’n Teenmiddel vir xenofobie

Posted on July 05, 2018 by Cape Rebel


Uit “The Disappearance of Latin”
In A Cask of Jerepigo

deur Herman Charles Bosman

 

’n Paar dae gelede tydens ’n geselskap met ’n paar mense wat te doene het met onderwys en opvoeding, het ek, met ’n opregte gevoel van jammerte, gehoor dat Latyn besig is om stadigaan uit die kurrikulum van Suid-Afrikaanse skole te verdwyn. Latyn is besig om vervang te word deur ander tale of deur handelsvakke. En die leerlinge wat Latyn vir matriek neem, verminder elke jaar.

Op die een of ander manier is dit verkeerd. Afgesien van sy kulturele waarde, is die bestudering van Latyn noodsaaklik vir die vorming van karakter.

Natuurlik is daar deur die eeue ’n groot klomp snert gepraat en geskryf oor die waarde van verskeie vakke in die skoolleerplan om morele waardes te ontwikkel. Toe kartonmodulering in die laerskool ingevoer is, was daar byvoorbeeld deur pleitbesorgers aanspraak daarop gemaak dat kartonmodulering ’n opheffende invloed op die jong gees uitoefen, en dat die leerlinge wat hierdie vak vir twee uur lank per week bestudeer, goeie en regskape burgers sou grootword.

Die morele waardes wat jy deur kartonmodulering bekom, sluit glo eerlikheid, volharding, doelgerigtheid, geestelike konsentrasie, ware en opregte idealisme, vasberadenheid en kuisheid in. Fisieke moed word ook op daardie manier geleer.

Houtwerk was selfs beter om karakter te bou, om die edele kwaliteite van die gees en verhewender kenmerke van die siel te ontwikkel.

Die punt is dat kartonmodulering beproef is. En die kinders wat kartonmodulering in die laer grade bestudeer het, grootgeword het as mans en vroue wat nie op enige waarneembare manier beter mense was as die vorige geslag se leerlinge wat nie die voorreg gehad het om die kuns te beoefen om dinge uit karton en gompapier te maak nie.

In weerwil van kartonmodulering het ’n hele geslag leerlinge die wêreld ingegaan en nie die kartonne van die lewe reguit gesny nie. Die ware probleem van kartonmodulering is dat dit tot sinisisme op ’n te jong ouderdom tot gevolg gehad het: dit leer die kind dat die lewe maar net plankies en pleister – saagsels en karton – is.

Maar met Latyn is dit anders.

As die huidige neiging in ons stelsel van opvoeding en onderwys voortduur, sal Latyn in die verloop van die volgende paar jaar ’n dooie taal word. En dis nie reg nie. Nog ’n ding, die belange van goeie kameraadskap vereis dat ons die klassieke by ons hou: miskien as vreemdelinge, maar as vreemdelinge wie se tongval vir ons redelik bekend is en waarvan die aksente nie ’n wanklank op die moderne oor is nie. Onvertroudheid met die vreemdeling se huistaal is een van die grootste redes vir xenofobie. En ons wil nie hê nie, dat die mense wat die westerse helfte – as die minder bekoorlike – van klasieke letterkunde geskryf het, uitgesluit word uit ons gemeenskap bloot omdat hulle taal onbeskaaf klink en ongevoelig op die beskaafde oor val.

Ek bedoel nie ons moet die hele letterkunde aanvaar nie. Ek verstaan dat iemand die streep trek by Vergilius: “Aut redit a nobis aurora diemque reducit’, of ‘… tremens procumbit humi bos”.

Nee, ek voel dat Virgilius ’n vreemdeling is wat nooit werklik geassimileer sal word nie. Selfs nie “Quidquid id esttimeo Danaos et dona ferentes” – in die omgangstaal: “wees versigtig vir Grieke wat geskenke bring” – dit maak nie saak hoe dikwels dit deur skoolhoofde aangehaal is nie, dit is heeltemal sonder elegansie, daardie uitdrukking wat grens aan vulgariteit, wat ons so verkeerdelik assosieer met die vreemdeling.

Maar daar is Cicero. Daar is ook Horatius. Maar bowenal, is daar Ovidius. Dit maak nie saak hoe Ovidius van buite af lyk nie, hy het ’n innerlike verfyndheid waarsonder ons nie kan klaarkom nie. Hy is onmiskenbaar een van die manne van die spel. Ons móét hom net na die partytjie toe uitnooi.


Next

Previous