Moedswillige Vyandigheid

Posted on September 07, 2017 by Cape Rebel

Uit Abducting A General
deur Patrick Leigh Fermor

Anoyeia, die grootste dorp in Kreta, was te verafgeleë en afgesonderd om as ’n permanente garnisoen te kon dien. Hoog teen die noordelike hange van die Ida-berg, is dit die belangrikste vastrapplek om die groot reeks oor te steek. Beroemd vir sy onafhanklike gees, sy eienaardige kleredrag en spreekwyse, en sy hewige plaaslike trots, was dit altyd ’n onfeilbare wegkruipplek.

Die vorige jaar het ek en Ralph Stockbridge die dogter van Stephanogiannes Dramountanes gedoop. Hy was ’n dapper en swierige man en plaaslike leier. Ná die Duitsers die dorp omring het, is ons peetbroer doodgeskiet terwyl hy met vasgebinde hande oor ’n muur gespring het om te probeer ontsnap. Maar ek het geweet dat ons van ander peetfamilie en vriende al die rugsteun sou vind wat ons kon benodig – meer as genoeg.

Maar dáárvan was daar geen teken nie, toe ons oor die kronkelende straatklippe wat deur die daglumier verlig was, opgestap het. Ek het nog steeds die Duitse uniform gedra. Vir die eerste keer het ek besef hoe ’n afgesonderde Duitse soldaat in ’n Kretense dorp behandel is. By die wasbalies het die gelag en gepratery weggesterf – die vrouens het die rug op ons gedraai en hulle wasgoed met lawaaierige geweld gemoker. Veewagters in jasse het ons groete beantwoord deur net in stilte verby ons te staar, en om ons dan aan te kyk tot ons nie meer sigbaar was nie. ’n Ou vrou het op die grond gespoeg. Boosgesinde oumense met wit snorre en hangbaarde, skoongeskeer onder die ken, het almal buite die koffiewinkel gesit – sakkerige broeke, opgerygde stewels en mans met kopdoeke het op hulle knoetserige stokke geleun. (Ek het ’n paar van hulle geken, maar die Duitse Waffenrock – dit wil sê, uniform – en die gebrek aan ’n snor, was ’n ondeurdringbare vermomming.) Vir ’n oomblik het hulle opgehou praat en toe heel hard daarmee aangegaan, en ’n punt daarvan gemaak om hulle stoele toe só te verskuif dat hulle rûe of hulle elmboë hulle moedswillige vyandigheid verwoord het. Langs die lanings is deure en vensters hard toegeklap. Ná ’n rukkie kon ons die geweeklaag van vrouestemme in die heuwels hoor: “Die swart beeste het in die koring verdwaal!” en “Ons skoonfamilie het opgedaag!” – reg oor die eiland was dit die waarskuwingsein vir die vyand se aankoms. Ons was verheug om by ’n agterstraatjie en die vriendelike beskutting van Vader Manoli se huis in te dompel. Maar Vader Chairetis, een van die diensdoenende priesters en ’n goeie vriend, was uithuisig. Die gawe ou priesteres het heel ontsteld met die gang af weggeloop, en geweier om my te herken. Dit was verbasend wat ’n vreemde uniform en die verwydering van ’n snor (of die baarde wat ons almal op een of ander tyd gekweek het) kon doen. “Dis ek, Pappadia, Mihali!” “Wat Mihali? Ek ken geen Mihali nie?” Volslae dooie punt.

Deur ’n buurman gewaarsku, het die priester daar opgedaag, en uiteindelik so tussen stomme verbasing en ’n gelag, het alles toe goed afgeloop. Daar is aan die dorp vertel dat ons skadelose rondlopers was en dat ons weer die pad gevat het. Ons het ontslae geraak van die kledingstukke wat ons verklap het. My peetbroer, George Dramountanes, het gou opgedaag, en ander vriende en helpers het onopvallend daar aangekom. Baie gou is ’n boodskapper gevind wat die nuus aan Sandy, wat teen daardie tyd ’n honderd myl suid-oos in die berge bokant Males en Ierapetra was, kon oordra – en nog een aan Tom Dunbabin, later meer oor hom, aan die anderkant van die Ida-berg. Raki en heuningbier is van onder die groot gewelf van die huis te voorskyn gehaal, en die priesteres, wat op die kruisbalkie van haar weefstoel gesit en ’n hoender gepluk het dat die vere gewaai het, het toe ewe skalks geglimlag. (Tot sover het nog niemand van die kaping gehoor nie. Wat was in Knossos, Archanes, Herakleion aan die gebeure? Het hulle die kar met die brief ontdek? Hoe het dit met die ander gevaar?)

Dank die hemel vir Strati se polisie-uniform. Hy het gou daar aangekom. Sy opklouter was moeisaam – die generaal se been het met die worsteling by die kar ’n knou gekry – maar veilig. Hulle het nou ’n myl of twee daarvandaan in ’n kloof skuiling gevind. Hy en Manoli het by ’n familie twee gretige vlugvoetige veewagterseuns gekry. Deur hulle vaders tot spoed en geheimhouding aangemoedig, het hulle vinnig suid- en ooswaarts met Billy se boodskappe beweeg – die bestemming was dieselfde as myne – meer as een pyl in die koker. (Dit was wyse maatreëls vir hierdie stormagtige dae wat ons te wagte was.) ’n Mandjie vol kos en drinkgoed is stilletjies versend, en ek sou na donker met ’n gids en ’n muil vir die generaal, by hulle aansluit.

Laat die middag het die geluid van ’n vliegtuig wat laag oor die dakke gevlieg het, ons almal laat opspring. Ons het met die leer op na die plat dak toe, gehardloop waar ons ’n enkelvlerk Fieseler Storch verkenningsvliegtuig gesien het wat bokant die dakke gesirkel en pamflette egalig laat neerreën het. Dit het ’n hele paar keer in die rondte gevlieg en toe op en af langs die voorheuwels gedruis en weswaarts verdwyn terwyl sy wit wolk hom steeds agtervolg het. Toe het hy teruggedraai Herakleion toe. “Aan alle Kretensers”, het die inhoud in besmeerde drukletters gelui, want dit was nog klam uit die drukpers.

Gisteraand is die Duitse generaal Kreipe deur struikrowers ontvoer. Op die oomblik word hy in die Kretaanse berge versteek, en waar hy hom nou bevind, kan nie aan die inwoners onbekend wees nie. As die generaal nie binne drie dae terugbesorg word nie, sal al die rebelledorpe in die distrik van Herakleion tot op die grond gelyk gemaak word, en die hewigste wraakmaatreëls sal op die burgerlike gemeenskap afgedwing word.

Die ongeloof het die kamer in beroering gebring, toe opwinding, en uiteindelik was daar buitensporige, triomfantelike uitgelatenheid. Buite in die strate kon ons voete hoor hardloop, en ’n geskree en ’n gelag. “Dink daaraan: hulle het hulle generaal gesteel!” “Die horingdraers sal dit nie waag om ons weer in die oë te kyk nie!”  “Hulle het vir wol hiernatoe gekom, en ons het hulle skoongeskeer teruggestuur!” Hoe het dit gebeur? Waar? Wie het dit gedoen?

Die priester wat geweet het wat aangegaan het, en so ook ons peetbroer, en ek en Strati, het ons oë heel onskuldig laat sak. Ek het hulle vertel dat dit die werk van ’n Anglo-Kretenese-kommando was – meestal Kretensers. “En julle sal sien! Daardie drie dae sal verbygaan en geen dorpies sal afgebrand word nie, en ook sal daar nie geskiet word nie!

Ek het gehoop dat dit die waarheid sou wees. Dit het gelyk of ek die enigste een in die kamer was wat nie deur die dreigement ontsteld was nie, en ek het gebid dat dringendheid vlerke aan die boodskappers se enkels sou verleen, en dat ons teenpamflette en die BBC-nuusdiens die generaal se vertrek van die eiland af, sou versprei.

Het die Duitsers al die kar gevind, en ons papierleidrade af na die duikbootstrand toe gevolg?


Next

Previous