Wanneer ek die reën so wit sien neersous op die doringbome, soos nou (het oom Schalk Lourens gesê), onthou ek ’n ander keer toe dit gereën het. En daar was ’n meisie aan die droom in ’n ossewa. En in antwoord op haar droom, het ’n minnaar uit die veld uit na haar sy toe aangalop gekom. Maar hy het net ’n klein rukkie vertoef, hierdie minnaar wat uit die mis van die reën en die warmte van haar drome na haar toe gekom het.
Maar tog, toe hy nie meer daar was nie, was daar ’n stadige kyk in haar oë wat haar minnaar heelwat moes verbyster het, want dit was ’n kyk van bevrediging, wel amper.
Ons was na Zeerust toe vir die Nagmaalsdiens, wat ons een keer ’n jaar bygewoon het.
Jy weet mos hoe dit gaan met Nagmaaltye.
Die Here versprei hierdie feesverrigtinge oor ’n hele paar dae sodat jy tyd het om nie net kerk toe te gaan nie, maar ook bioskoop toe. Soms kan jy selfs kroeg toe gaan, maar dan moet jy agterom gaan, deur die donker agterstraatjie langs die klerewinkel.
Zeerust is ’n klein plekkie, en sou jy gesien word waar jy gedurende die Nagmaal by die kroeg ingaan, kon jy verwag dat die mense sou praat. Ek onthou nog hoe verras ek een oggend was toe ek by daardie donker agterstraatjie langs die klerewinkel ingegaan het, en die predikant daar raakgeloop het, nog besig om sy mond af te vee. Die predikant het na my gekyk en sy kop heel plegtig geskud, en ek het baie skuldig gevoel.
En so het ek toe maar liewer bioskoop toe gegaan.
~
’n Paar dae later, op die pad na Groot Marico, het daar vyf ossewaens vol mense wat die Nagmaal in Zeerust bygewoon het, getrek. Binne in die watente het die vrouens en kinders gesit en luister na die gietende reën teen die seile. Langs die osse het die drywers geloop en hulle het hul lang swepe laat klap terwyl dit in hulle gesigte gestortreën het.
Bo hulle in die lug was alles swart behalwe vir die herhaaldelike weerligflitse wat deur die hemele geklief het.
Na ek ’n ruk lank op hierdie manier geloop het, het ek eensaam begin voel. En so het ek die sweep aan my voorloper oorhandig en vooruit geloop na Adriaan Brand se wa toe. Ek het ’n entjie in stilte langs Adriaan geloop. Sy broek was tot by sy knieë opgerol, en hy het dit moeilik gevind om sy sweep te swaai en terselfdertyd die reën uit sy pyp te hou.
“Dis Minnie,” het Adriaan Brand skielik gesê, met verwysing na sy negentienjarige dogter. “Daar’s een plek in Zeerust waarheen Minnie nie behoort te gaan nie. En met elke Nagmaal, tot my verdriet, vind ek uit dat sy daar was. En alles gaan na haar kop toe.”
“O ja,” het ek geantwoord, “dit gebeur altyd.”
Nogtans was ek ietwat verbaas oor Adriaan se opmerkings. Dit het nie vir my gelyk of Minnie die soort meisie was wat haar pa se geld sou gaan staan en mors deur perskebrandewyn by die kroeg te gaan loop en drink nie. Ek het begin wonder of sy my nie dalk in die agterstraatjie by die klerewinkel gesien het nie. Maar toe het Adriaan aangegaan met sy pratery, en ek het rustiger begin voel.
“Die plek waar hulle daardie bewegende prente wys,” het hy verduidelik. “Elke keer wat Minnie daarheen gaan, kom sy terug met idees wat vir ’n plaasboer se dogter niks werd is nie. Maar hierdie keer het dit haar totaal onmoontlik gemaak. Vereers sê sy dat sy nie meer met Frans du Toit wil trou nie. Sy sê dat Frans heeltemal te eerlik is.”
“Wel Adriaan, dit behoort nie ’n probleem te wees nie,” het ek gesê. “Jy kan Frans du Toit ’n paar dinge leer wat jy gedoen het. Dit sal hom skelm genoeg maak. Soos die manier wat jy gehad het om jou brandmerk te sit op daardie losloperosse wat na jou kraal toe afgedwaal het. Of die manier wat jy na die runderpes die getalle op die kompensasievorms verander het. Of die manier …”.
Adriaan het my nors aangekyk.
“Dis nie dit nie,” het hy my in die rede geval terwyl ek nog ’n klomp ander dinge probeer onthou het wat hy vir Frans du Toit kon leer. “Minnie wil ’n misterieuse soort van ’n man hê. Sy wil ’n man hê wat oneerlik is, en met uitheemse maniere, maar tog ook met ’n goeie hart. Sy het so ’n man by daardie prentplek waarheen sy gegaan het, gesien, en sedertdien …”.
~
Ons het altwee saam omgekyk.
Deur die mistigheid van die wit reën het ’n perderuiter na ons waens toe aangery gekom. Hy het vinnig gery. Ek en Adriaan het na hom gestaan en kyk.
Teen dié tyd was ons waens ’n hele entjie agter die ander.
Die ruiter het op ’n vinnige galop aangejaag gekom tot hy langs ons was. Toe het hy gou sy perd met ’n ruk op sy agterpote ingehou.
Die vreemdeling het ons vertel dat sy naam Koos Fichardt was en dat hy onderweg na die Betsjoeanalandse protektoraat was. Ek en Adriaan Brand het onsself aan hom voorgestel, en kort daarna het Fichardt ons uitnodiging om die nag by ons deur te bring, aanvaar.
’n Myl of wat verder het ons uitgespan. Ons het die vyf waens na aanmekaar getrek en, om soveel moontlik beskerming te kon kry, het ons bokseile bo-oor getrek.
Die volgende oggend het die reën opgeklaar. Teen daardie tyd het Koos Fichardt reeds Adriaan Brandt se dogter, Minnie, raakgesien. En so het hy besluit om bietjie langer by ons te bly.
Ons het verder getrek en, van waar ek langs my osse geloop het, kon ek Koos Fichardt en Minnie sien. Hulle het agter op Adriaan Brand se wa gesit, sonder hoede, met hulle bene wat afgehang het en die oggendbries wat deur hulle hare gewaai het. Dit was duidelik dat die vreemdeling Minnie gefassineer het. En dit het ook gelyk of hy baie in haar belanggestel het.
Mens raak so wanneer daar skielik na langdurige reëns ’n helder oggend aanbreek, en daar ’n sagte windjie waai wat die nat gras saggies roer, en vir ’n kort rukkie voel jy dat jy ook weet wat die veld weet, en in jou hart is daar fluisteringe.
Die meeste van die tyd het hulle daar handjie-handjie gesit, met Fichardt wat baie gepraat het en Minnie wat haar pragtige kop elke af en toe geskud het, en hom só aangemoedig het om aan te hou met praat. Ek veronderstel dat dit wat hy haar vertel het, alles leuens was, soos net ’n verliefde jongkêrel leuens kan vertel.
Fichardt was lank en donker en netjies aangetrek. Hy het ’n windmakerstap gehad met gemaklike en sjarmante maniere, en ons het almal van hom gehou.
~
Daardie aand toe ons langs die Groenrivier uitgespan het, was alles baie aangenaam. Ons het almal om die kampvuur gesit, vleis gebraai en mieliegruis gekook. Ons het liedjies gesing en spookstories vertel. En ek het gewonder wat Frans du Toit – die eerlike jongkêrel in Zeerust wat deur Minnie afgewys en weggestoot is – sou gedink het as hy Minnie Brand en Koos Fichardt so onbeskaamd in mekaar se arms kon sien sit, vir die hele wêreld om hulle verliefdheid te sien, terwyl die lig van die kampvuur ’n ryke gloed oor die passie en opwinding wat op hulle gesigte was, gegooi het.
En ek geweet het hoe wonderlik die verbygaande oomblikke vir hierdie twee was. Hoewel ek tog, op ’n manier, op een of ander manier, omdat ek so baie van die wêreld gesien het, ook jammer vir hulle gevoel het.
Die volgende dag het ons nie getrek nie.
Ná die swaar reëns was die Groenrivier in vloed, en oupa Van Tonder, wat lank in die Kaap gewoon het en wat heel goed onderleg was in die maniere van riviere, en wat selfs geweet het hoe om te swem, het ons vertel dat dit nie veilig sou wees om die rivier vir die volgende vier en twintig uur oor te steek nie. Gevolglik het ons besluit om tot die volgende oggend daar in die kamp te bly.
Aanvanklik was Koos Fichardt nogal heel ontstel oor dié nuus, en het hy verduidelik hoe noodsaaklik dit vir hom was om op ’n sekere dag die Betsjoeanalandse protektoraat binne te gaan. Ná ’n ruk egter, het dit gelyk of hy meer versoen geraak het met die noodsaaklikheid om te wag tot die rivier gesak het.
Dit het aand geword, en die bewoners van die vyf waens het om die gloed van die vuur bymekaar gekom. Op ’n manier was daardie aand nog grootser en fraaier as die vorige aand. Die liedjies wat ons gesing het, was roerender, en die stories wat ons vertel het, het geklink of hulle indrukwekkender en kragtiger was.
Teen die tyd wat die waens die volgende oggend gereed was om deur die drif te trek, was daar groot opwinding. En die opgewondenheid was nie net in die gewoel om die osse ingespan te kry nie.
Want toe ons die rivier oorgesteek het, was dit sonder Koos Fichardt, en daar was ’n stadige kyk in Minnie se oë.
Die waens het deur die water gekreun en gespat, en ons het Koos Fichardt vir die laaste keer gesien waar hy op ’n perd gesit het met ’n ruiter in ’n uniform aan beide kante van hom. En toe hy sy hoed opgelig het om ons vaarwel toe te waai, moes hy beide hande gebruik, want sy gewrigte was in boeie.
Wat ek egter altyd sal onthou, is die stadige kyk in Minnie se oë. Dit was amper ’n soort van bevrediging by die gedagte dat al die dinge wat gebeur het met die meisie wat sy in die rolprent gesien het, nou ook na haar toe gekom het.
Next →
← Previous