’n Bekkersdalse Maraton

Posted on October 03, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast
Uit A Bekkersdal Marathon
deur Herman Charles Bosman

 

Dit het alles plaasgevind deurdat dominee Welthagen een Sondagoggend op die preekstoel in ’n beswyming geraak het. En ons het nie besef dat hy in ’n beswyming verkeer het nie. Dit was ’n siektetoestand wat hom op ’n vreemde en skielike manier oorval het.

By elke diens het die predikant, na hy sy gedeelte uit die Bybel gelees het, vorentoe geleun met sy hande op die reling van die preekstoel en toe die nommer van die gesang gegee wat ons moes sing. Vir jare al was die manier van hoe hy die diens gelei het, presies dieselfde. Hy sou byvoorbeeld sê: “Ons sal nou psalm 82, verse 1 tot 4 sing.” Dan het hy toegelaat dat sy kop vorentoe sak tot op sy bors en so het hy onbeweeglik gebly, asof hy in gebed was, tot die laaste note in die kerk weggesterf het.

Nou, op daardie besondere oggend, net na hy die nommer van die psalm aangekondig het, sonder om die verse te noem, het dominee Welthagen weer die reling op die preekstoel met ’n ferm greep vasgevat, en sy kop toegelaat om vorentoe op sy bors te rus. Ons het nie besef dat hy in ’n beswyming van ’n besondere ongewone aard geval het nie – sy liggaam het regop bly staan terwyl sy kop toegeslaan het. Dit het ons eers later uitgevind.

Intussen, terwyl die orrel die aanvangsnote gespeel het, het ons begin besef dat dominee Welthagen nie aangedui het hoeveel verse ons moes sing nie. Maar hy sou wel sy fout agterkom, so het ons gedink, na ons vir ’n paar minute gesing het.

In weerwil daarvan, was daar tog een of twee van die jonger lede van die gemeente wat gegiggel het, net so ’n bietjie, toe hulle hulle gesangboeke oopgemaak het. Want dominee Welthagen het psalm 119 aangekondig. En soos almal weet, het psalm 119, 176 verse.

Dit was ’n kerkdiens wat nooit in Bekkersdal vergeet sou word nie.

Ons het die eerste vers gesing, en toe die tweede, en toe die derde. Toe ons by omtrent die sesde vers gekom het, en die dominee nog steeds geen teken gegee het dat dit die laaste sou wees nie, het ons gedink dat hy graag wou hê dat ons die eerste agt verse moet sing. Want, as jy jou gesangeboek oopmaak, sal jy sien dat psalm 119 gegroepeer is in stelle van agt verse elk, met elkeen wat eindig met die woord “Pouse”.

Ons het die laaste note van die agste vers met meer as die gewone aantal draaie en krulle beëindig, doodseker dat dominee Welthagen sy kop sou optel en ons laat weet dat ons toe “Amen” kon sing.

Dit was toe die orrel baie stadig en plegtig met die musiek van die negende vers begin het, dat ’n ware gevoel van ontrusting die gemeente oorval het. Maar, natuurlik, het ons niks gewys wat in ons gedagtes aan die gang was nie. Ons het te veel eerbied en ontsag vir dominee Welthagen gehad.

Ewenwel, ek sal liewer nie te veel sê oor ons gevoelens toe vers na vers gevolg het, en Pouse na Pouse mekaar afgewissel het nie, en steeds het dominee Welthagen geen teken gegee dat ons lank genoeg gesing het nie, of dat daar iets ongewoons was wat hy van ons verwag het nie.

Na hulle van hulle eerste verrassing herstel het, het lede van die kerkraad hulself op ’n heel voorbeeldige wyse gedra. Die ouderlinge en diakens het op hulle tone op en af tussen die banke geloop om gerusstellende woorde te fluister aan daardie lede van die gemeente, mans sowel as vrouens, wat gelyk het of hulle van plan was om paniekerig te word.

Op een stadium het dit gelyk of ons moeilikheid met die orrelis gaan hê. Dit was toe Billy Robertse, aan die einde van die 34ste vers, sy swart bottel omhoog gehou het, en stilweg aan die ouderlinge gewys het dat sy medisyne opgeraak het. Aan die einde van die 35ste vers het hy tekens van nie so ’n stille aard gemaak nie, en weer aan die einde van die 36ste vers. Dit was toe dat ouderling Landsman op die punte van sy tone die kerk uitgeloop het en omgestap het konsistorie toe, waar die nagmaalwyn gehou is. Toe ouderling Landsman terug in die kerk gekom het, het hy ’n lang swart bottel half weggesteek onder sy manel gehad. Terwyl hy steeds op sy tone geloop het, het hy die bottel op na die orrelis se galery geneem.

By vers 61 was daar amper ’n debakel. Dit was toe daar ’n boodskap vanaf die agterkant van die orrel gekom het, waar koster Claasen en die assistant koster, wie se taak dit was om die slinger wat die orrel van wind voorsien het, te draai. Hulle was in ’n toestand na aan totale uitputting. Dit was toe diaken Cronje se beurt om op die punte van sy tone die kerk uit te loop. Diaken Cronje was die hoofbewaarder van die plaaslike tronk. Toe hy teruggekom het, was dit met drie frisgeboude bandiete in gestreepte truie – hulle het ook op hulle tone deur die kerk geloop. Hulle het net betyds opgedaag om die slinger by koster Claasen en die assistant koster oor te neem.

By vers 98 het die orrelis weer tekens begin maak – oor sy medisyne. Weer eens het ouderling Landsman omgeloop na die konsistorie toe. Hierdie keer was hy vergesel van ’n ander ouderling en diaken, en hulle het ’n bietjie langer weggebly as die vorige keer toe ouderling Landsman alleen gegaan het. Met hulle terugkoms, het die diaken in die klein gesangeboekietafeltjie agter in die kerk vasgeloop. Miskien was dit omdat die diaken ’n vet, rooigesig man was wat nie gewoond daaraan was om op sy tone te loop nie.

By vers 124 het die orrelis weer sy sein gegee, en dieselfde drie kerkraadslede het op ’n streep uitgeloop konsistorie toe, met die diaken wat dié keer voorgeloop het.

Dit was omtrent toe dat die pastoor van die Volle Evangeliese Geloofkerk, oor wie dominee Welthagen in die verlede taal gebruik het wat amper net so sterk gekruie was as daardie wat hy oor die pous gebruik het, na die voorste hek van die kerk gekom het om te sien wat aan die gang was. Hy het naby ons kerk gewoon, en toe hy gehoor het hoe dieselfde lofsangmusiek oor en oor vir omtrent agt ure gespeel is, was hy ’n dronkgeslaande man. Toe het hy die deur van die konsistorie sien oopgaan, en twee ouderlinge en ’n diaken, wat op hulle tone geloop het, daar sien uitkom – hulle het blykbaar vergeet dat hulle toe nie in die kerk was nie. Toe die pastoor een van die ouderlinge ’n swart bottel onder sy manel sien wegsteek, het ’n blik van begrip oor sy gelaatstrekke gekom. Die pastoor het omgedraai en weggestap terwyl hy sy kop geskud het.

Met vers 152 het die orrelis weer eens ’n teken gegee. Dié keer het die ouderling Landsman en die ander ouderling alleen uitgegaan. Die diaken het op die diakensbank agtergebly, skynbaar diep ingedagte. Die orrelis het weer gesein, vir die laaste keer, by vers 169. Jy kan jou dus voorstel hoeveel keer die ouderlinge altesaam die konsistorie besoek het.

Uiteindelik was dit tyd vir die laaste vers, en die laaste reël van die laaste vers. Dié keer moes dit “Amen” wees. Niks kon dit keer nie.

Ek sou liewer nie die toestand beskryf waarin die gemeente verkeer het nie. En teen daardie tyd het die drie bandiete, rooi strepe en al, in hulle Bakhatla-taal, met muitery gedreig.

“Aamêên” het van wat minder as ’n twintigtal stemme, hees van die gesingery, opgeklink. Die orrelmusiek het weggesterf.

Miskien was dit die skielike stilte wat ten einde laaste dominee Welthagen uit sy lang beswyming gebring het. Hy het sy kop opgelig, en stadig om hom rondgekyk. Sy blik het oor die gemeente heengegaan; en toe, met dat hy na die vensters gekyk het, het hy gesien dat dit aand was. Hy het gedink dat hy toe net op die preekstoel geklim het, en dat dit die begin van die aanddiens was. Ons het besef dat gedurende die hele tyd wat ons aan die sing was, die predikant in ’n staat van bewusteloosheid was.

Weer ’n keer het dominee Welthagen die preekstoeltraliewerk vasgevat. Sy kop het stadig vorentoe op sy bors gesak, maar voor hy vir die tweede keer in ’n beswyming weggeraak het, het hy die gesang vir die aanddiens gegee.

“Ons sal,” het dominee Welthagen aangekondig, “psalm 119 sing.”

Posted in Afrikaans


Next

Previous