Legende van ’n goue stad

Posted on December 04, 2018 by Cape Rebel


Uit “Lost City”
In A Bekkersdal Marathon
deur Herman Charles Bosman

 

“As jy daaroor begin dink,” het die skoolmeester gesê, “is dit egter ’n snaakse ding dat daar, vir soveel honderde jare, toe die binneland van Suid-Afrika nog ongeëksploreerd was, die legende van ’n Goue Stad was. En die mense was so oortuig oor die bestaan van daardie stad, dat hulle daarvoor gaan soek het. Hulle was so seker dat daar wel daardie stad van goud was, dat hulle dit selfs op hulle kaarte aangeteken het. En wat vir my so buitengewoon lyk, is dat daardie stad eendag inderdaad sou verrys, en selfs nie te ver weg vanwaar die ou aardrykskundiges dit, eeue gelede, op hulle landkaarte aangedui het nie. Dit was asof hulle almal die opkoms van Johannesburg voorspel het. En hulle was hoogstens net ’n paar honderd myl uit.”

Dat ’n mens eeue gelede in staat kon wees om op ’n kaart ’n stad wat nog nie bestaan het nie, aan te dui – vir hom was dit een van die geheimenisse van Afrika, het die skoolmeester verklaar.

Oupa Bekker het daarop gesê dat, as die skoolmeester gedink het dat iets soos dit wonderlik was, die skoolmeester nog baie gehad het om te leer.

“Alles in ag genome, met Suid-Afrika wat so groot is,” het oupa Bekker gesê, “sou dit vir hulle onvermydelik wees om êrens daarin stede te gaan bou. Dis redelik om so te dink. Vir ’n persoon om dus ’n merk op ’n landkaart aan te bring en om te sê dat daar eendag ’n stad daar of daar êrens sal wees – wel, wat wonderlik sou gewees het, was, ás dit nie een of ander tyd sou plaasgevind het nie. En om te sê dat dit selfs verbasend was hoe ’n mens eeue gelede daardie aantekening op ’n landkaart gemaak het – wel, dit wys jou net hoe swak hy met so iets was. As die oprigting van Johannesburg kort nadat hy dit voorspel het, plaasgevind het, dan kon daar toe iets daarin gesteek het. Maar dit lyk vir my dat die man wat daardie landkaart geteken het, nie net ’n paar honderd myl uit was nie, soos meneer Vermaak gesê het, maar dat hy ook ’n paar honderd jaar uit was. En verder het hy ook die naam verkeerd gekry. Tensy julle almal dink dat daardie naam – wat was dit nou weer?”

“Monomotapa,” het jong Vermaak aangekondig.

“… die klank klink nie juis veel anders as Johannesburg nie,” het oupa Bekker gesê.

Al dié goed het hom aan sy grootoom Toons laat dink, het oupa Bekker gesê. Dít was nou iets wat regtig ’n verrassing vir ons was. Die algemene gevoel wat ons vir oupa Bekker gehad het, was ’n gevoel van ontsaglike bejaardheid, van groen en eeue oue ouderdom. In die verlore outydse stede waarvan ons gepraat het, kon ons, sonder om twee keer te dink, aan oupa Bekker die reg van eerbiedwaardige burgerskap verleen. En in daardie verbrokkelde dorp kon ons ons voorstel hoe oupa Bekker in die aand tussen die spinnerakoortrekte monumente gewandel het. Dit het gelyk of hy by die gehawende, maar tydlose, oudhede gehoort het.

Dit was natuurlik dwaas om sulke idees te koester. Maar dit was die indruk na gelang van sy voorkoms en persoonlikheid wat oupa Bekker op ons gemaak het.

En toe oupa Bekker dus oor homself gepraat het, dat hy ’n grootoom gehad het, het dit ons asems omtrent weggeslaan.

“En jy het van jou grootoom gesê?’ het Jurie Steyn, wat die eerste een was wat weer tot verhaal gekom het, opgemerk. Uit sy stemtoon kon jy hoor dat Jurie Steyn oupa Bekker se grootoom voorgestel het as ’n verlore stad, met bossies wat oor sy bouvallige mure geklouter het.

“My grootoom Toons,” het oupa Bekker voortgegaan, heel onbewus oor die beroering wat hy veroorsaak het, “toe hy Transvaal – wat net oop veld was – vir die eerste keer binnegetrek het, het ook die gewoonte gehad om elke nou en dan te stop, en om hom heen te kyk, en te sê dat daar eendag op hierdie plek waar hy toe gestaan het, ’n groot stad sou verrys, reg daar waar hy in die oop veld gestaan het. Op sy pad boontoe, toe hy Noord-Transvaal binnegetrek het, het hy stilgehou om dit te sê waar Potchefstroom vandag staan, en ook waar Johannesburg en Pretoria vandag staan. Op daardie manier kon jy sê dat hy net so goed was as die man wat die kaart opgestel het. En ek neem aan dit was so. Dit wil sê, as jy nie al daardie honderde ander plekke waar my grootoom Toons ook gestop het en dieselfde ding gesê het, waar daar vandag nog steeds net oop veld is, in ag neem nie.”

Dit was Jurie Steyn wat die gesprek teruggeneem het na waar ons begin het.

“Daardie ekspedisies wat na die verlore stad gaan soek,” het hy vir At Naudé gevra, “het hulle al vertrek? En weet jy of hulle enigsins moontlik hierlangs verby sal gaan? Want, as dit die laaste briewe, en so voorts, is wat hulle huis toe wil stuur, dan is my poskantoor net so goed soos enige ander. Wat ek bedoel is dat hulle laaste briewe ’n goeie kans het om op te daag daar waarheen hulle geadresseer is. Ek sê nie die ekspedisies het ’n goeie kans om by die verlore stad uit te kom nie. Maar in plaas daarvan om al daardie moeite te doen, waarom pos hulle nie maar net ’n brief na die verlore stad toe nie – sê maar ’n brief aan die burgemeester? Dan weet hulle ten minste of die verlore stad daar is of nie.”

Maar At Naudé het gesê, ná wat hy op die draadloos gehoor het, die ekspedisies óf op die punt gestaan het om te vertrek, of dat hulle alreeds vanuit Johannesburg vertrek het. En na gelang van wat Jurie Steyn gesê het oor die skryf van briewe – wel, hy het die gevoel gehad dat meer as een van die briewe wat hy self gepos het, daar in daardie verlore stad opgeëindig het.

“Johannesburg?” het oupa Bekker gevra, en gepraat asof hy uit ’n droom ontwaak het. “Wel, ek was slegs ’n paar keer in Johannesburg. Sê nou maar soos, vir die Skou. En ek het op pad Kaapstad toe daardeur gery. En ek het altyd probeer om die gordyne van die kompartement waarin ek was wanneer ons deur Johannesburg gery het, af te trek. En dan het ek aan die Goeie Boek gedink.

“En ek het gedink dat, as daar ooit ’n verlore stad was, dit Johannesburg moet wees. Het ek gedink. En hóé verlore, het ek gedink … Dis nie nodig vir die ekspedisie om Johannesburg te verlaat nie, as dit ’n verlore stad is waarna hulle soek.”


Next

Previous