Xan Fielding en Paddy het in Yerakari ontmoet. Dit was ’n groot dorp wat algemeen bekend was vir sy kersies, en dit was geleë aan die bopunt van die twee valleie van die Amari. Hierdie omgewing was so groen en vrugbaar dat die Britse offisiere wat vanuit die harde lewe bo in die berge daarheen afgedaal het, dit “Lotusland” genoem het. Dit was nie hulle eerste kennismaking nie. Beide van hulle het onthou dat hulle ’n hele paar jaar tevore al ontmoet het, moontlik in die somer van 1933, maar in Yerakari het ’n vriendskap tussen hulle ontstaan wat voortgeduur het tot met Xan se dood in 1991. Fielding het in sy oorlogsgedenkskrif, Hide and Seek, geskryf: “Soos Paddy het ek dwarsoor Europa voetgeslaan om Griekeland te bereik. Soos hy, was ek gedurende die lang, veeleisende vakansie amper platsak – maar daar het die ooreenkoms tussen ons reise opgehou, want waar ek genoodsaak was om buitekant, in slote, hooimiedens of op openbare bankies te slaap, het Paddy se sjarme en vindingrykheid van hom ’n welkome gas gemaak, waar hy hom ookal bevind het.”
~
Sabotasie het die hoogste voorkeur by die SOE geniet, maar dit was voortdurend in die wiele gery deur ander vereistes op die tyd en energie van die mense op die grond. Dae en nagte het verlore gegaan terwyl daar op boodskappers gewag is, of op die volgende draadloosskedule of valskermaflewerings wat uitgestel is omrede swak weersomstandighede. Om die draadloosstelle deur die nag in hulle tasse rond te dra, het harde werk vereis. Daar was ook staptogte na die kus toe om inkomende vaartuie te ontmoet, staptogte deur die berge na geheime konferensies en staptogte om inligting te versamel. Die Kretense terrein is van die ontoegeeflikste in Europa, en die afstande op ’n landkaart hou geen verband met die werklike afstande wat gedek moes word nie. Wanneer daar gevra is hoe ver dit van een plek na ’n ander is, sou ’n Kretenser antwoord deur te sê: “Tien sigarette ver,” of hoeveel ook al hy gedink het hy en route sou rook.
Dit was onvermydelik dat daar vervelige dae was waar daar niks was om te doen nie, behalwe om vir ’n boodskap of boodskapper te wag. Maar vir iemand soos Paddy wat van sang en gedigte gehou het, het die Kretensers heelwat kostelike afleiding verskaf. Hy het ’n hele reeks Kretense liedere bymekaargemaak, en hy was altyd reg vir ’n rondte mantinades, waar rymende koeplette deur een persoon begin is, en daarna word daar uit die vuis uit, een na die ander in ’n sirkel, bydraes gelewer. Baie van die ou veewagters kon groot dele van die Erotokritos, ’n sewentiende eeuse romanse in die Kretense dialek, voordra. So ’n voordrag kon die hele aand aanhou.
Die Slag van El Alamein het die Duitse opmars in ’n terugtog verander, en toe was jaggemaak op die Afrika-Korps, en is hulle uit Cyrenaica verdryf. Daar was stories van swak dissipline, versuim om die offisiere te salueer en dronkenskap.
Tom Dunbabin, Xan en Paddy het alles in hulle vermoë gedoen om Duitse vrees en frustrasies verder aan te wakker. Hulle het strooibiljette, met stempels van swastika-draende arende, wat gelyk het asof hulle van ontevrede Duitse soldate afkomstig was, laat val en versprei. Xan en Paddy het ook ’n kryt-krap-aksie aan die gang gekry. Hulle het jong Kretensers gekry om te help. “Wir Wollen Nach Haus” (ons wil huis toe gaan) en “Wo Ist Unsere Luftwaffe?” (waar is ons lugmag?) en “Scheisse Hitler” (skyt Hitler) was die algemeenste, maar Paddy het ook voordeel getrek uit die riemtelegramme dat kommunisme besig was om deur die sombere Duitse geledere te versprei. Sommige slagspreuke het die volgende uitgebasuin: “Heil Stalin!” of “Heil Moskau!” vergesel van ’n uittartende hamer en sekel. Die sukses van sy graffiti kon bepaal word deur arrestasies van Duitse soldate, en hulle kwartiere en pakkies wat deursoek is.
~
Xan was altyd verras deur Paddy se stylvolle kleredrag wat hy selfs in die rofste omstandighede in stand gehou het.
“Hoewel ons almal gelapte broeke, verflenterde jasse en verslete stewels gedra het, het dit aan hom van so min belang gelyk soos ’n fantasiekostuum. Sy blonde hare, wenkbroue en snor wat swart gekleurd was, het bygedra tot sy karnivalagtige voorkoms, en sy geselskap was so vrolik en geestig soos dit sou gewees het as ons mekaar so pas ontmoet het … by een of ander luisterryke bal in Londen of Parys. Sy ligsinnigheid was ’n heilsame kontras in vergelyking met Tom se natuurlike erns en my eie humeur … Dit was ook ’n misleidende kwaliteit, want hoewel dit sy duidelike verbeeldingryke vermoë versterk het, het dit ook ’n gees so pligsgetrou en deeglik as wat dit fantasievol was, verberg.”
Teen sononder op 25 Mei het daar omtrent tien mense om die vuur in die skaapkraal gesit toe daar ’n waarskuwing gekom het. Driehonderd Duitsers was in aantog in hulle rigting. Dit het so dikwels gebeur dat dit nie juis enige alarm uitgelok het nie, maar Paddy het aan almal gesê om op te pak en hy het sy geweer nadergetrek wat daardie oggend skoongemaak en geolie is, en hy was onder die indruk dat dit leeg was. Hy was onbewus daarvan dat iemand in hulle span “hulself vermaak het deur Griekse en Britse wapendril met my geweer te doen, en geoefen het om dit te laai en te ontlaai.”
“Ek het die slot vorentoe en agtertoe getrek, gekyk of die veertjies mooi gewerk het ná dit geolie is (en sonder dat ek bewus was daarvan, ’n koeël in die slot gesteek). Ek het die sneller getrek en Yanni, wat ’n entjie verder weg langs die vuur gesit en sy sariki gedoen het, deur die linkerheup geskiet … [die koeël] het twee keer deur sy been getrek voordat dit sy liggaam binnegedring het. Daar was altesaam ses wonde. Ons het hom verpleeg, maar dit was nutteloos, en hy is omtrent ’n uur later oorlede, sonder om te veel te bloei. Dit het nie gelyk of hy baie gely het nie, en voordat hy gesterf het, het hy baie vriendelike woorde aan my gesê wat ek nooit sal vergeet nie.”
Hulle het hom dou voor dag die volgende oggend onder twee eikebome omtrent ’n myl van die kamp af, begrawe. Yanni was een van Paddy se hegste Kretense vriende, en “die beste en hardste werker wat ons ooit daar gehad het.”
Die mense wat die tragedie waargeneem het, het geweet dat dit ’n ongeluk was. Hulle het Paddy se skok en verdriet probeer verlig deur hom daaraan te herinner dat soortgelyke dinge heel gereeld tussen die Kretensers plaasgevind het. Hulle houding wat veiligheid betref was heeltemal te ongeërgd, om die minste daarvan te sê. “Almal was besonder vriendelik teenoor my oor hierdie verskriklike ongeluk,” het hy geskryf, hoewel sy eie selfverwyt nie so maklik was om te lenig nie. “Dit maak nie saak hoeveel ek daaroor skryf nie, dit sal Yanni nie lewend terugbring nie of my verskoon dat ek nie die magasyn geïnspekteer het voor ek die slot toegeskuif het nie, en ek gaan dit nie probeer doen nie.”
Next →
← Previous