’n Naderende Boot By Rodakino

Posted on November 10, 2017 by Cape Rebel

Uit Abducting A General
deur Patrick Leigh Fermor

 

Tussen die rotse en ’n klomp aarbeibome was daar ’n fontein met yskoue water waarvan daar gesê is dat dit die gawe van onsterflikheid skenk. Ons het almal op die wal gaan lê en soveel water gesuip as wat ons kon. Ek het die voordele van die water aan die generaal verduidelik. Hy het skuins van die muil se saal afgeleun en op ’n tweede beker aangedring.

’n Entjie verder, tussen die bome aan die kant van die klein dorpie met die naam Karines, het oom Stavros Zourbakis gewag. Hy is vooraf gewaarsku om te verseker dat alles veilig was. Saam met hom was Kiria Eleni, sy lewenslustige vrou (en ’n baasskut met ’n geweer) en hulle dogter Popi – ons gashere en beskermengele op talle reise – met ’n skinkbord glase vol raki en afgedopte okkerneute. Dit het ons weggesluk en al kouende verder aangestryk.

~

By ’n hut naby Alones het Yanni Katsias saam met twee seuns wat ’n wilde voorkoms gehad het, op ons gewag. Die twee het heel gepas die bui van die naderende berge verpersoonlik, en ons ou eskort het hier teruggedraai Fortinou toe. Eleftherios Alevizakis het hier by ons aangesluit. Hy het skielik ’n entjie verder uit die bome gematerialiseer asof blote instink hom daarheen ontbied het. Hy was die seun van Vader John, die dapper, heilige priester van Alones. (Vader John het aan ons skuiling gebied, ten spyte daarvan dat een van sy seuns gevange geneem en tereggestel was, en hy was jare lank vriende met baie van ons. Met groot moeite en ná eindelose strooptogte op sy dorpie, het ons die lang, bebaarde en bebrilde persoon, een van die mees uitstaande mense van die weerstandsbeweging, oorreed om na Kaїro toe te gaan – ten minste totdat dinge bietjie bedaar het.)

’n Ongeluk het ons op hierdie lang nagtelike stapskof getref: Die buikgord van die generaal se muil het gebreek en die ruiter het die steilte afgerol. Ons het agter hom aangehol, en aanvanklik het ons gedink dat sy skouerblad gebreek was. Ons het ’n hangverband vir hom georganiseer en na ’n rukkie het dit gelyk of die pyn bedaar het. Maar vir die res van die reis het sy regterarm in ’n slinger gebly. Dit was ’n benoude oomblik.

Buitekant die klein dorpie Vilandredo, is ons deur ’n goedhartige en entoesiastiese Stathi Loukakis en sy broer, nog ’n Stavro, ontmoet. Hy het ons, wat stokflou, doodmoeg en pootuit was, gelei tot by ’n opgeboude grot wat aan die kant van die berg vasgeklou het soos ’n swaeltjie se nes. Dit kon net bereik word deur met ’n steil leer van wortels en rotse op te klim – ons gestremde gevangene kon slegs deur baie hande en in stadige stadiums bo gekry word.

Maar toe ons die binnekant bereik het, het alles baie belowend gelyk. ’n Gestewelde en getulbande figuur met ’n groot baard en ’n bokvelmantel om hom, het daar in die hoek van die grot vas aan die slaap gelê. Dit was niemand anders nie as ons kollega, Dennis Ciclitira. Ons het by peetbroer Stathi gehoor dat sy draadloosstel net ’n entjie met die vallei op by Asi Gonia was. Yanni Katsias het my by ons rendezvous naby Alones vertel (met opmekaargeklemde tande soos ’n valpoorthek, soos dit die manier was in die suidweste van Retimo en Sphakia – dit veroorsaak dat al hulle L’e in R’e verander – een van die vele eienaardige karakteristieke van die plaaslike aksent) dat hy en sy twee knape die Rodakino-strand verken het, en dat daar nie ’n enkele Duitser daar naby was nie. Terwyl ons die generaal so warm en behaaglik as moontlik toegemaak het, kon ek nie help om die gevoel te kry dat dinge besig was om uiteindelik reg te verloop nie.

Aan die begin het sake regtig heel belowend gelyk. Gerugte van ’n Duitse naderkoms na daardie omgewing toe, het Stathi aangespoor om ons die vorige nag op ’n inmekaargedrukte en ellendige manier weg te steek – soos in ’n arendsnes. Maar die volgende oggend het alles rustig gelyk. Ons het opgeklim na ’n ruim, gerieflike en pragtige rotslys waar die generaal vertroos is vir die foltering van die opwaartse geklimmery deur gekleurde komberse en kussings wat daar deur my peetbroer en Stavro (’n ou drinkebroer van my) onder die blare uitgesprei is. En ook deur die wonderbaarlike feesmaal van gebraaide speenvark en kalitsounias – halfmaanvormige mizithra (sagte kaas) kroketjies – en die manjifieke ou wyn in ’n gevlegde mandjie-karba wat gewag het. Stathi was ’n uitstekende bon viveur en ’n toonbeeld van goedheid en vrygewigheid, asook die Kapetanios van ’n gewapende bende. Sy geesdriftige blou oë het geflikker van genot om te sien hoe ons  sy fees verslind het. Hy het gehoop (en ons ook) dat ons daar in luuksheid kon aanbly totdat ons oor die heuwel na die boot toe kon wegglip.

Naby ons was daar ’n vinnig vloeiende waterstroom, en kruie met ’n soet reuk was oral om ons, en die bome was vol nagtegale. Ons het feesgevier en geslaap en gepraat en gesing. Die son het agter die pieke om ons ondergegaan, en terwyl ons luierig en geluksalig onder die maan en sterre op die sagte matte gelê het, het die twee broers ons deurentyd oorlaai met vars wonders. Hulle het heen en weer na die dorpie toe gehaas soos djins. Hierdie skielike verandering in ons omstandighede het vir ons almal so toweragtig voorgekom soos ’n skielike wegvoering na die paradys vir bedelaars in ’n Persiese verhaal.

Maar die volgende oggend het tweehonderd Duitsers in Argyroupolis uit hulle trokke geklim. Die padterminus was minder as ’n uur van ons af.

~

Ons het verskeie kere van wegkruipplek verander na gelang van die Duitsers se bewegings.

Op ’n slag in hierdie onrustige verposing het ’n seun van Asi Gonia daar aangekom met ’n boodskap oor ’n naderende boot by Rodakino. Die tyd, plek en seine sou later bevestig word. Dit het ons opgebeur te midde van ons probleme wat begin het om te verdubbel. Ons het in ’n diep skeur – ons derde skuilplek – weggekruip en angstig op Stathi en Stavro se koms gewag. ’n Hele paar uur ná hulle beplande aankoms, het hulle met onheilspellende nuus opgedaag. ’n Honderd Duitsers het die dorpie omring, sodat niemand in of uit kon gaan nie. In ’n fluisterstem het Stathi ons vertel, terwyl hy na die figuur gekyk het, wat daar in ’n bondeltjie gesit het, dat hulle na generaal Kreipe gesoek en gevra het.

En toe het hulle vertrek.


Next

Previous