Nie ’n konvensionele soldaat nie

Posted on March 30, 2020 by Cape Rebel

Klik op die beeld om na die podgooi te luister

Uit SAS: Rogue Heroes, The Authorised Wartime History
deur Ben MacIntyre

 

Vyf maande voor Operasie Squatter, het ’n lang, uitgeteerde soldaat knorrig en onbeweeglik in ’n hospitaalbed in Kaïro gelê. Die vyf-en-twintigjarige offisier is op 15 Junie 1941 na die Skotse Militêre Hospitaal gebring, lam van die onderlyf af. ’n Brief aan sy ma van die ministerie van oorlog af, het gelui dat hy gely het aan “’n kneusing van sy rug as gevolg van vyandige optrede”.

Streng gesproke was dit nie die waarheid nie. Die beseerde soldaat het die vyand nog glad nie onder oë gehad nie: hy het uit ’n vliegtuig gespring, sonder ’n skuthelm of ordentlike opleiding, sy valskerm aan die stertvin geskeer en grondwaarts geval teen dubbel die aanbevole spoed. Die impak het hom bewusteloos gemoker en sy rugstring sleg beseer, en hom tydelik blind en sonder enige gevoel in sy bene gelaat. Die dokters was bevrees dat hy nie weer sou kon loop nie.

Selfs voor die valskermongeluk, was dié offisier se bydrae tot die oorlogspoging minimaal: hy het tekortgeskiet aan die mees basiese militêre dissipline, kon nie reguit marsjeer nie en was so lui dat sy kamerade hom die bynaam die “Giant Sloth” gegee het. Sedert hy na Egipte saam met die Britse kommando magte gestuur is, het hy baie van sy tyd in Kaïro se kroeë en klubs deurgebring, of by die renbane gedobbel. Die verpleegsters by die hospitaal het hom goed geken, want hy het dikwels in die oggende, bleek en lewergepla, ingeloer om ’n skoot uit die suurstofbottel aan te vra om sy babelas te help genees. Voordat sy valskermsprong hom in die hospitaal laat beland het, is hy ondersoek om vas te stel of hy voorgegee het en of hy voor die krygshof gedaag behoort te word. Sy mede-offisiere het hom sjarmant en amusant gevind terwyl sy senior bevelvoerders hom tot ’n groot mate beskou het as voorbarig, onbevoeg en deur en deur irriterend. Ná hy die offisiersopleiding voltooi het, het hy ’n kortaf taksering ontvang: “onverantwoordelik en nie merkwaardig nie”.

Luitenant David Sterling van die Scots Guards was nie ’n konvensionele soldaat nie.

Die skrywer, Evelyn Waugh, ’n mede-offisier in die kommando-weermag, het Stirling omtrent drie weke ná sy opname in die hospitaal besoek. Waugh was verkeerdelik deur die matrone ingelig dat een van Stirling se bene reeds geamputeer was, en dat hy moontlik ook die ander een kon verloor. “Ek kan niks voel nie,” het Stirling sy vriend vertel. Verleë en ongemaklik, soos die Engelse maar geneig is om te wees wanneer hulle hul te midde van gestremdheid en liggaamsgebrek bevind, het Waugh, sittende op die kant van die bed, voortgeborduur met niksseggende geklets en opsetlik die onderwerp van sy vriend se verlamming vermy. Hy het egter so af en toe onderlangs geblik na waar Stirling se oorblywende been behoort te wees, en wanneer hy dit gedoen het, het Stirling met ’n uiterse poging die groottoon van sy regtervoet gewikkel. Uiteindelik het Waugh besef dat hy besig was om geterg te word, en het Stirling sommer toe met ’n kussing bygedam.

“Jou swernoot, Stirling, wanneer het dit gebeur?”

“Minute voor jy hier opgedaag het. Dis ’n bietjie moeilik, maar dis ’n begin”.

Stirling het die gebruik van sy bene teruggekry. Ander mense mag van blydskap gehuil het; vir Stirling egter, was die eerste teken van herstel ’n uitstekende geleentheid om ’n poets te bak op een van Brittanje se grootste romanskrywers.

Dit het twee of meer weke geneem voor Stirling weer regop kon staan, en verder nog ’n hele paar voor hy in staat was om rond te strompel. Maar gedurende daardie twee maande van verpligte onaktiwiteit, het hy ’n klomp dinkwerk gedoen – iets wat, ten spyte van sy reputasie as ’n nuttelose slenteraar, hy nogal goed kon doen.

Die kommando’s was veronderstel om Brittanje se stormtroepe te wees, uitgesoekte vrywilligers opgelei om vernietigende strooptogte teen die teikens van die vyand uit te voer. Eerste Minister Winston Churchill het besluit dat die ideale teater waarin die kommando’s ontplooi moes word, Noord-Afrika moes wees, waar hulle strooptogte vanuit die see teen vyandelike basisse langs die Middelandse see se kus kon uitvoer.

In Stirling se ongevraagde opinie, het die konsep glad nie gewerk nie. Die kommando’s was die meeste van die tyd onaktief terwyl hulle gewag het op ’n bevel vir ’n groot aanslag, wat nooit gekom het nie. Op seldsame geleenthede was hulle ontplooi, maar die resultate was teleurstellend. Die Duitse en Italiaanse troepe het verwag om definitief vanuit die see aangeval te word, en hulle was voorbereid en wagtende daarop. Die magte van die kommando’s was eenvoudig net te groot en te lomp om ’n aanval te loods sonder om opgemerk te word; die verrassingselement was dadelik verlore.

Maar wat, het Stirling gewonder, as die strydende troepe van die teenoorgestelde rigting aanval? Na die suide toe, tussen Egipte en Libië, lê die Groot Sandsee, ’n eindelose, waterlose sandvlakte van onafgebroke duine wat 45,000 vierkante myl gedek het. As een van die mees onherbergsame plekke op aarde, was die woestyn deur die Duitsers beskou as feitlik onbegaanbaar, ’n natuurlike versperring, en dus het hulle dit grootliks onbeskermend gelaat, en geheel en al ongepatrolleerd. “Dis een see hierdie wat die Hunne nie dophou nie,” het Stirling gepeins. As mobiele spanne van hoogs opgeleide manskappe, die vyand in die nag vanuit die woestynflank kon infiltreer, sou hulle in staat wees om lughawens, voorraaddepots, kommunikasieskakels, spoorweë en paaie te sabotteer, en om dan terug te glip om in die leegheid van die see van sand omhels te word. ’n Kommando met ’n mag van ’n paar honderd man kon slegs een teiken op ’n slag aanval; maar ’n aantal kleiner eenhede wat vinnig beweeg, skielik stroop en dan weer gou terugtrek, kon ’n groot aantal teikens gelyktydig vernietig. Die geleentheid om die vyand van agter aan te val, wanneer hy dit die minste verwag, is die droom van elke generaal. Die besondere geografie van Noord-Afrika bied presies so ’n moontlikheid aan, het Stirling gedink toe hy half lam in sy hospitaalbed gelê en probeer het om sy tone te beweeg.

Stirling se idee was meer wensdenkery as vernuf; dit het nie gekom ná lang ure van nadenke of studie nie, maar van uiterste verveling gedurende sy hersteltyd. Dit was gebaseer op intuïsie, verbeelding en selfvertroue, waarvan Stirling baie gehad het, eerder as ervaring van woestynoorlogvoering, waarvan hy niks gehad het nie.

Maar dit was ’n geïnspireerde idee, die soort van idee wat net by iemand so vreemd en merkwaardig as Archibald David Stirling kon opkom.


Next

Previous