In Die Berge Suiwer As Gevolg Van Patriotisme

Posted on July 27, 2017 by Cape Rebel

Uit Abducting A General
deur Patrick Leigh Fermo

 

Ek het aan die gesagdraers van die SOE aanbeveel en voorgestel dat generaal Müller ontvoer moes word. Hy was in bevel van die 22ste Bremen (“Sebastopol”) Pantsergrenadierdivisie wat in Herakleion gebaseer was. Ek het daarop aangedring dat dit dié soort aksie was wat ons almal in Kreta nodig gehad het. Die generaal was alom gehaat en gevrees – miskien selfs meer as generaal Bräuer in Canea (hulle is albei in 1946 as oorlogsmisdadigers tereggestel) – vir die ontsettende wreedheid van sy bewind: sy mishandeling van die bevolking wat as werkspanne by die vliegvelde gebruik is; die gyselaars wat en masse doodgeskiet is; die dorpies en hulle inwoners wat uit weerwraak vernietig is; en die Gestapo se foltering en teregstellings.

Die morele skade aan die Duitse magte in Kreta sou reusagtig wees, en dit sou ’n ernstige terugslag vir hulle selfvertroue en aansien wees. Dit sou op ons ook ’n uitwerking hê: ons korrekte en onopwindende taak – om te probeer om onreëlmatige optrede in voorbereiding vir die massa opstand  waarvoor ons almal gehoop het, te beteuel – was ’n veeleisende, en nogal ’n ondankbare taak. Maar bowenal sou dit ’n verfrissende uitwerking op die Kretensers hê. Ons gemoedere, na die terugslae in die Viannos-gebergtes ten tyde van die Italiaanse wapenstilstand, was bedruk, en een guerrilla-afdeling – dié  van Manoli Bandouvas – was tydelik ontbind. Dié daad sou ’n oorwinning wees vir die weerstandsbeweging wat die eiland so effektief en onwaarskynlik verenig gehou het. Dit sou ’n terugslag wees vir die onderhandelaars van die vasteland se linkervleuel-regering wat – gelukkig te laat – probeer het om dieselfde verdeeldheid in Kreta te bewerkstellig as dit wat klaar besig was om die vasteland uitmekaar te skeur.

Die voorgestelde aksie sou veral ’n Anglo-Kreta-aangeleentheid wees, ’n simbool en beliggaming van die band wat gedurende die Slag van Kreta in 1941 gevorm is, en die dertig maande wat daarop gevolg het. Ek het daarop aangedring dat dit met geheimhouding en tydsberekening gedoen kon word – op so ’n wyse dat bloedvergieting, en die gepaardgaande vergelding vermy kon word. (Ek het slegs ’n vae idee gehad hoe dit gedoen kon word.)

Tot my verbasing is die idee aanvaar.

~

Dit was nie nodig om vir my eerste rekruut te soek nie. Manoli Paterakis uit Koustoyérako in Selino, in die verre weste, was vir meer as ’n jaar my gids. Hy was ’n bokwagter en ’n vorige-polisiesoldaat wat verwoed teen die valskermsoldate gedurende die Slag van Kreta geveg het. Hy was ’n jaar of wat ouer as ek, onvermoeibaar, rotsvas soos graniet, so taai soos ’n Rooihuid, ’n uitstekende skut, en so vlugvoetig oor die berge soos die steenbokkies wat hy dikwels gejag het. Hy was, en is nog steeds, die voortreflikste tipe Kretense bergklimmer (hier sal daar baie van sy soort wees). Hy was totaal onselfsugtig, en was in die berge suiwer as gevolg van sy patriotisme; en sy samestelling van gesonde verstand, vrolikheid, stoïsisme, ironie en humor, tesame met sy ander kwaliteite, het hom waardevoller as tien ander gewone sterwelinge gemaak.

Ons was saam op honderde opmarse kamerade, en saam in baie skermutselinge betrokke. Ons het selfs die vorige somer gesamentlik ’n mislukte poging aangewend om ’n Duitse tenkskip met kleefmyne in die Herakleion-hawe te sink. Nie een van ons twee het bedoel om Kreta saam met die Italianers te verlaat nie – Manoli was by al die onlangse doen en late by die Italiaanse Algemene Hoofkwartiere teenwoordig – maar ongure weer het die vaartuig se vertrek vervroeg, en toe ons besef het dat die anker gelig was, was ons reeds te ver van die kus af om in die donker terug te swem. En so, gelukkig, was Manoli hier in Kaïro.

~

Ons het beplan om so na as moontlik aan Herakleion met die valskerms te land. Sandy Rendel, wat deur middel van radio bygestaan het, het ’n ideale plek daarvoor gevind. Maar ná opleiding in Palestina en heelwat vertragings, was dit nie voor vroeg in Januarie, ná ’n uitstekende Egiptiese Kersfees, dat ons na die Tokra-lughawe naby Bengazi gevlieg het nie. Hier, tesame met ’n horde mense wat reggestaan het om by Tito se guerrillastryders en die Griekse vasteland neergelaat te word, het ons dae lank gewag terwyl dit op ons tente gestortreën het – alles tevergeefs.

Uiteindelik is ons na Italië toe gevlieg waar ons vir die openingsaand van Die Barbier van Saville in die bomverwoeste Bari aangekom het, nou amper die hoofkwartier van die Agste Weermag. Dit was aangenaam om weer in ’n Europese dorp op die vasteland te wees, maar die dae wat ons moes staan en wag, was moeilik om te verduur. Maar uiteindelik, ná ons ’n halfuur vroeër ingelig is, is ons op dolle vaart suidwaarts deur die kegelvormige dorpies van Apulia vervoer. ’n Omskepte bomwerper het op die aanloopbaan by Brindisi gewag, en in trietserige Februarie-skemerdonker het ons opgestyg.

Nie lank daarná nie was ons alleen in die pikdonker behalwe vir die versendingsoffisier en die valskerms. Vier van hulle was vir ons, die ander vir die silindervormige houers. In ons klere en ook in die houers was die toerusting vir ons krygsverrigtinge: kaarte, pistole, bomme, kommando-dolke, knuppels, vuisysters, teleskoopvisiere, knaldempers, ’n bondel Marlin-submasjiengewere, ammunisie, draadkniptange, ingewerkte vyle vir tronktralies, magnetiese ontvlugtingstoestelle, seinfakkels, vermommings-maskers, muilbande, chloroform, toulere, goue muntstukke, stewige skoene, Bangalore torpedoes, elke moontlike plofstof van geligniet en skietkatoen tot  misleidende muilmis wat, so word daar gesê, ’n tenk in sy moer in kon blaas. Al die dinge wat spioenasieskrywers so lief is om graag en lank oor te skryf, was daar. Daar was ook amfetamien, noodverband, morfien, uitklopdruppels en pille vir selfmoord om in gedwonge gevangenskap aan te kou indien mens in die verkeerde klere gevang is. Ek het gehoop dat dit nie nodig sou wees om een daarvan te gebruik nie, veral nie die laaste een nie.

Heelwat later, terwyl daar hard geskree moes word om bo die lawaai van die enjin gehoor te word, het die versendingsoffisier ons uit ons beweginglose dwaal, wat snaaks genoeg tipies in sulke tye is, opgewek. Oral om ons was daar maanskyn, en toe sien ons die glinsterende rotse en kranse van die Wit Berge en Ida, en toe het ’n koue windvlaag uit die opening ingewaai ná die offisier die vloer oopgemaak het. “Spiti mas,” het Manoli gesê, terwyl hy afgekyk het: “My tuiste.” Maar dit was nie, behalwe vir my.

~

Die nagtelike sirkelvlugte oor die plato het die omgewing te warm vir ons gemaak. Net toe ons reggemaak het om ’n sein aan Kaïro te stuur om ’nrendezvous in die suide oor die see voor te stel, het ’n boodskap deurgekom met dié presiese boodskap. (Billy en die ander was reeds weer uit Italië op pad na Kaїro toe; uiteindelik het hulle koers ingeslaan na Mersa Martuh.) Gehelp deur ’n digte mis wat skielik verskyn het, het ek en Sandy net betyds wegbeweeg en padgegee met planne om later weer bymekaar te kom.

Maartmaand het verbygegaan terwyl ons in die sneeu en winderige weer rondbeweeg het. Ons het inligting ingewin, kontakte hernu, en die skuilplekke van ou helpers wat ons sou benodig, uitgesoek.

Een stukkie nuus wat ons laat in Maart ontvang het, was ietwat van ’n skok: generaal Müller was skielik deur Kreipe vervang. Hy was ’n generaal van die Russiese front af. Al die oponthoude het, in retrospek, net bitterder gevoel. Maar, het ek myself getroos, die morele effek van die bevelvoerder se gevangeneming sou net so groot wees, maak nie saak wie hy was nie. Al wat ek kon uitvind, was dat hy in bevel was van divisies by die Leningrad en Kuban-sektore, en dat hy gedekoreer was met die Ridderkruis van die Ysterkruis.

Uiteindelik, aan die begin van April, het ek, Sandy, nog ’n ervare vegter, John Stanley, en ’n klomp ander mense wat gereed was vir ontruiming, by ’n lêplek in die bergagtige terrein bokant die suidelike kus, nie ver van Soutsoura af nie, in afwagting gewag


Next

Previous