Net soos ’n Mchopi boodskapper

Posted on December 04, 2018 by Cape Rebel


Uit “The Budget”

In Jurie Steyn’s Post Office
deur Herman Charles Bosman

Ons het op Drogevlei in Jurie Steyn se voorkamer gesit en wag op die regeringslorrie van Bekkersdal af om ons briewe en leë melkkanne te bring. Jurie Steyn se voorkamer het jare al gedien as die Drogevleise poskantoor, en Jurie Steyn was die posmeester. Sy klag was dat die poskantoor nie lonend was nie. Dit het hom nie betaal nie, het hy gesê, om van sy lande af weggeroep te word elke keer as iemand vir ’n pennieseël daar aangekom het. En wat meer is – Gysbert van Tonder kon na willekeur reg by sy voorkamer instap – nogal sonder om te klop. Gysbert van Tonder was Jurie Steyn se buurman, en Jurie Steyn was natuurlik nie op goeie voet met hom nie sedert die tyd toe Gysbert van Tonder die vrederegter, en ’n landmeter, en ’n polisieman op ’n skimmelperd gekry het om aan Jurie Steyn te verduidelik aan watter kant van die vlei die grensdraad geloop het.

Wat Jurie Steyn bietjie bevrediging gegee het, het hy gesê, was die feit dat sy poskantoor ook nie vir die regering lonend kon wees nie.

“Miskien sal dit nou beter betaal,” het At Naudé gesê. “Nou dat jy meer vir seëls kan vra, bedoel ek.”

At Naudé het ’n draadloos besit, en was daarom altyd eerste met die nuus. En erger nog, At Naudé het daardie opmerking ietwat smalend gemaak.

Verstaan nou, Jurie Steyn was op sy manier snaaks. Hy het nie omgegee wat hyself oor sy poskantoor gesê het nie. Maar hy was nie te vinde vir swak-ingeligte kritiek wat hy soms van mense ontvang het wat geen idee gehad het hoe veeleisend ’n posmeester se pligte was nie.

Ek kan nog steeds sommige van die dinge onthou wat Jurie Steyn aan ’n vreemdeling wat eendag daar vir ’n halfkroon-posorder ingeloop het, gesê het – toe Jurie Steyn besig was met die roomafskeier. Die vreemdeling het iets van die karringmelkvlekke op die posordervorm, wat die ink in ’n blou klad laat loop het toe hy probeer het om die vorm in te vul, te sê gehad. Dit was toe dat Jurie Steyn die vreemdeling gevra het of hy gedink het dat Marico-karringmelk nie goed genoeg was vir hom nie, en wat hy verwag het om vir ’n halfkroon te kry. Jurie Steyn het toe ook begin om van agter die toonbank uit te loop, sodat hy beter aan die vreemdeling kon verduidelik wat ’n mens in die Bosveld vir heelwat minder as ’n halfkroon kon kry. Ongelukkig kon die vreemdeling nie wag om dit te hoor nie. Hy het gesê dat hy sy motor laat luier het terwyl hy by die poskantoor ingestap het.

Daaruit het dit geblyk dat hy nie so ’n algehele vreemdeling was wat betref die manier van doen in die Marico nie.

~

Nou, aangaande At Naudé se opmerking egter, kon ons sien dat Jurie Steyn dit sou verkies het om dit te laat verbygaan. Hy het ’n dik boek met ’n swart omslag uitgehaal en, op ’n soort van belangrike manier, begin om lyste met ’n potlood af te merk. Maar die hele tyd kon ons van die bitterheid teenoor At Naudé wat in hom opgewel het, gewaarword. En toe die punt van die potlood gebreek het, kon Jurie Steyn dit nie langer uithou nie.

“In elk geval, At,” het hy gesê, “selfs twee pennies vir ’n halwe ons is goedkoper as om ’n Mchopi-boodskapper te kry om ’n brief op ’n lang stok met ’n spleet aan die een end te dra. Maar natuurlik sal jy nie dinge soos vooruitgang verstaan nie.”

Jurie Steyn moes dit nie gesê het nie. Dadelik wou drie of vier van ons terselfdertyd begin praat.

“Miskien goedkoper,” het Johnny Coen gesê, “maar nie beter, of vinniger … of … of … of skoner nie.” Johnny Coen het amper gestik van die lag. Hy het gedink hy was baie slim.

Intussen het Chris Welman probeer om ’n storie te vertel wat ons voorheen al baie van hom gehoor het, oor ’n brief wat gedurende kerstyd in Volksrust gepos is en wat agt en twintig jaar later op Dingaansdag by sy bestemming, Magoebaskloof, aangekom het.

“As dit ’n Mchopi-boodskapper agt en twintig jaar geneem het van Volksrust na Magoebaskloof toe,” het Chris Welman gesê, “sou ons geweet het dat hy nie te veel gehardloop het nie. Hy moes ten minste een of twee keer gestop het, by hutte langs die pad, vir ’n bietjie tuisgebroude bier.”

~

Intussen het oupa Sarel Bekker, wat een van die oudste inwoners in die Marico was, en wat Bekkersdal geken het voordat dit selfs ’n ordentlik afgemete plaas was, begin om aan die geselskap deel te neem. Maar omdat oupa Bekker ’n bietjie doof was, en ietwat kens as gevolg van sy gevorderde ouderdom, het hy gedink ons het gesê dat Jurie Steyn met die gemaakte pad langs gehardloop het terwyl hy ’n brief in ’n spleetstok gedra het. Gevolglik het oupa Bekker vir Jurie Steyn gewaarsku om versigtig te wees vir mambas. Daardie tyd van die jaar was die kloof vol bruin mambas, het oupa Bekker gesê.

~

Oupa Bekker was nog steeds besig om oor die maatreëls te praat wat hy in die vroeë dae van die Republiek van Orighstad ingestel het om inflasie te bekamp, toe die lorrie van Bekkersdal af in ’n stofwolk daar opgedaag het. Die volgende paar minute is in beslag geneem deur die gejaagde uitsortering van briewe en pakkies, wat alles plaasgevind het teen die agtergrondlawaai van klinkende melkkanne. Oupa Bekker het vertrek toe die lorrie daar aangekom het, aangesien hy nóg korrespondensie nóg ’n melkkan verwag het. Die lorriedrywer en sy assistent het op die riempiesbank wat die ou man ontruim het, gaan sit, en Jurie Steyn se vrou het vir hulle koffie gebring.

“Jy weet,” het Jurie Steyn vir Chris Welman gesê terwyl hy al pratende seëllak op ’n brief wat hy vir die possak voorberei het, gesit het. “Ek het al baie gewonder wat van oupa Bekker gaan word – so ’n ou man en alles, en nog steeds so ’n leuenaar. Al daai minister van finansies-gemors van hom. Hoe hulle hom ooit as ouderling in die kerk aangestel het, weet ek nie. Ek meen, wat ek bedoel, hy kon onmoontlik gebore gewees het in die tyd van die Republiek van Orighstad nie.” Jurie Steyn het vir ’n paar oomblikke daaroor nagedink. “Of kon hy?”

“Ek weet nie,” het Chris Welman heel eerlik geantwoord.

’n Rukkie daarna het die lorriedrywer en sy assistant vertrek. Ons het gehoor hoe hulle water in die verkoeler gesit het. ’n Ruk later het ons gehoor hoe hulle die masjien aangeskakel het, met ’n lawaai, en die drywer het ’n hele paar knope so in sy allenigheid gelos.

Dit was toe die lorrie reeds aan die wegbeweeg was dat Jurie Steyn onthou het van die geregistreerde brief wat hy verseël het. Hy het die brief gegryp, en met een groot sprong was hy oor die toonbank.

Chris Welman het hom na die deur toe gevolg. Hy het Jurie Steyn vir ’n hele entjie dopgehou soos hy in die son agter die lorrie aangenael en geskree het, en met die brief voor hom gewaai het – al springende oor die doringbossies.

“Net soos ’n Mchopi-boodskapper,” het Chris Welman gesê.


Next

Previous