Die Vertroostende Sirkelgang van die Bottel Raki

Posted on September 07, 2017 by Cape Rebel

Uit Abducting A General
deur Patrick Leigh Fermor

Sedert die Slag van Kreta was die Amari ’n skuilplek teen die vyand. Honderde Britse en Statebond-agterblyers by Sphakia, of dié wat uit krygsgevangenetronke ontsnap het, is hier van klere, beskutting en kos voorsien. Dit was ’n soort van transitokamp op pad na geheime ontruiming by ’n dosyn plekke op die rotsagtige suidelike kus. Guerrillaspanne wat uit hulle plaaslike omgewing geteister is, het hierheen gekom om hulle wonde te lek. Die plek was ’n algemene toevlugsoord en daar was nie ’n bokkraal of rotslys of rots of grot of olyfboord op die berghang wat nog nie ’n wegkruipplek vir ’n Britse skakeloffisier met sy seiner, draadloostegnikus, wagte en boodskappers was nie.

Dit alles weens die gees van die dorpenaars, en die harmonie en vertroue wat daar tussen hulle bestaan het.

Vir die vyand was die plek berug. Tallose soektogte was nie in staat om enigiets te vind of om die Amariete af te skrik nie. Dit was nie soseer die Kretaanse guerrillatradisie wat hier floreer het nie: daar was waagmoed, opgetoënheid, gasvryheid, sjarme, humor en welwillendheid, wat, van voor tot agter in die Kretaanse berge, hulle driftiger eienskappe vergesel het. Dit het gelyk asof hulle diepsinnige geletterdheid, eerder as poëtiese inspanning wat, in Spreuke, die huis van Retimo bestempel het, hier in die lug amper tasbaar was. Hulle was net so vasbeslote om die oorlog in die berge met ’n geweer te wen, as wié ookal. En hulle verliese aan die einde was iets vreesliks. Maar die besonderse taak van daardie landstreek, net so noodsaaklik en veeleisend soos om aan te val, was van bewaring, redding en om ’n toevlugsoord te wees.

~

Oral in Kreta was die reaksie op die kaping, so het dit geklink, een van onbeteuelde uitgelatenheid en jubilasie. Antoni het al die gerugte en praatjies in die dorpies aan ons oorvertel: wat ’n klap in die gesig vir generaal Müller en die hele Duitse garnisoen. En – ’n wonderlike voorbeeld van ’n Kretasentriese teorie van die heelal tussen die eenvoudige eilandbewoners – hoe woedend Hitler moes gewees het. (Nie een van ons span het tot so vêr as dít gedink nie. Miskien was die vêr verwyderde voorval in die verslae van die oggend genoem. Maar kon daar dalk ’n vlugtige uitbarsting in die Wolf se lêplek gewees het?)

Dit was dieselfde in Canea en Retimo – dít het ons by Micky en Elias gehoor. Hulle het skielik daar opgedaag nadat hulle van die bushalte by Retimo geloop het en heel verstandig liewer na Antoni se dorp toe gegaan het. So óók in Herakleion. Dit was net breë glimlagte en insinuasies in die strate – amper openlike blydskap. En nogal verbasend – selfs hier en daar in die laer range van die Duitsers was daar ’n soort van agteraf vermaak. Hoër op natuurlik, algehele woede en verbystering.

Nadat die generaal aan die ander twee kapers wat afwesig was, voorgestel is, het hulle – deur my – aan hom vertel dat al die wagte by die villa gearresteer is, en dat sy aide-de-camp in die tronk was onder verdenking dat hy ’n medepligtige was. Die generaal se blou oë het uit ongeloof wyd gerek en toe het hy heerlik aan die lag gegaan. Hy kon dit nie glo nie. Die man was ’n totale stommerik, en hy kon hom nie verdra nie, het die generaal aan ons gesê.

~

Die nag van 2 Mei was moeilik om te verduur. Daar was ons, slegs ’n paar myl vanaf die verlate kus. As alles goed afgeloop het, sou ons vir die laaste keer teen die steil rotse tot by die see, afgestrompel het. Ons sou die geronk van die enjin êrens voor ons in die see gehoor het, en aan ons seine geflits het, op die uitkyk gewees het vir matrose in wit uniforms wat voor die donkerte van die grot sigbaar sou geword het terwyl die geknars van die roeimikke harder geword het. Hulle sou ons woordelose verwelkominge oor die water beantwoord het, en daarna sou ons aan boord, met ons gevangene en ons bondgenote, gesluip het. (Behoort die generaal met die fluitsaluut aanboord verwelkom te word? Want sien, ons het ons bes probeer om standaarde te handhaaf te midde van moeilike omstandighede.)

Is dit moontlik dat Billy se kaptein, die hartlike en bebaarde Brian Coleman, ons by die stuur sou gegroet het? Gou daarná, ná die skip omgedraai het, sou ons vir ons verdwynende kamerade op die rotse vaarwel toegewuif het terwyl ons in die rigting van Afrika gevaar het voor die maan opgekom het. Daarna af na die sagte ligte van die offisierskajuit, die gloed van mahonie en gepoetste koper, die gerinkel van ys. (Pienk jenewer? Whisky? Brandewyn? Miskien sjampanje?) Die groot silhoeët van die eiland, met die waterskeiding van Ida en die Witberge wat in die maanlig geskitter het, sou deur die patryspoort kleiner geword het.

Red Tabs om ons die volgende dag by Mersa Matruh te ontmoet, en dan die vlug Kaїro toe terwyl ons die wrakstukke van al die veldslae van Montgomery se opmars in die woestyn onder ons aan die generaal sou uitgewys het. Miskien die loods oorgehaal het om ’n lusvlug uit te voer wat El Alamein sou kon insluit, en om daarna by Heliopolis te geland het – presenteer geweer, totsiens Generaal. En om dan in glorie na Clusium se koningshuis terug te gekeer het, met al die genietinge van Kaїro wat op ons sou gewag het.

Dit was naastenby die praatjies in Engels en in Grieks wat die vertroostende sirkelgang van die bottel raki tussen die braambosse vergesel het.

Miskien môreaand.


Next

Previous