Kompleksiteitsteorie: die Sneeustorting en die Sneeuvlokkie

Posted on September 13, 2016 by Cape Rebel

Click here for Podcast

Uit The Big Fall
deur James Rickards

Een van my gunstelinge is dit wat ek “die sneeustorting en die sneeuvlokkie” noem. Dis ’n metafoor vir die manier waarop die wetenskap eintlik werk, maar verstaan my duidelik: dit is nie net ’n metafoor nie. Die wetenskap, die wiskunde en die dinamiek is eintlik presies dieselfde as dit wat in finansiële markte van toepassing is.

Veronderstel jy is langs ’n berghang. Jy kan die vallende sneeu sien saampak op die rug van die berg. Deur net na die toneel te kyk, kan jy sien dat daar die gevaar van ’n sneeustorting bestaan. Die wind waai … dis onstabiel … en as jy ’n kenner is, weet jy dat dit gaan neerstort, en skiërs sal sterf, en die dorpie aan die voet van die berg gaan uitgewis word.

Jy sien ’n sneeuvlokkie uit die lug op die saamgepakte sneeu val. Dit versteur ’n paar ander sneeuvlokkies wat daar lê. Dan begin die sneeu verder versprei … dan begin dit gly … dan tel dit spoed op … totdat dit uiteindelik losraak en die hele opstapeling van sneeu na benede stort, en die dorp begrawe.

Vraag: Wat dra die skuld? Blameer jy die sneeuvlokkie, of is die onstabiele opmekaarstapeling van sneeu aanspreeklik?

Ek sê die sneeuvlokkie is irrelevant. As dit nie die een sneeuvlokkie was wat verantwoordelik was vir die sneeustorting nie, kon dit die een voor hom gewees het, of die een daarna, of die een wat môre sal val. Die onstabiliteit van die sisteem as ’n geheel was die probleem.

Wanneer ek dus dink aan die risiko’s in die finansiële sisteem, fokus ek nie op die “sneeuvlokkie” wat die probleme sal veroorsaak nie. Wat dit aan die loop gaan sit, is nie van belang nie.

’n Sneeuvlokkie wat heel onskuldig geval het – die oorgrote meerderheid van alle sneeuvlokkies – faal tegnies daarin om ’n kettingreaksie te ontketen. Wanneer ’n kettingreaksie eers begin het, vergroot dit eksponensiaal en kan kritiese afmetings aanneem (soos met ’n atoombom) en kan genoeg energie vrystel om ’n stad te vernietig. Die meeste neutrone het egter nie kernkettingreaksies tot gevolg nie, net soos die meeste sneeuvlokkies nie sneeustortings tot gevolg het nie.

Aan die ou einde gaan dit nie oor sneeuvlokkies of neutrone nie. Dit gaan oor die aanvanklike kritiese toestande wat die moontlikheid van ’n kettingreaksie of ’n sneeustorting toelaat. Hulle kan veronderstel of voorgestel word en op groot skaal waargeneem word, maar die presiese oomblik wat die kettingreaksie begin, kan nie waargeneem word nie. Dis omdat dit op so ’n klein skaal begin relatief tot die stelsel. En dit is die rede hoekom sommige mense na hierdie sneeuvlokkies verwys as “die swart swane”, want hulle is onvoorspelbaar en hulle koms is ’n verrassing. Maar eintlik is hulle nie ’n verrassing nie, as jy die sisteem se dinamiek verstaan en jy die sisteem se skaal kan beraam.

Dit is ’n metafoor, maar die wiskunde wat daaragter skuil, is regtig dieselfde. Vandag se finansiële markte is ontsaglik groot, onstabiele berge van sneeu wat wag om inmekaar te stort. Jy kan dit sien in die bruto nasionale waarde van derivatiewe.

In die wêreld is daar derivatiewe ter waarde van $700 triljoen. Hulle verskyn nie op enige balansstaat nie – hulle is versteekte verpligtinge in die wêreld se bankstelsels. Dié getal is nie uit die duim gesuig nie. Gaan maar na die IS se jaarlikse verslag, en kyk – dit verskyn daar in ’n voetnota.

Nou ja, hoe kan mens $700 triljoen in perspektief beskou? Dit is tien keer die globale bruto binnelandse produk. Neem die hele wêreld se goedere en dienste oor die periode van ’n volle jaar. Wanneer jy alles bymekaartel, is dit omtrent $70 triljoen. Neem nou tien maal daardie bedrag, en dit is hoe groot die opeenhoping van sneeu op die berg is.

Dít is die sneeustorting wat wag om na benede te rol.


Next

Previous