Geen misdaad om arm te wees

Posted on July 05, 2018 by Cape Rebel

Uit “Easy Circumstances”
In A Bekkersdal Marathon
deur Herman Charles Bosman

 

“Armoede is geen misdaad nie,” het Chris Welman verklaar. Hy het dit hardop gesê, nogal ietwat aggresief, terwyl hy terselfdertyd die toon van sy gebreekte velskoen onder sy stoel ingestoot het. “Armoede is ook nie ’n saak om oor skaam te wees nie,” het hy bygevoeg.

“Nee, ek gee nie om wie weet dat ek nou nie juis besonder ryk is nie,” het At Naudé opgemerk, terwyl hy die omslag van sy broek wat met lyn vasgewerk is, bietjie onsigbaarder gemaak het. “Natuurlik, dis nie asof ek arm grootgeword het nie. Toe my pa hier by hierdie omgewing ingetrek het, van die Kaap af, was hy ’n welaf man. Ek sou nou nie sê met diamante, of ’n dra-stoel met blou gordyne waarin jy rondgedra is nie, en daardie soort van goed, soos hulle in die vroeë dae in die Kaap gehad het. Sonder twyfel sou my oupa op sy dag in ’n dra-stoel rondgedra gewees het.

“Maar my pa, toe hy van die Kaap af hierheen getrek het – wel, ons was maar net mense wat gemaklik geleef het, dis al. Miskien in Transvaal – wil ek eintlik sê, met die klas van boere wat toe in Transvaal gewoon het – sou ons selfs as ryk beskou gewees het.”

Toe het Chris Welman gesê, toe sy oupa van die Kaap af hierheen gekom het, was hy op dieselfde manier beskou as ’n man wat nie net ’n bietjie welvarend was nie – veral miskien in vergelyking met die finansiële stand van die gewone Transvaler wat toe in Transvaal gewoon het. Eintlik sou hy nie verbaas gewees het as sy oupa in werklikheid van die Kaap af na die Transvaalse bosveld toe gedra is in een van daardie dra-stoele met blou gordyne nie.

“Ja, dit kan ek nogal glo,” het Gysbert van Tonder hom met ’n sarkastiese stem in die rede geval. “En dis ook maklik om te sien dat dit dít is waarmee jou pak nagmaalklere gelap is – ’n stuk van dieselfde blou gordyn … Wel, ek is vandag nou nie eintlik platsak nie, en ek gee nie om wie dit weet nie. Bowenal, ek het arm grootgeword, en is glad nie skaam daaroor nie.”

Jurie Steyn het toe gesê dat daar verskillende maniere was om geld te maak, en hy was glad nie seker dat die manier hoe sommige mense hulle geld gemaak het, almal se goedkeuring sou wegdra nie. Terselfdetyd kon hy nie help om te dink dat dit eienaardig was hoe sommige mense kon praat van hoe welaf hulle voorouers was in vergelyking met die Transvalers wat daar in riet-en-modderhuise gebly het.

Op stuk van sake, waar het die Transvalers wat in riet-en-modderhuise gebly het, vandaan gekom as hulle nie van die Kaap af gekom het nie? Hy was seker hy het nie geweet nie, het Jurie Steyn gesê.

Maar wat hy nie van sy eie familie sou wou ontken toe hulle van die Kaap af gekom het nie, het Jurie Steyn gesê, was dat hulle meer as die gewone welvaart beleef het. Dit was natuurlik in vergelyking met die meeste Transvalers.

“Nie dat ek sal ontken dat ek self vandag maar ietwat aan die armoedige kant is nie,” het Jurie Steyn bygevoeg voordat Gysbert van Tonder weer ’n tussenwerpsel kon maak. “Daar’s niks daaroor waarvoor ek skaam behoort te wees nie. Daar’s niks daaromtrent wat ek moet wegsteek nie.”

Dit was waar genoeg. Terwyl die meeste van sy kledingstukke agter die poskantoortoonbank versteek was, was daar geen skere of stukkende plekke in sy klere wat Jurie Steyn moes wegsteek van die vulgêre, starende blik nie.

~

Voor die gepratery te bitsig begin raak het, het oupa Bekker egter begin om ’n storie uit die ou Transvaal te vertel – wat ’n hele paar van die aspekte waaroor ons gesels het ter sprake gebring het. Dit was die storie van ’n arm meisie, Miemie de Jager, wat by haar ouers in die Groot Marico, in die soort van hartebeeshuisie waarvan ons reeds gepraat het, gewoon het.

“Dit was ’n soort van woning …” het oupa Bekker begin om te sê.

“Jy hoef nie daardie deel te herhaal nie. Ons weet alles daarvan,” het Jurie Steyn hom in die rede geval. Want Jurie Steyn het opgemerk dat At Naudé sy voorkamer op ’n peinsende manier bekyk het.

“Nou maar goed dan, in daardie geval sal ek net sê dat Miemie de Jager se ouers nou nie juis in ’n paleis gewoon het nie …” het oupa Bekker voortgegaan.

“Ja,” het At Naudé kopskuddend gesê. “Ek kan my net voorstel in watter soort van krot sy gewoon het. Ek moet sê, ek dink ek het nou ’n baie goeie idee. En hoe minder daaroor gesê word, hoe beter.”

Toe het Jurie Steyn daarmee losgebars dat At Naudé die laaste mens behoort te wees om te praat. As Miemie de Jager al ooit At Naudé se kombuis gesien het, en die soort van borde waaruit hy geëet het, het Jurie Steyn gesê, dan sou Miemie de Jager sommer gevoel het dat, in vergelyking daarmee, haar ouers die rykste mense uit die Kaap was wat so pas in hulle dra-stoele daar aangekom het.

Jurie Steyn het gepraat asof hy alreeds geweet het watter soort mens Miemie de Jager was.

Slegs ná Gysbert van Tonder vir ’n hele ruk lank op ’n smalende manier gepraat het – en gesê het dat vir mense wat nie beskaamd was om arm te wees nie, dit verrassend was hoe puntenerig sommige van ons was – was dit moontlik vir oupa Bekker om aan te gaan met sy storie.

“Miemie de Jager,” het oupa Bekker gesê, “het by haar ouers in ’n … in ’n gewone huis naby die eerste saagmeule, wat hulle in hierdie deel van Transvaal gehad het, gewoon. En een oggend, toe sy oppad huis toe was van die saagmeule af …”

“Liewe Here!” het Chris Welman skielik uitgeroep. “Jy bedoel nie om te sê hulle was só arm nie. Jy bedoel nie sy het in die saagmeule gewerk nie – daardie sware dertig voet lange stompe – dis mos nie die soort werk vir ’n jong meisie met blonde hare en kuiltjies om te doen nie – saagwerk …”

Dit was duidelik dat Chris Welman reeds ’n prentjie in sy kop gekry het oor hoe Miemie de Jager gelyk het.

Maar oupa Bekker het nee gesê. Dit was Miemie de Jager se pa wat in die saagmeule gewerk het. Miemie het elke oggend daarheen gegaan om vuurmaakhout in ’n sak te gaan haal.

“En toe, een oggend, oppad huis toe deur die bloekoms,” het oupa Bekker voortgegaan, “het sy ’n jongman op die paadjie sien aankom – ’n jongman wat sy nie geken het nie. Sy het dadelik geraai dat hy die seun moes wees van die nuwe mense wat die saagmeule en die hele eiendom opgekoop het. Hulle was ryk mense uit die Kaap uit.

“Sy het toe die sak vuurmaakhout van haar skouers laat afgly, en dit vinnig agter ’n bloekom weggesteek. Sy het nie omgegee dat die jongman kon sien dat sy kaalvoet geloop het nie, maar sy wou nie hê dat hy moes sien dat sy die sak hout gedra het nie. Dit was teen haar vroulike trots. Dit was nie dat sy skaam was dat haar ouers arm was nie …”

Ons het nee, nee, gesê. Armoede was geen misdaad nie, het ons gesê. Maar ons hét opgemerk dat Chris Welman sy gebreekte velskoen weggesteek het. En ons hét gesien wat At Naudé so ’n rukkie gelede gedoen het, so amper steelsgewys, met die omslag van sy broekspyp. En so het ons dus presies geweet hoe Miemie de Jager oor daardie sak gevoel het – ’n simbool van die feit dat haar ouers dit nie breed gehad het nie.

“Sy het besluit om reguit aan te loop, verby die jongman. En dan wanneer hy buite sig was, sou sy teruggaan om die sak te gaan haal,” het oupa Bekker gesê. “Maar ná sy verby die jongman gestap het – met haar oë op die grond toe sy verbygeloop het – het sy omgekyk om te sien of hy toe al nie meer sigbaar was nie. Maar toe sien sy dat hy omgedraai het om na haar te kyk. En toe hy haar sien omdraai het, het hy gedink – ag ja, hulle was albei jonk. En toe het hulle stadig na mekaar toe geloop. Miemie de Jager het baie stadiger as die jongman geloop, al erg blosende.

“En die jongman het gesê dat hy op pad was na die saagmeule toe wat sy pa onlangs gekoop het. En Miemie het gesê dat sy ’n entjie deur die bloekoms gaan wandel het om geel veldblomme te gaan pluk. En hulle het ’n hele ruk in die paadjie gestaan en praat. Daarna het die meisie gesê dat sy huis toe moes gaan. En toe het die jongman gesê, maar wat van haar vuurmaakhout. En hy het gevra of hy dit vir haar huis toe kon dra. En sy het ja gesê. En toe sy gesien het hoe hy die sak vuurmaakhout op sy breë, jong skouers opgetel het, het sy geweet dat dit nooit weer vir haar nodig sou wees om ’n sak vuurmaakhout huis toe te dra nie.”

Jurie Steyn wou weet hoe oupa Bekker al daai dinge geweet het. Oor wat in Miemie se gedagtes aan die gang was, het Jurie Steyn gesê.

“Sy het my vertel ná ons getrou het,” het oupa Bekker geantwoord. “Jy sien, ek was daardie jongman. Dit was my pa wat toe pas die saagmeule gekoop het. Jy moet verstaan, toe ons van die Kaap af aangekom het, was my ouers nogal welaf.”


Next

Previous