Uit The Affair At Ysterspruit
deur Herman Charles Bosman
As daar by een of ander ou plaashuis in daardie deel van die distrik van die Groot Marico, wat op die Kalahari uitkyk, oor die ou dae voor en gedurende die Tweede Boereoorlog gepraat is, het ek altyd belanggestel as daar ’n foto was waarna ek kon kyk. En as hulle vir my die foto van ’n burger van die Suid-Afrikaanse Republiek gewys het waar dit in ’n raam teen die muur van ’n voorkamer gehang het, of ná dit uit ’n kamer langsaan gaan haal is – ’n pa of ’n seun of ’n eggenoot of ’n minnaar – was dit ’n gevoel van opwinding en trots in my land en my mense wat ek beleef het terwyl ek gekyk het na die ewebeeld van ’n held uit die Boereoorlog.
Baie jare gelede was ek ’n onderwyser by ’n klein skooltjie in die Marico-bosveld naby die grens van die Betsjoeanalandse protektoraat. Die Transvaalse Onderwysdepartement het van my verwag om met tussenposes die ouers van die skoolkinders in die omgewing te besoek. Maar selfs al was die huisbesoek nie deel van my naskoolse pligte nie, sou ek die ouers in elk geval besoek het. En ná ek ná een of twee informele besoeke ontdek het dat die ouerige ouers ’n bron van eersterangse storiemateriaal was, en dat hulle die luisteraar met stories uit die verlede, met aangedikte herinneringe uit die lewe in Transvaal in die ou dae, kon betower – het ek baie pligsgetrou geraak met my huisbesoek.
“Wat het daarna gebeur, oom?” sou ek sê, nadat ek vir omtrent drie keer na mekaar by ’n ouer besoek afgelê het, “toe oom daardie nag deur die kloof getrek het, oom weet, en nadat oom die swart kalf met die bontgevlekte maag en oom se dogter gemuilband het, sodat Mojaja se manne nie iets sou kon hoor nie?”
En dan sou die oom die as uit sy pyp teen sy velskoen uitklop en aangaan met die vertel van sy storie – sy woorde, ’n stadige en egalige gebrom-dreun, so amper asof die rooi stof van die pad in die klank daarvan was – ’n storie van verskrikking, of van warm romanse, of van sagte gelag.
~
Dit was heel per ongeluk dat ek ouma Engelbrecht in ’n tweekamerhuisie met moddermure raakgeloop het – so ’n klein entjie van die regeringspad af en ’n paar honderd jaarts van haar skoonseun se opstal af. Hy was Stoffel Brink en ek het vroeër die middag by hom ook ’n besoek afgelê. Ek was toe nog nie vir lank in die Marico nie, en my onderhoud met Stoffel Brink was oor die algemeen onbevredigend. Ek wou weet hoe diep die Boere se loopgrawe aan die voet van die koppie by Magersfontein, waar Stoffel Brink geveg het, uitgegrawe was. Stoffel Brink, daarteenoor, was gretig om te weet hoe ek die kinders geleer het – of ek die leiding van die plaaslike skoolkomitee, waarvan hy die voorsitter was, sou volg. Of was ek een van daardie nuwe soort onderwysers wat ’n klein gedrukte boekie van vakke, wat deur die onderwysdepartement voorsien was, nagevolg het. Hy het bygevoeg dat die laasgenoemde soort van skoolmeester ’n hele klomp onaangenaamhede in die bosveld veroorsaak het, deurdat die kinders geleer is dat die aarde om die son beweeg, en dat soortgelyke kwessies van ’n politieke aard ook te berde gebring is.
Ek het ontwykend geantwoord, met die gevolg dat Stoffel Brink vir bykans ’n uur die meriete van die ou Hollandse skoolmeester van stapel laat loop het. Daardie skoolmeester kon binne agtien maande alles wat hy geweet het vir die kinders leer, want hy het hulle net feite geleer. “As ’n kind langer as dit in die skool bly,” het stoffel Brink bygevoeg, “sou hy vir die res van die tyd net leuens leer.”
Teen omtrent daardie tyd het ek vertrek, en oppad terug, ’n klein entjie van die pad af half weggesteek agter hoë bosse, het ek die tweekamer opstallletjie van ouma Engelbrecht aangetref.
~
Ek kon sien dat ouma Engelbrecht nie veel tyd vir haar skoonseun, Stoffel Brink, gehad het nie. Want toe ek vir haar na sy verwysings oor die onderwys genoem het – toe ek maar eintlik net meer besonderhede van die Boere-loopgrawe by Magersfontein te wete wou kom – het sy gesê dat hy miskien alles wat daar te wete was in agtien maande kon leer, maar hy kon nie leer hoe om gewoonweg hoflik teenoor ’n vreemdeling wat na sy deur toe gekom het, te wees nie – ’n vreemdeling wat bowendien ’n skoolmeester was wat inligting oor die Boereoorlog gevra het.
Toe het sy oor haar seun, Johannes, gepraat. Die seun wat nie in ’n loopgraaf by Magersfontein moes wegkruip nie, maar wat regop op sy perd gesit het toe al daardie koeëls by Ysterspruit deur hom gegaan het, en wat later aan sy wonde beswyk het. Johannes was altyd so ’n goedgemanierde seun, het ouma Engelbrecht my vertel, en hy was saggeaard en goedhartig.
Sy het my baie stories oor sy kinderjare en toe hy nog jonk was, vertel. Sy het gepraat oor ’n span rooi Afrikanerosse wat met die wa in die drif vasgeval het, en hoe haar man en die werkers met ’n lang sweep en ’n kort sjambok hulle nie kon beweeg nie. En toe het Johannes daar aangekom en hy het sag met die rooi Afrikanerosse gepraat, en hy het elkeen van hulle op hulle name genoem, en die span het een laaste magtige poging aangewend, en die wa deur die drif en anderkant uitgetrek.
“En tog in hierdie omtrek het hulle hom nie verstaan nie,” het ouma Engelbrecht verder vertel. “Hulle het dinge van hom gesê, en ek praat omtrent nooit meer van hom nie. En wanneer ek hulle sy portret wys, kyk hulle omtrent glad nie daarna nie, en stoot hulle die foto van hulle af weg, en wanneer hulle op daardie rusbank sit waarop jy nou sit, sit hulle die portret van Johannes langs hulle, met die gesig na onder.”
Met ’n gerusstellende glimlag het ek aan ouma Engelbrecht gesê dat ek vir ’n wyle bo die kleingeestigheid van die plaaslike intrige gestaan het. Ek het aan haar vertel dat ek reeds opgelet het dat daar allerhande verdagte onderstrominge onder die kalm oppervlakte van die lewe in die Groot Marico was. Daar was die voorbeeld van wat daardie selfde middag gebeur het, toe haar skoonseun, Stoffel Brink, ’n naamlose vooroordeel teenoor my bedink het, omdat ek eenvoudig nie bereid was om die skoolkinders te leer dat die aarde plat is nie. Ek het haar vertel dat dit belaglik was om jou voor te stel dat ’n man in my posisie, ’n opgevoede en geleerde man met ruimskootse verdraagsaamheid, homself sou toelaat om deur plaaslike Dwarsberge-skinderstories beïnvloed te word.
Ouma Engelbrecht het toe openlik gepraat, en die geveg by Ysterspruit het vir my toe weer lewe gekry – Kemp en De la Ray en die gebuite Engelse konvooi, die hinderlaag en die buit van ’n miljoen koeëls. Dit was amper asof die affêre by Ysterspruit aan my oorgedra is, nie deur ’n eensame ou vrou wie se seun wat sy dodelike wonde op die vlaktes naby Klerksdorp opgedoen het nie, maar deur ’n burger wat ’n prominente rol in die geveg gespeel het.
En natuurlik wou ek die foto van haar seun Johannes Engelbrecht sien.
Wanner die Boereoorlog te berde gebring word (hoewel ek dit nie vir ouma Engelbrecht gesê het nie), het ek nie omgegee of ’n Boere bevelhebber nie juis baie bekwaam of heel deurtrapt in sy strategie was nie, of as ’n burger nie besonder dapper was nie. Vir my was dit genoeg dat hulle geveg het. En byvoorbeeld vir my, ten spyte van die geskiedenisboeke se ietwat onvleiende waardebepaling van sy militêre kwaliteite, was generaal Snyman nietemin ’n held. Êrens het ek generaal Snyman se foto gesien: daardie gesig was soos Transvaalse blouklip; daardie oë het geen vuur in hulle gehad nie, maar slegs ’n koppige en primitiewe krag. Vandag nog kan jy Boere in die gramadoelas sien met so ’n voorkoms.
Dit het al aand begin raak toe ouma Engelbrecht uiteindelik toegegee het aan my mooipraat en gesmeek, en toe stadig uit haar stoel opgestaan en na die aangrensende kamer toe geloop het. Sy het teruggekeer met ’n foto omhul in ’n swaar swart raam. Gespanne van nuuskierigheid het ek gewag om die portret van haar seun, wat aan sy wonde by Ysterspruit gesterf het, en aan wie se reputasie die geklets in die omgewing ’n skandvlek, so donker soos die portretraam, vasgeheg het, te sien.
Na sy die stofdeeltjies van die portret afgevee het, het ouma Engelbrecht dit aan my oorhandig.
En sy was nog besig om te praat oor die dinge in ’n moeder se hart, dinge soos trots en smart wat die wêreld nie verstaan het nie toe – in ’n onbewuste reaksie, sonder om regtig te besef wat ek gedoen het – ek die jong man se foto langs my op die rusbank geplaas het – gesig na onder. Die jong man se hoederand was swierig aan die regterkant opgeslaan en sy baadjie, met die smal lapelle, was hoog op vasgeknoop.
Met ’n snaakse warboel van omsamehangende gevoelens, het ek besef dat, in daardie gebeurtenis by Ysterspruit, dit almal Mauserkoeëls was wat deur die jong liggaam van Johannes Engelbrecht, National Scout, getrek het.
Next →
← Previous