Uit Spain In Our Hearts
deur Adam Hochschild
Click Here to Play Podcast
By sommige plekke, soos by die buitewyke van Madrid, het die oorlogsfront gelyk soos goed ingegrawe, opponerende rye loopgrawe, iets waaraan Europa vanaf 1914 tot 1918 deeglik bekend geraak het. Elders egter het die skeidslyn tussen die Republikeinse en die Nasionalistiese magte deur die bergagtige, karig bevolkte omgewing gekronkel. Op sulke plekke was die frontlinies oneweredig en poreus, en baie Republikeinse guerrilla-krygsbendes het daar invalle oor die grense na Nasionalistiese grondgebied geloods. Teen die somer van 1937 het ongeveer 1,600 manskappe in ’n halfdosyn kampe onderrig in guerrilla-taktiek by Sowjet-instrukteurs ontvang.
Aan die hoof van een so ’n guerrilla-eenheid was Antoni Chrost, ’n Poolse kommunis afkomstig uit die werkersklas. Hy was een van die eerste buitelandse vrywilligers wat Spanje bereik het. Sy basis was die dorp Alfambra wat halfpad tussen Madrid en Barcelonais gelê het. ’n Bergreeks het Alfambra geskei van ’n lang strook Nasionalistiese grondgebied wat soos ’n dolk in die Republikeinse sone gesteek het. In hierdie stuk land is daar ’n pad en ’n spoorlyn wat na die provinsiale hoofstad, Teruel, aan die punt van die dolk gelei het. Hierdie belangrike voorsieningsroetes, slegs 15 myl oor die berge van Alfambra af, was die teikens vir Chrost se guerrilla-strooptogte.
Volgens Chrost het hy eendag by sy hoofkwartier aangekom waar hy ’n vreemdeling gesien het wat in gesprek was met ’n politieke kommissaris. Dit het gelyk asof dié besoeker, wat lank en fors gebou was, en met ’n snor gespog het, dit geniet het om sy repertoire van Spaanse vloekwoorde ten toon te stel. “Me cago en la leche de la madre que te parió (Ek skyt in die melk van die moeder wat geboorte aan jou gegee het),” het hy heel hartlik gesê toe Chrost hom vir sy identifikasiebewys gevra het. Die nuweling het dadelik die vrygeleidedokument, afkomstig van ’n weermagbevelvoerder met ’n hoë rang, te voorskyn gebring. Dit het gevra dat die draer – wie se naam Chrost nie herken het nie – voorsien moes word van enige hulp wat hy sou benodig. Daarna het die besoeker ’n hele stroom vrae gevra oor hoe die guerrillas geopereer het. Byvoorbeeld, wie hulle deur en agter die Nasionalistiese linies geleide gedoen het?
“Die gidse word gewerf uit die streek waar die aksie sal plaasvind,” het Chrost verduidelik. “Hulle ken elke pad, elke voetpaadjie. … Wanneer die aksie naby die linies is, gebruik ons net een. Wanneer dit verder weg is, gebruik ons baie. … Die guerrillas noem hulle lewende kompasse.”
“Ek is rasend honger!” het die vreemdeling hulle in die rede geval toe hy die kos geruik het wat hulle besig was om voor te berei. Terwyl hulle met aandete besig was, het die twee mans met hulle gesprek voortgegaan. Dit het geëindig toe die vreemdeling aangebied het om Chrost aan ’n meisie in Valencia voor te stel. Chrost het dit van die hand gewys, en sy gas het hom daarop gegroet en gesê: “Salud, jou agterdogtige kêrel.”
So ongeveer ses weke later, het Chrost gesê, het die besoeker teruggekeer met twee offisiere van die leërkorps wat Chrost se eenheid beheer het, en met amptelike toestemming om deel te neem aan ’n guerrilla-strooptog – daar is gespesifiseer dat hy met die strooptog onder Chrost se bevel sou wees. Die doelwit van hierdie een nagtelike strooptog was om ’n trein op te blaas terwyl dit ’n brug op die spoorlyn na Teruel oorgesteek het.
Die nag van die strooptog was daar vir meer as twaalf en ’n halfuur donkerte – die maan het meestal glad nie geskyn nie. Dit was genoeg tyd om oor die berge tot by die spoorlyn te kom en die meeste van die terugtog ook agter die rug te kon kry. Die manne het die voorrade wat hulle moes dra onder mekaar verdeel, en die besoeker het sy deel, wat ligter as die ander was, ook gekry. Dit het bestaan uit kos, ’n rewolwer en handgranate. Die groep het versigtig die donkerte ingeloop en uiteindelik die spoorwegbrug wat hulle moes opblaas, gevind. Hulle het eers in ’n klomp wilgers weggekruip en toe in ’n sloot.
Rook en vonke wat op die spoorlyn sigbaar geword het, het aangedui dat die trein aan die kom was. Toe dit die brug, waar die manne dinamiet geplant het, bereik het, het die ontploffing soos beplan, afgegaan en party van die waens heeltemal vernietig.
Ná hulle flink terug oor die berge geloop het, het die guerrillas Alfambra bereik. Chrost het almal van hulle beveel, asook die besoeker wat aanvanklik al brommende kapsie gemaak het, om hulle voete in warm soutwater te week – ’n Poolse boereraat waarvan gesê is dat dit blasé verminder. Toe het hulle hul sukses feestelik gevier met gebraaide lamsvleis en wyn. Chrost het onthou dat die geheimsinnige gas toe vir die eerste keer meer van hom (Chrost) wou weet: was hy ’n Rus?
“Nee, ’n Pool,” het Crost gesê.
“Maar in my boek,” het die man geantwoord, “sal jy ’n Amerikaner wees.”
Die vreemdeling was natuurlik Ernest Hemmingway wat nooit enigiets omtrent hierdie guerrilla strooptog geskryf het of in die openbaar gesê het nie.
Eers twintig jaar later het Chrost sy kant van die storie vertel. Daarom het lesers nie geweet nie dat die sentrale episode in die roman, For Whom The Bell Tolls, wat drie jaar ná dié nagtelike strooptog verskyn het, op meer as net die romanskrywer se verbeelding gebaseer was.
Next →
← Previous