon wees van die gevaar van ’n ramp of mislukking (en minder waarskynlik, van bruta figura) het ons almal in sy greep gehad. In elk geval, hierdie keer sou al die betrokkenes, behalwe Grigori en Antoni Zoidakis, ook daar wees. Dit was hulle aan wie ek gedink het en wat ek die meeste sou mis.
Hulle was totaal verhewe bo lofprysing en, van al die deelnemers, voor en na die gevangeneming, wat ons van hand tot hand aangegee het, soos ’n plofstof-en-brandbom-staffie in ’n afloswedren, oor ’n dosyn bergreekse, wat vir twee en twintig, en daarná sewentien, dae geduur het, hulle hulp was oombliklik, entoesiasties en volkome, sonder ’n sprankie wankelmoedigheid of twyfel.
Next →
← Previous