deur Ferenc Laszlo
Uit Reader's Digest, April 1956
Daardie September-oggend in 1946 toe ek op die jammerlike Keleti-spoorwegstasie in Budapest, Hongarye, gestaan het, het ek hard probeer om my angstigheid te onderdruk. Ek het geweet dat paniek my planne skipbreuk kon laat ly. Al biddende het ek gewag vir die naam Oscar Zinner om uitgeroep te word – selfs al het ek geweet dat dit my ondergang sou kon beteken.
Sedert tien dae tevore het ek nog nooit van Oscar Zinner gehoor nie. Toe het ’n ou vriend, wat inligting gehad het oor die ontruiming van Oostenrykers wat in Budapest gewoon het, my in die geheim kom sien.
“Een man op die lys vir hervestiging,” het hy gesê, “het nog nie geantwoord op die briewe wat hom verwittig het oor die laaste trein wat Oostenrykse vlugtelinge na Wene, huis toe vat nie. Hy mag selfs dood wees. Hierdie man is ’n portretskilder met die naam van Oscar Zinner. Sou jy dalk belangstel om die risiko te loop om onder sy naam die rit na vryheid aan te pak?”
Sou ek? Dit was dringend noodsaaklik dat ek so gou as moontlik uit my eie land moes vlug. Gedurende die Nazi-besetting, en lateraan as ’n onwillige onderdaan van Hongarye se kommunistiese regime, was ek ’n Geallieerde inligtingsagent in Budapest. Maar onlangs het die Soviet se slagyster op verskeie van my onmiddellike kollegas toegeslaan, en ek moes gaan skuil.
Daar sou geen paspoorte nodig wees om my identiteit van Ferenc Laszlo na Oscar Zinner te verander nie, want die Russe het alle dokumente in bykans elke huis in Budapest geplunder en verbrand.
My vriend het getikte bladsye van Zinner se biografiese gegewens voor my uitgesprei. “Jy is nou die skilder Oscar Zinner,” het hy gesê. “Sit en leer. Jy moet nou in elke gedagte en in alles wat jy doen, Zinner word.”
Hy het op die papiere geklop. “Die kommunistiese grenswagte sal ’n afskrif hiervan besit. Ek hoef jou nie te vertel hoe noukeurig en fyn hulle kontroleer nie. ’n Verdere afskrif sal in die besit van die toesighouer van julle groep wees. Hy ken Zinner nie. Maar wanneer die naam by die stasie uitgeroep word, moet jy so ’n bietjie wag voordat jy daarop antwoord.”
“Wag?” het ek gevra.
“Daar is ’n moontlikheid dat Zinner op die laaste oomblik mag opdaag,” het hy verduidelik. As twee van julle sou antwoord, sal dit ’n ramp wees vir die een wat nie Zinner is nie.”
Vir die volgende paar dae het ek Oscar Zinner se lewensverhaal bestudeer. Ek kon die huis waar hy in Graz, Oostenryk, gebore was, beskryf. Ek het van sy opvoedkundige agtergrond geweet, sy gewoontes, waarvan hy gehou en nie gehou het nie, en selfs sy skilderstyl. Ek kon onthou wat kritici te sê gehad het oor sy skilderye, die pryse wat dit behaal het, en wie dit gekoop het.
Uiteindelik, laat die aand voor my beplande vertrek, het ek die Franz Josefbrug oorgesteek en die inkriminerende biografiese notas, in flentertjies opgeskeur, en in die Donau laat fladder.
~
’n Skielike, skerp kraakgeluid, afkomstig vanuit die stasieluidspreker, het my teruggeruk na die huidige. ’n Rasperstem het begin om ’n lys van name, alfabeties, uit te roep.
My maag was op ’n knop. Waarom moes my nuwe naam met die laaste letter van die alfabet begin?
Uiteindelik blaf die stem: “Zinner – Oscar Zinner.”
Ek wou skree. Maar in plaas daarvan het ek met ’n bonsende hart en die ene ore gewag. Ek het innerlik gebid dat daar geen antwoord moes wees nie.
“Zinner,” het die stem weer uitgeroep, maar dié keer meer weerbarstig.
Ek het na vore gestap. “Hier,” het ek bedees gesê. Die egte Zinner het nie van hom laat hoor nie.
Ons is toe opgedeel in groepe van tien, en toe in kompartemente in die trein ingeprop. Ek het die storie oor en oor in my gedagtes losgetorring. “Ek is ’n portretskilder. Ek is in Graz gebore. My pa was ’n argitek …”
’n Skerp gefluit op die perron het die sein gegee vir die trein om sy reis te begin. Dit het nie beweeg nie. Skielik kon harde Russiese stemme aan die end van die treinwa gehoor word. Vier Sowjet-offisiere het verby die deur van ons kompartement gemarsjeer. Hulle het by die volgende kompartement gestop, en ek het gehoor hoe hulle die insittendes uitbeveel het, gang toe. Hulle het toe self die kompartement beset, en kort daarna het ek hulle heerlik hoor lag, met die geklink van glase. Die fluit het weer geblaas, en dié keer het die trein met ’n ruk in beweging gekom.
Soos ons spoed opgetel het, het ek gewonder wanneer ek my land weer sou sien. Ek het egter ook besef dat dit toe onvanpas was om treurig te wees. Ek is Oscar Zinner wat huis toe gaan, Wene toe.
Die trein het kreunend by Kelenföld tot stilstand gekom. Dit was die eerste kontrolepunt. Dit was nie vir ons nodig om lank te wag vir die Sowjet-kontrole-offisier en sy tolk om op te daag nie. In die gang het swaar gewapende Russiese soldate wat hulle vergesel het, die verrigtinge stompsinnig gestaan en dophou.
Die Sowjet-offisier, ’n klein mannetjie met ’n uit-klip-gekapte gesig, het met die vrou aan die oorkant begin. Terwyl hy die dun biografiese bladsye gerangskik het, het hy haar met vrae op Russies gepeper – wat die tolk in Duits vertaal het. Hy het na die man langs die venster aan my kant van die kompartement aanbeweeg. Ek het weer ’n keer herhaal wat ek moes sê: “Ek is ’n skilder. Ek is in Graz, Oostenryk, gebore. My naam is … my naam is …”
Sweet het op my voorkop uitgeslaan en my hart het in my keel geklop. ’n Vreemde verstandelike versperring, sonder twyfel veroorsaak deur senuspanning en onderdrukte paniek, het my toegelaat om alles van die man wat ek voorgegee het om te wees, te onthou – behalwe sy naam.
Asof van ver af, deur ’n mis, het ek die skerp stemme van die inspekteur en sy tolk gehoor toe hulle na die vrou langs my beweeg het.
“Asseblief, Here,” het ek gebid, “wat is my naam? Ek is ’n portretskilder. My naam is …”. Dit het nie gehelp nie. Die naam wou nie kom nie.
Op daardie oomblik het ek die deur van die kompartement langsaan hoor oopskuif. Daar was ’n kort, lewendige gepratery buite in die gang, en toe het ’n Rooi Weermag-kolonel sy kop by ons kompartement ingesteek.
“Wer spielt Schach?” het hy gevra.
Ons inspeksie-offisier het omgedraai en die onderbreker aangegluur, maar toe eerbiedig teruggestaan onder die starende blik van sy hoër militêre gesag. Omdat ek die naaste aan die deur was, het dit gelyk of die kolonel se volgende vraag aan my gerig was.
“Spielen Sie Schach?” het hy gevra.
Ek het tien jaar laas skaak gespeel, maar dit het nie saak gemaak nie. Dit was dalk presies die blaaskans wat ek nodig gehad het. Niemand anders in die kompartement het gepraat nie.
“Ja. Ich spiele Schach, “het ek gesê.
Die kolonel het my gewys om hom te volg.
In die Russiese kompartement was daar nog twee kolonels en ’n generaal vol medaljes. Hy was ietwat aan die vet kant maar steeds ’n sterk en groot derduiwel, so in die vroeë vyftigs. Klaarblyklik was dit hy wat lus was vir ’n spel skaak, want hy het my aangedui om oorkant hom te gaan sit.
Langs my was daar dosyne toebroodjies en ’n boks lekkergoed. Op ’n klein tafeltjie onder die venster was glase, vodka, Hongaarse brandewyn en wyn. Die generaal het my takserend aangekyk, en toe na die kos en vodka gewys. “Davai,” (“Help jouself”) het hy in Russies gebrom.
Ek het in folterende afwagting iets geëet. Enige oomblik kon een van die Russe my vra wat my naam was of, nog erger, die inspekteur kon sy opwagting gemaak het.
Toe die trein begin uitstoom, het die generaal die skaakbord uitgehaal en die stukke op hulle plekke geplaas.
“Die Here moet my help,” het ek gedink. “Hierdie spel gaan die spel van my lewe wees. Ek moet goed vertoon, maar tog kan ek dit nie bekostig om te wen nie.” Ek het nog nooit van ’n Rus gehoor wat dit nie haat om te verloor nie, of van ’n skaakspeler wat daarvan hou om vir ’n lang tyd te speel tensy sy opponent dit vir hom interessant maak.
Terwyl ons gespeel het, het sommige van die kunsies van die spel stadig na my toe teruggekom. Die ander offisiere het die spel in stilte dopgehou, blykbaar van mening dat die generaal ’n baasskaakspeler is. Feit was dat hy wel ’n besondere goeie speler was, maar dit was vir my moontlik om hom te laat swoeg vir elke voordeel wat hy kon behaal.
Die tyd het verbygevlieg soos dit maar gaan met elke spannende skaakslagveld, en toe het ek skielik agtergekom dat die trein by Györ stadiger beweeg het. Dit was ons tweede kontrolepunt, en my gedagtes het aan die loop gegaan. Die deur het oopgegly en die toesighouer van die Oostenrykse groep het ingestap. “Ons het nog nie dié man ondervra nie,” het hy met ’n ferm stem gesê.
Dit was nie vir my nodig om bekommerd te gewees het nie. Die generaal het opgestaan, sy groot oopgespreide hand wat soos ’n beer se poot gelyk het, teen die man se bors gesit en hom tot buite in die gang gestoot. Toe het hy die deur toegeslaan en na die skaakbord gewys.
“Davai, Magyar,” (“Dis jou skuif, Hongaar”) het hy gebrul.
Hongaar? Ek het natuurlik van Hongarye afgekom, maar dié verspreking – as dit wel só was – het my ore laat tuit.
Na die eerste spel, wat die generaal gewen het, het hy iets aan die offisier wat Duits gepraat het, gesê. “Die generaal geniet jou spelstyl,” het laasgenoemde vertolk. “Hy gaan nog ’n spel met jou speel.”
Voordat ons weer kon begin, het die generaal egter daarop aangedring dat ons eers ’n glasie klink.
Met die warm gloed van selfvertroue na die vodka, was ek toe heel roekeloos, en het verlore geraak in die spel. Skielik het ek besef dat ek op die rant van ’n oorwinning gestaan het. Net die laaste paar beslissende skuiwe het oorgebly toe die trein by Hegyeshalom stadiger begin ry het. Dit was ons finale beheerpunt. Hier sou ek wen of verloor – nie slegs ’n spel nie, maar alles waarvoor ek gelewe het.
Dosyne Rooi soldate het die prosessie tolke en veiligheidswagte begelei. Gewere het oor hulle skouers gehang en granate aan hulle belde. Hulle het slegs by ons kompartement ingeloer en toe na die volgende kompartement aanbeweeg. Daar moes die omgekrapte groepleiertjie hulle seker vertel het van die “Oostenryker” wat saam met die offisiere gesit het, want een van die wagte het teruggekeer om ondersoek in te stel. Hy het flink en netjies by die deur ingestap, gesalueer, en vinnig in Russies gepraat – terwyl hy terselfdertyd na my gewys het.
Weereens het my brein vasgevries van vrees. Die generaal sou hulle verseker hierdie keer toelaat om my te ondervra, al is dit net om verdere onderbrekings te verhoed. “Ek is ’n portretskilder, en my naam is …,” het ek heel desperaat aan myself gesê. Maar steeds kon ek nie die naam onthou nie.
Terwyl die wag gepraat het, het die generaal se gesig stadig ’n pers kleur aangeneem. Ek het geen idee gehad wat die wag hom vertel het nie, maar dit het hom woedender gemaak as wat ek al ooit iemand gesien het.
Hy het na my gekyk met oë gloeiend van verontwaardiging. Toe het hy versigtig die skaakbord opgetel en op die tafel onder die venster geplaas, en opgestaan.
“Dis my laaste dag,” het ek gedink. “Om so naby te kom …”
Die generaal het sy arm voor sy liggaam gekruis, soos iemand wat sy swaard uit sy skede gaan trek. Toe het hy dit met ’n boog opgeswaai, en met die rugkant van sy hand die wag deur sy gesig geklap. Die man het teruggesteier en die gangmuur met ’n slag getref.
Die generaal het die deur so hard toegeslaan dat die venster geratel het. Hy het weer kom sit terwyl hy iets binnensmonds gebrom het. Hy het die skaakbord opgetel en die skaakstukke bestudeer.
“Davai, Magyar,” het hy gesê.
My hart het in my bors geklop van verligting. Niemand sou dit durf waag om weer in te kom nie – daarvan was ek seker. Terwyl die trein spoed opgetel het, het verlossing van die nare spanning oor my gevloei, sodat ek, vir die eerste keer, geglimlag het. Die generaal het opgekyk van die skaakbord af, en ook geglimlag. Hy het met die jong offisier gepraat wat toe aan my gesê het: “Die generaal het gewonder of jy daarvan sou hou om op een of ander tyd in Wene skaak met hom te speel. Waar kan hy jou kontak?”
Onwillekeurig het ek die naam van ’n bekende hotel in Wene genoem.
“En jou naam?” het die jong offisier my verder gedruk.
Sonder die aaklige, krampagtige angs, het ek nou gehuiwer, maar net vir ’n oomblik. Hoe kon ek daardie twee eenvoudige woorde vergeet het?
“My naam,” het ek gesê, “is Oscar Zinner.”
Next →
← Previous