Dagbreek, die 4de April, 1938. Al bewende, uitgeput en poedelnakend, het twee gehawende swemmers uit die Ebrorivier geklim. Die rivier was kant en wal van die smeltende sneeu, vanuit die Pireneë. Altwee die manne was Amerikaners.
Die land is in vlamme. Vir amper twee jaar, het die weerbarstige maar demokraties verkose regering van die Spaanse Republiek, homself verdedig teen ’n militêre opstand, wat deur Francisco Franco gelei is. Hy was gerugsteun deur Nazi-Duitsland en Fascistiese Italië. Franco, wat homself die rang van generalissimo gegee het, het ’n geraamde foto van Adolf Hitler op sy lessenaar gehad, en hy het na Duitsland verwys as “’n model wat ons altyd voor ons sal hou”.
Met daardie dagbreek, was die lug bokant die Ebro donker van die oorlogsvliegtuie, ultramoderne vegters en bomwerpers wat deur Duitse loodse, wat aan die generalissimo deur die Führer gestuur is, geloods. Op die grond was daar tenks en soldate uit Italië. Dit was sommige van die amper 80,000 troepe wat die diktator aan Franco geleen het, en hulle het gehelp om die grootste aanval van die oorlog te loods. Dit was ’n magtige veldtog vanuit die weste, waar twee-derdes van die land onder Franco se beheer gestaan het. Sy doelwit was om die Middellandse See te bereik, en só die oorblywende grondgebied van die Spaanse Republiek in twee te verdeel.
Franco se uitgerekte stryd vir oorheersing, was die hewigste konflik in Europa sedert die Eerste Wêreldoorlog, en dit is gekenmerk as die wraaksugtigste barbaarsheid wat tot daardie hede beleef is. Sy magte het stede tot puinhope gebombardeer, politieke teenstanders gemartel, mense wat aan vakbonde behoort het vermoor, met masjiengewere op hospitaalsale vol gewondes losgebrand, vroue wat aan die Republiek behoort het se borste met die embleem van sy beweging gebrandmerk, en doodsvonnisse met die garrote-wurgapparaat, ’n middeleeuse ysterkraag wat die slagoffer verwurg het, voltrek.
Erg gemoker en toegetakel deur die nuwe offensief, het die Republiek se soldate chaoties teruggeval, en ooswaarts voor Franco se troepe, tenks en bomwerpers uit gestroom. Op sommige plekke het Franco se troepe, wat vinnig in aantog is, vooruit- en oorgespring. Die Republikeinse magte het duisende vrywilligers van ander lande ingesluit, en baie van hulle was Amerikaners. Sommige van hulle het reeds gesneuwel. Franco het so pas aangekondig dat buitelandse vrywilligers wat gevange geneem is, geskiet sal word.
Die vinnigvloeiende Ebrorivier, wat deur die ruwe en bergagtige noord-ooste van Spanje loop, was die grens tussen die dood en veiligheid. Die wal aan die oostekant was steeds in die hande van die Republikeine. Klein groepies Amerikaanse vrywilligers, wat agter die linies vasgevang was, het daarin geslaag om in die nag verby Franco se troepe te glip, deur op die Poolster te navigeer. Ná drie dae van min slaap, agtervolging deur soldate, tenks en berede soldate wat deur opsporingsvliegtuie wat bokant hulle rondsirkel, gelei is, het hulle die Ebro voor dagbreek bereik. Dit was naby ’n plek waar daar op die landkaart, ’n brug aangedui is. Hulle het ontdek dat die brug opgeblaas is, en dat daar geen bote is nie. ’n Paar van hulle wat nie kan swem nie, het uit desperaatheid ’n deur van ’n verlate plaashuis afgeruk, om as ’n vlot te gebruik. Ander nie-swemmers het die rivier aangedurf deur aan boomstompe vas te hou. Die stroom het ten minste ses meegesleur wat verdrink het – vier van hulle is gewond.
Die oorblywende drie Amerikaners wat kon swem, het hulle skoene en al hulle klere uitgetrek, en die yskoue water binnegeloop. Een van hulle het die wal ver stroomaf bereik, maar twee jong New Yorkers, John Gates en George Watt, wat ’n verstuite enkel en ’n skrapnelwond in sy hand gehad het, het aan die vêr kant saam uit die water gestruikel. Met die breek van die dag, het hulle ooswaarts geloop, met die hoop om iemand te vind, wat hulle kon vertel waar die oorblywendes van hulle eenheid mag wees. “Ons loop poedelnakend en kaalvoet, oor ’n eindelose stuk aarde van skerp klippe en knoetse, wat ons voete sny,” het Watt onthou. “Ons bewe van die koue, en ons voete bloei toe ons die hoofpad bereik. … ’n Vragmotor kom met die pad aangery. Ek wonder waaraan die bestuurder dink, met die sien van twee kaal mans, wat langs die hoofweg staan. Hy gee ons ’n paar komberse, en ry weg.”
Gates het die volgende gebeurtenis as volg onthou: “Honger en uitgeput, het ek gevoel ek kon nie ’n tree verder stap nie. … Ons het langs die pad gaan lê, sonder enige idee wie daar sal aankom, te gedaan om om te gee. Skielik het ’n kar daar aangery gekom, gestop, en twee mans het uitgeklim. In my hele lewe, was daar niemand wat ooit beter gelyk het nie. … Ons het mekaar omhels.”
In die swart tweesitplek-Matford Roadster is die New York Times se korrespondent, Herbert L. Matthews, en Ernest Hemmingway, wat die oorlog vir die North American Newspaper Alliance gedek het. “Dié skrywers het ons die goeie nuus gegee van die baie vriende wat veilig is”, het Gates geskryf, “en ons het hulle die slegte nuus vertel van sommige wat nie veilig was nie”. Hemmingway en Matthews het gereeld oor die Amerikaanse vrywilligers in Spanje gerapporteer, en het party van hulle goed geken. Baie van hulle is nou vermis, sowel as majoor Robert Merriman van California. Hy was die stafhoof van die XV Internasionale Brigade, wat laas omtrent tien myl terug opgemerk is, terwyl hy ’n groep soldate gelei het, wat op die punt verkeer het om deur Franco se troepe omsingel te word. Nie een van die vier manne by die rivier, het enige nuus oor sy lot gehad nie.
“Daar is honderde manne wat nog steeds anderkant die Ebro is”, het Watt geskryf. “Baie is dood. Hoeveel is gevange geneem? Ons het geen idee nie. Matthews is besig om aantekeninge te maak. Hemmingway is besig om die fasciste te vervloek.” Die romanskrywer se berugte windmakerstap, en sy geswets, was daar vir almal om te sien, hoewel sy gehoor uit net twee nat, bewende manne bestaan het, wat geen klere gedra het nie, maar slegs komberse om hulle gehad het. “Terwyl hy na die oorkantste oewer van die rivier gekyk het,” het Gates onthou, “het Hemmingway sy forse vuis geskud. ‘Julle fascistiese bliksems het nog nie gewen nie,’ het hy geskreeu. ‘Ons sal julle wys!’”
~
Die oorlog waarin hierdie vier Amerikaners mekaar naby ’n rivierwal, so ver van die huis af raakgeloop het, was ’n deurslaggewende gebeurtenis in Spanje se geskiedenis. In daardie tyd, is dit ook beskou as ’n morele en politieke toetssteen, ’n wêreldoorlog in die embrio, in ’n Europa waar die wolk van fascisme, vinnig oor hulle toegesak het.
~
Min Amerikaanse vrywilligers het dit betwyfel, dat hulle in die eerste gevegte betrokke was, van ’n wêreldoorlog wat aan die kom was, en hulle was reg: op watter ander plek is Amerikaners, vier jaar voor die Verenigde State oorlog teen Duitsland en Japan verklaar het, deur Nazi-loodse gebombardeer? In ander lande is daar ook deur baie gevoel, dat die Spaanse oorlog, die era se toetsgrond was.
“Manne uit my generasie” het Albert Camus, die Franse romanskrywer, geskryf, “het Spanje in ons harte gehad. … Dit was daar waar hulle geleer het … dat mens reg kan wees, maar tog kan verloor; dat geweld die gees kan verslaan; en dat daar tye bestaan dat mannemoed nie beloon word nie.”
Next →
← Previous