Geskommel Nie Geroer

Posted on September 07, 2017 by Cape Rebel

 


Uit Abducting A General
 
deur Patrick Leigh Fermor

 

Micky het Duitse uniforms vir my en vir Billy te voorskyn gehaal. Waarvandaan kan ek nie onthou nie. Dit was hulle somerse veldgrys. Hy het ’n paar krygsdekorasies, kentekens, lanskorporaalstrepe en pette gehad – alles heel oortuigend vir die kort rukkie wat hulle sigbaar sou wees. Hy het selfs ’n verkeerspolisieman se stok, met rooi en wit metaalskywe, gehad. Ons het dit met ons outomatiese Colt-wapens, aan die seilgordels met hulle Gott Mitt Uns-gespes, en kommando-dolke en sywapens, uitgetoets.

~

Die twee korporaals het in die middel van die pad gestaan met hulle gesigte in die rigting van die aansluitingspunt – Billy regs en ek links. Ná ’n klein rukkie het ’n kar met stywe gekleurde vlaggies op beide modderskerms, stadig om die hoek aangery gekom. Billy het sy metaalskyf gewaai en ek het my rooi flitslig heen en weer beweeg, en “Halt!” geskree. Die kar het tot stilstand gekom, en ons het na die linker en die regterkant van die hoofligte se strale beweeg. Ten spyte daarvan dat ons gedeeltelik in die donkerte was, was ons helder verlig, en het ons stadig, elkeen na sy aangewese deur, gestap. Die twee vlaggies was daar, maar miskien was slegs die bestuurder binne-in.

Deur die oop venster kon ek die goue koord, die Ridderkruis en ’n wit gesig onderskei. Ek het gesalueer en gesê: “Papier, bitte schön.” Die generaal het, met ’n offisier–na-manskap-glimlag, sy hand na sy binnesak gesteek, en toe het ek die deur met ’n ruk oopgemaak. Dit was wenk vir die res van die span om uit hulle skuiling te spring, en die binnekant van die kar is daarop helder verlig. Toe het ek “Hände hoch!” geskree, en met een hand my outomatiese pistool teen die generaal se bors gedruk – daar was ’n gesnak van verbasing – en toe die ander arm om sy lyf gegooi, en hom uit die kar getrek. Ek het ’n kragtige hou van sy vuis gevoel en ’n oomblik later het hy in Manoli se arms geworstel, en omdat daar geen ander passasiers was nie, in Antoni P. en Grigori s’n ook.  Na ’n kort worsteling, en ’n storm van verset en vervloeking in Duits, was die generaal stewig vasgebind – Manoli se boeie was om sy gewrigte, en hy is opgetel en agter in die kar gesit. Manoli en George het aan die teenoorgestelde kante ingespring, en Strati het hulle gevolg. Die deure is toegeklap en die geweerlope het by die vensters uitgesteek. Ek het die generaal se hoed, wat in die gestoei afgeval het, opgetel, in die generaal se leë sitplek gespring, die deur toegeslaan, en sy hoed opgesit.

Billy was reeds, heel kalm, voor die stuurwiel, met die deur toe en die enjin aan die luier. ’n Halwe sekonde nadat ek die regterkantste deur oopgemaak het, het Billy die linkerkant oopgepluk. Die bestuurder, wat hoogs onthuts was deur die skielike chaos, het sy hand uitgesteek na die Luger aan sy lyfband. Billy het hom met ’n pistool hard oor die kop geslaan. George het hom uit die kar gesleep en Billy het ingespring, vinnig na die brandstofmeter gekyk, die handrem getoets, en gesien dat die enjin steeds aan die loop was. George en Antoni Z. het die bestuurder, wat tydelik uitgeslaan en aan die bloei was, uitgedra na die beskutting van ’n voor toe.  (Toe die twee Antoni’s, Grigori en Niko, met hom aan die wegneem was – ons sou weer oor twee dae op die berg Ida ontmoet – was dit moontlik vir hom om te loop, maar nog taamlik onvas.) Micky en Mitzo het vanuit hulle posisies nadergehaas en skielik, behalwe vir Elias, was die hele span daar besig om by die kar in te leun, of alreeds binne-in. Micky het by ’n venster ingehang, sy gebalde vuis geskud en hartstogtelik geskree: “Lank lewe vryheid!” “Lank lewe Griekeland!” en, al dreigende terwyl hy na die generaal gekyk het: “Weg met Duitsland!” Die gevangene se ontsteltenis het my beweeg om hom te soebat om dit te staak – daar was alreeds ’n angswekkende kommando-dolk teen die generaal se keel.

Opgetoë, oorvloedige toejuigings, omhelsings en kloppe op die rûe, ’n geskreëry en gelag het ons vir ’n paar sekondes in sy greep vasgevang. Ek het skielik opgemerk dat die binnelig nog steeds gebrand het: die lig het op ons heel sonderlinge groep soos ’n towerlantern geskyn. Omdat daar nie ’n skakelaar sigbaar was nie, het ek dit met die kolf van my pistool bygekom, en die gerusstellende donkerte het ons omvou. Billy het die rem losgemaak en ons het weggery terwyl ons die twee te-voet-groepe vaarwel toegeroep het. (Met die ander uit die pad, sou Micky en Elias die uitrusting wegsteek, opruiming doen van enige tekens wat ons kon verklap, alle tekens van ’n stryd wegvee, en dan die pad vat Herakleion toe. Wanneer die nuus bekend sou raak, sou hulle hulpvaardige riemtelegramme die lig laat sien.) Al dié gebeurtenisse, wat tyd nodig gehad het om neer te pen, het, vanaf ons die kar die sein gegee het om te stop, slegs sewentig sekondes geneem. Almal was perfek.

Minder as ’n minuut later, vanuit die teenoorgestelde rigting, het ’n konvooi op ons afgepyl. Twee vragmotors vol soldate – met hulle gewere tussen hulle knieë, sommige met stormhoede, party met veldpette op – het verby ons gedreun. Ons stemme was net ’n gematigde fluistering. Ons het dit net gemaak.

Die generaal was steeds verbysterd. “Waar is my hoed?” het hy aanhoudend gevra. Ek het hom toe maar vertel waar dit was.

Ná ’n paar minute het ons deur Knossos gery, en toe ons Villa Ariadne genader het, het twee wagte wapens gepresenteer en ’n derde, deur ’n vierde wag aangesê, het die slagboom opgelig. Hulle moes verras gewees het toe ons aangery het, maar die wagte het weer na hulle op-die-plek-rus-posisie teruggestamp. Ek het op die sitplek gekniel, na agtertoe oorgeleun, en die woorde wat ek ingeoefen het, stadig en so ernstig as wat ek kon, gesê: “Herr Generaal, ek is ’n Britse majoor. Langs my is ’n Britse kaptein. Die manne langs jou is Griekse patriotte. Hulle is goeie mense. Ek is in beheer van dié afdeling, en jy is ’n eerbare krygsgevangene. Ons vat jou weg van Kreta af na Egipte toe. Vir jou is die oorlog verby. Ek is jammer dat ons jou so hardhandig behandel het. Doen alles wat ek sê, en dit sal met jou goed gaan.”

Dié klein toesprakie het ’n kragtige uitwerking gehad. “Sind sie wirklich ein Britischer Major?

Ja wirklich, Herr GeneraalSie haben gar nichts zü fürchten.” Hy het weer begin weeklaag oor sy verlore hoed, en ek het belowe dat ek dit sou terugbesorg. “Danke, danke, Herr Major.”

Hy was nog steeds geskud, maar dit het al beter gegaan.


Next

Previous