Om 7:00 nm op 6 Maart 1967 het ’n taxi voor die oop hekke van die Amerikaanse Ambassade in Shantipath-rylaan in New Delhi aangekom. Onder die wakende oog van die Indiese polisiewag het dit stadig met die sirkellaan aangery. Die passasier op die agterste sitplek het uitgekyk na die groot weerkaatsende poel, rustig in die lig wat verdof het.
~
Svetlana Alliluyeva het met die breë trappies opgeklim en na die Amerikaanse arend, vasgelê in die glasdeure, gestaar. Al die belangrike besluite in haar lewe is halsoorkop geneem. Ná sy oor die drumpel getree het, het sy geweet dat haar vorige lewe onherroeplik verby was. Sy het sonder twyfel geweet dat dit die toorn van die Kremlin op die hals sou haal. Sy was uitdagend. Sy was vreesbevange. Sy het die belangrikste besluit van haar hele lewe geneem; sy het ontsnap, maar wat op haar gewag het, het sy geen idee van gehad nie. Sy het nie gehuiwer nie. Met haar klein tassie stewig vas in die een hand, het sy die deurklokkie gelui.
Danny Wall, die marienewag op toonbankdiens, het die deur oopgemaak. Hy het op die klein vroutjie wat voor hom gestaan het, afgekyk. Sy was middeljarig, netjies aangetrek en onopvallend. Hy het op die punt gestaan om aan haar te sê dat die ambassade toe was, toe sy hom haar paspoort gegee het. Hy het verbleek. Hy het die deur agter haar gesluit en haar na ’n kamertjie langsaan geneem. Toe het hy vir Robert Rayle, die ondersekretaris van die ambassade, gebel. Hy was in beheer van renegate – oorlopers. Rayle was nie tuis nie, maar binne ’n paar minute het hy teruggebel. Wall het hom die geheime kode gegee wat aangedui het dat daar ’n Sowjet-oorloper by hom was – dit was die laaste ding wat Rayle op daardie stil Maandagaand in die hoofstad van Indië verwag het.
Toe Rayle om 7:25 daar aangekom het, is ’n kamer aan hom uitgewys waar ’n vrou met George Huey, die konsul, gesels het. Sy het omgedraai toe hy ingestap het, en omtrent die eerste ding wat sy aan hom gesê het, was: “Wel, jy sal dit seker nie glo nie, maar ek is Stalin se dogter.”
Rayle het na die ingetoë, aanvallige vrou met koperkleurige hare en ligte blou oë gekyk, terwyl sy hom kalm aangekyk het. Sy het glad nie ingepas by sy beeld van Stalin se dogter nie, hoewel hy nie sou kon sê wat daardie beeld was nie. Sy het haar Sowjet-paspoort oorhandig. Hy het vlugtig daarna gekyk en haar naam gesien: Vroulike burger Svetlana Iosifovna Alliluyeva. Iosifovna was die korrekte afstammelingsnaam, wat “dogter van Josef” beteken het. Hy het al die moontlikhede deurdink. Sy kon deur die Russe daar geplant gewees het; sy kon ’n teenagent wees, sy kon van lotjie getik wees. Heel oorbluf het George Huey gevra: “Só, jy sê dat Stalin jou pa was? Dié Stalin?”
~
Terwyl hy op ’n antwoord van Washington af gewag het, het Rayle haar ondervra. Hoe is dit dat sy haar in Indië bevind het? Sy het daarop aanspraak gemaak dat sy die Sowjet-unie op die 19de Desember gedurende ’n seremoniële missie verlaat het. Die Sowjet-regering het spesiale toestemming aan haar verleen om na Indië te reis om die as van haar “eggenoot”, Brajesh Singh, in die Ganges in sy dorp Kalakanka, Uttar Pradesh, te strooi, ooreenkomstig Hindu-tradisie. Sy het heel bitter bygevoeg: Omdat Singh ’n uitlander was, het Aleksei Kosygin, die voorsitter van die Raad van Ministers, haar persoonlike versoek om met Singh te trou, geweier, maar ná Singh se dood, is sy toegelaat om sy as Indië toe te neem. Gedurende die drie maande wat sy hier deurgebring het, het sy lief geword vir die land, en sy het toe versoek om toegelaat te word om aan te bly. Haar versoek is egter geweier. “Die Kremlin beskou my as staatseiendom,” het sy verontwaardig gesê. “Ek is Stalin se dogter!” Sy het aan Rayle vertel dat, onder druk van die Sowjet-unie, die Indiese regering geweier het om haar visum te verleng. Sy was siek en sat daarvoor om soos ’n “nasionale aandenking” behandel te word. Sy was nie van plan om terug te keer Sowjet-unie toe nie. Sy het Rayle ferm aangekyk en gesê dat sy na die Amerikaanse ambassade toe gekom het om die regering van die Verenigde State om politieke asiel te vra.
~
Sy het sy raad, wat die bewoording betref, gevolg en toe ’n formele versoek om politieke asiel aan die Verenigde State gerig, en die dokument onderteken. Toe Rayle haar gewaarsku het dat hy, op daardie tydstip, haar nie defnetief asiel kon belowe nie, het Svetlana haar politieke uitgeslapenheid gedemonstreer. Sy het geantwoord dat “indien die Verenigde State haar nie kon of wou help nie, sy nie kon glo dat enige ander land met verteenwoordigers in Indië, gewillig sou wees om dit te doen nie.” Sy was vasbeslote om nie na die Sowjet-unie terug te keer nie, en haar enigste ander uitweg sou wees om haar storie “ten volle en openhartig” aan die pers te vertel, met die hoop dat die openbare ondersteuning in Indië en die Verenigde State haar te hulp sou snel. Die weiering om Stalin se dogter te beskerm, sou nie terug by die huis goed afgegaan het nie. Svetlana het verstaan hoe politieke manipulasie gewerk het. Sy het ’n hele lewe van lesse agter die rug gehad.
Om 9:40 is ’n tweede flitskabelgram na die hoofkwartier in Washington gestuur. Die verslag het meer besonderhede bevat. Dit het gekonstateer dat Svetlana vier ure tot haar beskikking gehad het voordat die Sowjet-ambassade haar afwesigheid sou ontdek. Die boodskap het met die volgende woorde afgesluit: “Tensy daar teenstrydige advies ontvang word, sal ons probeer om Svetlana op die Qantas-vlug 751 na Rome te kry. Dit vertrek om 1945Zulu (1:15 vm plaaslike tyd) uit Delhi.” Elf minute later het Washington ontvangs van die kabel erken.
~
Die beslissende faktor was dat Svetlana haar Sowjet-paspoort in haar besit gehad het. Dit was ongehoord. Die paspoorte van Sowjet-burgers wat na naburige state gereis het, is altyd gekonfiskeer en is eers weer met hulle terugkeer, aan boord die terugvlug, aan hulle teruggegee.
~
Svetlana het maklik deur die Indiese doeane en immigrasie beweeg en binne vyf minute by Rayle in die internasionale vertreksaal aangesluit. Saam met haar het sy ’n geldige Indiese vertrekvisum en haar Verenigde State-besoekersvisum gehad. Toe Rayle haar gevra het of sy senuweeagtig was, het sy geantwoord: “Nee, glad nie,” en breed geglimlag. Haar reaksie was tipies.
Svetlana was in haar hart ’n dobbelaar. Regdeur haar lewe het sy grootse besluite heeltemal op die ingewing van die oomblik gemaak, en die gevolge met ’n amper wispelturige ongebondenheid aanvaar. Sy het altyd gesê dat haar gunsteling storie Dostoyevsky se The Gambler was.
Hoewel hy kalm voorgekom het, was Rayle besonder angstig. Hy was daarvan oortuig dat, sodra hulle sou ontdek dat sy vermis was, die Sowjets definitief daarop sou aandring dat sy oorhandig moes word. As hulle haar op die lughawe sou ontdek, sou die Indiese polisie haar arresteer, en daar sou niks wees wat hy daaraan kon doen nie. Hy het gevoel dat die gevolge gewigtig sou wees. Die doodsvonnis was die ou styl van Stalin, maar haar pa het reeds veertien jaar gelede gesterf. Maar die huidige Sowjet-regering was ontoegewend wat oorlopers betref het, en gevangenskap was altyd ’n moontlikheid. Toe die klassieke danser, Rudolf Nureyef, in 1961 oorgeloop het, is hy in absentia tot sewe jaar dwangarbeid gevonnis. Die onlangse verhore van die skrywers Andrei Sinyavsky en Yuli Daniel moes in Rayle se gedagtes gewees het. Hulle is in 1966 gevonnis en na strafkampe gestuur vir hulle “anti-Sowjet-geskrifte, en hulle het nog steeds daar gekwyn. Die Kremlin sou nie ’n openbare verhoor vir Svetlana waag nie, maar sy mog êrens in die donkerte van ’n psigiatriese inrigting verdwyn. Dit moes seker ook in Svetlana se gedagtes gewees het. Sinyavsky was ’n intieme vriend. Sy moes ten minste geweet het, dat, as hulle haar in hegtenis sou neem, sy nooit weer toegelaat sou word om die Sowjet-Unie te verlaat nie.
Die Qantas-vlug uit Rome het stip op tyd geland, maar Rayle se verligting het in vrees verander toe hy die aankondiging gehoor het dat die terugvlug vertraag sou word. Die vliegtuig het meganiese probleme ontwikkel. Die twee het in die vertreksaal gesit en die minute het in ure verander. Rayle het na Svetlana gekyk. Sy het ook onrustig begin raak. Om die groeiende spanning te hanteer, het Rayle van tyd tot tyd opgestaan om die aankomstoonbanke te besoek. Hy het geweet dat die gereelde Aeroflot-vlug van Moskou af om 5:00 vm sou land, en dat ’n groot groep afgevaardigdes van die Sowjet-ambassade altyd die diplomatieke koeriers en die verskeie hooggeplaastes ontmoet of afgesien het. Lede van die Aeroflot-personeel het alreeds begin om die ontvangskraampie oop te maak.
Uiteindelik is die vertrek na Rome aangekondig. Om 2:45 vm was die Qantas vlug na Rome in die lug.
Terwyl hulle hoog in die lug was, het ’n kabelgram in verband met die oorloper by die Amerikaanse Ambassade in New Delhi gearriveer. In Washington het Donald Jameson, wat diens gedoen het as CIA-skakelbeampte van die staatsdepartement vir die adjunk-ondersekretaris van die Staat, Foy Kohler, van die toedrag van sake verwittig. Kohler se reaksie was verbasingwekkend – hy het ontplof: “Sê vir hulle om die vrou uit die ambassade te gooi. Moenie haar enige hulp verskaf nie.” Kohler het onlangs as Amerikaanse ambassadeur in die Sowjet-unie diens gedoen, en hy het geglo dat hy persoonlik die spanning wat in die verhouding met die Sowjette bestaan het, ontlaai het. Hy wou nie hê dat die oorlopery van Stalin se dogter die waters moes vertroebel nie, veral ook nie omdat dit met die vyftigste herdenking van die Russiese Revolusie saamgeval het nie.
Toe die personeel van die ambassade in die flitskabelgram gelees het dat Svetlana se aansoek om asiel afgekeur is, was hulle antwoord: “Jy is te laat. Hulle is weg. Hulle is in die lug oppad Rome toe.”
Die personeel het nagelaat om die status van die Qantas-vlug te kontroleer. Sou hulle dit gedoen het, sou hulle agtergekom het dat Svetlana en Rayle reeds vir twee ure in die vertreksaal gesit het, en hulle kon haar van daar af teruggeroep het. Hulle sou Svetlana na die ambassade teruggeneem het en “uitgeskop” het. Haar hele lewe sou van daar af ’n ander rigting ingeslaan het.
Maar dit het voorgekom asof Svetlana se lewe gedurig aan ’n draadjie gehang het, en die toeval en die noodlot het haar in ’n sekere rigting gestuur. Stalin se dogter het altyd in haar pa se skaduwee geleef, en sy sou nêrens ’n veilige plek kon vind om te land nie.
Next →
← Previous