Uit No Outspan
deur Deneys Reitz
Die parlement sou die volgende oggend, ’n Saterdag, geopen het en regdeur die Vrydag was daar ’n gedempte opwinding. Lede het in klompies in die voorportaal rondgestaan en die situasie geesdriftig bespreek. Niemand het geweet wat die eerste minister van plan was om te doen nie, want hy was so swygsaam soos ’n sfinks.
Halfelf Saterdagoggend toe die speaker opgestaan het, was elkeen op sy plek. Dadelik na die openingsgebede, was ’n hele aantal van die lede op die been en hulle het daarop aangedring dat die regering moes sê wat hulle van plan was om te doen. Dit was ’n buitengewone situasie. Die kabinet het uit dertien ministers bestaan van wie generaal Smuts en ’n verdere ses van die vorige ou Suid-Afrikaanse Partylede was, en so het ons dus ’n meerderheid van een gehad.
Generaal Hertzog kon die aangeleentheid toe nie langer ontwyk nie en hy het bleek en gespanne opgestaan. Hy het gesê die enigste besigheid van die Huis op die openingsdag was om formeel kennis te gee van ’n wet wat die senaatsitting sou verleng, en daarom sou hy op Maandagoggend ’n verklaring uitreik. Met ons dus nog steeds in die duister, het die sitting verdaag.
Ons het later ’n kennisgewing ontvang van ’n kabinetsvergadering wat om drie-uur daardie middag by Groote Schuur sou plaasvind. Dit is die geskiedkundige woning wat deur mnr. Cecil Rhodes aan die toekomstige eerste ministers van die Unie bemaak is. Hy het dit gedurende die Anglo-Boereoorlog gedoen toe die waarskynlikheid dat daar ooit ’n Unie van Suid-Afrika sou wees, heel vergesog gelyk het.
Ek kan onthou hoe ek in 1902 as ’n jong knaap onder generaal Smuts in die veld diens gedoen het. Daar het ons destyds toe woord ontvang dat mnr. Rhodes gesterf het en ook het ons gehoor van die vreemde voorwaarde wat in sy testament bevat was. Ons het dié nuus met honende gelag aangehoor. Dit het soos ’n bittere bespotting gelyk dat hierdie Engelsman van ’n verenigde Suid-Afrika en ’n eerste minister kon praat terwyl ons nog steeds mekaar aan die keel gegryp het. As enigiemand in daardie dae, so lank gelede, sou gewaag het om my te vertel dat ek eendag daardie selfde gebou as ’n kabinetsminister van die Unie sou binnegaan, en dat ek daar sou praat ten gunste daarvan om aan Engeland se kant die wapen op te neem, sou ek gedink het dat hy kranksinnig was. Maar dit was wel die geval.
Met generaal Smuts as my leier het ek in die daaropvolgende jare vooruitgegaan. Ek en hy en duisende ander Suid-Afrikaners van Hollandse afkoms, het gesien en ervaar hoe regverdig die Britte ons behandel het. Hulle het ons land beset, maar dit met Natal en die Kaap op die koop toe, teruggegee. Ons het groter vryheid en sekuriteit geniet as wat ons onder ons eie republieke beleef het, en ons het gesien dat ons enigste hoop op oorlewing as ’n vrye nasie, binne die statebond sou wees.
En so het ons dus die samekoms by Groote Schuur bygewoon, vasbeslote dat Suid-Afrika weereens sy regmatige plig teen Duitse gewelddadigheid sou verrig.
Dit was ’n gewigtige geleentheid. Ek was die eerste een wat opgedaag het, en ek het die ander ministers sien aankom – elke kar was versier met die geborduurde wimpel van die Unie. Ons is na ’n ontvangskamer begelei waar daar kosbare muurbehangsels was met Sjinese vase en verniste meubels in die vertrekke. Generaal Hertzog het ons ingewag. Van die begin af was dit duidelik dat hy ons daar wou gehad het, nie om met ons te beraadslaag nie, maar eerder dat ons sy opdragte moes ontvang.
Hy het heen en weer oor die matbedekte vloer geloop en toe vir drie ure sonder ophou gepraat. Hy het die bitterheid van die Anglo-Boereoorlog herroep en met opgehemelde toon gepraat oor hoe die Britte ons verneder het en die reuse rekonstruksiewerk waarmee Hitler besig was. Die toespraak het daarop neergekom dat Suid-Afrika neutraal behoort te bly. As Hitler die oorlog wen, sou hy ons nie treiter nie; en as die Britte seëvier, sou ons in elk geval veilig wees.
Dit was reeds amper donker toe hy klaargemaak het en daar is besluit om tot die volgende middag te verdaag.
Ek en generaal Smuts en die vyf ministers wat ons ondersteun het, het daardie aand besluit dat, as generaal Hertzog sou aandring op neutraliteit, ons teen hom sou besluit en sou aandring dat die Huis daaroor moes stem.
Die kabinetsvergadering op die Sondagmiddag was ’n herhaling van die vorige een. Weereens het generaal Hertzog ons toegespreek met ’n eindelose, vurige orasie, en dit het lank geneem voordat generaal Smuts ’n kans gegun was om sy beskouing te gee. Hy het begin deur te sê dat die besluit waartoe hy gekom het, die ernstigste was wat hy in sy hele lewe geneem het. Hy het daarop gesê hoekom Suid-Afrika die Empire moes ondersteun en oorlog teen Duitsland moes verklaar.
Generaal Hertzog het hom nou en dan in die rede geval, maar almal was bewus van die gewigtige verantwoordelikheid wat op hulle skouers gerus het, en die besprekings was deurgaans betaamlik. Toe generaal Smuts uiteindelik aangekondig het dat hy van plan was om die Huis tot stemming te laat oorgaan, het daar ’n stilte oor die vergadering gedaal. Want ons het geweet dat dit die verbrokkeling van die regering sou beteken, en dat die toekoms baie duistere dinge sou inhou.
Dit was ek wat uiteindelik die konferensie tot ’n einde gebring het. Ek het my mening gelug oor waarom ons in die oorlog betrokke moes raak. Ek het toe opgestaan en aan generaal Hertzog gesê: “Meneer, dit is baie duidelik dat ons die skeiding van die weë bereik het. Dié van ons wat neutraliteit teenstaan, kan nie langer saam met u in die kabinet dien nie. Daarom is hierdie ons laaste vergadering as medekollegas. Ek wil u graag bedank vir die hoflikheid wat u voortdurend aan ons betoon het terwyl ons onder u gedien het, en ek hoop dat die persoonlike vriendskapsbande wat hier gesmee is, ongeskonde na hierdie gebeurtenis sal bly.”
Hierna het almal opgestaan, en ’n butler het dorslessers ingebring wat almal geniet het. Ons het hande geskud, en wat miskien tot hede die mees kritiese kabinetsvergadering in Suid-Afrika was, is beëindig.
Next →
← Previous