Click Here to Play Podcast
Uit No Outspan
deur Deneys Reitz
Hy het goeie Engels gepraat en hulle toe begin vertel van ’n avontuur wat hy ervaar het.
Hy het hulle vertel hoe ’n leeu hom gejaag het en hy moes hardloop vir al wat hy werd was om uit sy kloue te bly. Die leeu het hom ingehaal en toe met ’n gebrul hom bespring. Net daar het sy vernuf om die storie verder te fabriseer, tot ’n skielike einde gekom. Die gehoor het met gespanne aandag na hom geluister, en een van hulle het hom toe gevra wat daarna gebeur het. Hy het gevoel dat dit sy plig was om sy verhaal bevredigend af te sluit, en het daarop eenvoudig geantwoord: “Meneer, die leeu het my opgevreet.”
~
Ek het die Olifantsrivier ’n paar myl bokant die samevloeiing met die Letaba bereik, en na ’n lang soektog het ek ’n geskikte plek vir ’n pont gekry wat mettertyd gebou en te water gelaat is deur Paul Selby.
Terwyl ek op die wal van die rivier geloop het, het die karkas van ’n dooie seekoei stroomaf gedryf en aanstons het dit teen ’n sandbank vasgedryf. Op die oog af was daar geen teken van ’n besering nie, maar toe die plaaslikes dit afgeslag het, het ons gesien hoe die vleis onder die vel langs die rugstring en ribbes tot pulp vermorsel was. Die mense het gesê dat ’n olifant hom doodgetrap het en later het hulle my ’n moddergat langs die rivier gewys wat heeltemal vertrap was. Dit was daar waar die geveg plaasgevind het.
Met my terugkeer het ek via ’n handelspos, met die naam Acornhoek, gereis. Dit was net buite die Park geleë. ’n Vriend van my met die naam Whittingstall het hier gewoon, en toe ek vir hom by sy huis gaan kuier het, het ek gevind dat hy onlangs deur ’n leeu aangeval is. Hy was ’n vaardige jagter, maar hy het dieselfde fout as soveel ander begaan. Hy het ’n leeu verwond en hom toe in die digte bos agtervolg. Negentig persent van ongevalle met leeus is as gevolg daarvan dat die gewonde dier in die hoë gras of struikgewas nagesit is.
’n Leeu net soos enige ander dier, hardloop weg wanneer hy gewond is, of, as hy ’n ernstige skoot weg het en dit moeilik ver kan wegkom, sal hy wegkruip waar daar beskutting is, maar as as hy vasgekeer word, sal hy aanval, en dit is daar waar die ongeluk gebeur.
In sy gretigheid om die leeu die genadeslag toe te dien, het Whittingstall met twee van sy spoorsnyers hom agtervolg. Hy het my vertel dat die volgende ding wat hy gesien het ’n geel bal was wat deur die lug op hom aangeslinger gekom het. Hy het ’n skoot afgetrek, maar is toe teen die grond gegooi en aan die skouer vasgebyt. Sy spoorsnyers het hom gered. Een van hulle het die leeu aan die stert beetgekry en getrek, en die ander een het oor die dier gestaan en hom met sy assegaai in die hart gesteek.
Met die aanvanklike eerste skoot het Wittingstall die leeu se regterpoot verbrysel. Dit het die leeu verplig om met die ander drie pote sy balans te behou, en daardeur kon hy Whittingstall nie in die kloue kry nie. Dit het moontlik ook gehelp om Whittingstall se lewe te red, want hoewel ’n leeu se byt ernstig genoeg is, is sy tande min of meer kiemvry, maar om vasgeklou te word, sal verseker lei na bloedvergiftiging en die dood, want die skede is beklodder met verrotte vlees.
Whittingstall het my vertel dat die sensasie was asof ’n kragtige staalskroef sy skouerblad en arm vergruis het, en dat die pyn verskriklik was.
Hulle het hom hospitaal toe gevat en hy het baie mooi herstel. Toe ek hom weer daarna gesien het, het hy met ’n vonkel in die oog gesê, want sy bruid met wie hy onlangs in die eg verbind is, het langs hom gesit, dat die ernstigste nagevolg van sy ongeluk was dat hy met die verpleegster wat hom opgepas het, getrou het.
Next →
← Previous