Die tyd om te saai

Posted on April 09, 2018 by Cape Rebel

Uit “Funeral Earth”
In Unto Dust

deur Herman Charles Bosman

 

Dit was toe – het oom Schalk Lourens gesê – dat ’n buitengewone ding plaasgevind het.

Skielik hét ons Mtosas gesien. Hulle was nog ver weg toe ons hulle gesien het. Hulle het uit die bos gekom en was oop en bloot sigbaar daar waar hulle geloop het. Hulle het geen poging aangewend om weg te kruip nie. Tot ons verbasing het hulle reguit, agter mekaar, in ons rigting aangekom. En selfs van ’n afstand af kon ons sien dat hulle ongewapend was. In plaas van assegaaie en skildvelle, het hulle vragte op hulle koppe gedra. En amper op dieselfde oomblik het ons besef – omdat die vragte so swaar gelyk het – dat die draers vrouens moes wees.

Om daardie rede het ons ons gewere gevat en gestaan en wag. Omdat dit vroumense was, was ons natuurlik voorbereid op die laagste vorm van verraad.

Soos die kolom nader beweeg het, het ons gesien dat Ndambe, ’n ou stamlid wat ons goed geken het, aan die voorpunt was. Hy was jare lank reeds Sijefu se hoofraadsman. Ndambe het sy hand omhoog gelig. Die ry vrouens het gaan staan. Ndambe het gepraat. Hy het aangekondig dat ons witmense die konings van konings en die olifante onder olifante was. Hy het ook gesê dat ons rinkhalsslange was wat giftiger en oor die algemeen walgliker as enige ander rinkhals in die land was.

Ons het natuurlik geweet dat Ndambe net besig was om ons op die onkundige manier van die Mtosa’s te komplimenteer. En daarom het ons natuurlik hoogstevrede gevoel. Ek kan nog onthou hoe Jurie Bekker my in die ribbes gepomp en gesê het: “Het jy dit gehoor?”

Toe Ndambe egter voortgegaan het om te sê dat ons smeriger was as die speeksel van ’n groen boompadda, het ’n hele paar burgers kriewelrig begin word. Hulle het gevoel dat hierdie hoflikheid van stam miskien so ’n bietjie te ver kon gaan.

Dit was toe dat veldkornet Joubert, terwyl hy sy wysvinger binne-in die snellerbeuel van sy vuurwapen laat sak het, Ndambe gevra het om tot die punt te kom. Aan die uitdrukking op die veldkornet se gesig, kon jy sien dat hy genoeg komplimente vir een dag gehad het.

Ndambe het gesê dat hulle gekom het om vrede te maak.

Wat die vrouens op hulle koppe gedra het, was presente.

Op ’n teken van Ndambe, het die hele kolom in die modder van die turfgrond neergekniel. Hulle het leeu- en sebravelle en olifanttande gebring, en krale en koperarmbande en, op ’n lang mat het hulle die hele boud van ’n rooi Afrikaner-os, die vel en pote en alles neergesit. En ’n hele klomp varke in die helfte gesny. En kleipotte propvol wit bier. En ook – en dit het ons die meeste waardeer – ’n toordokter se medisyne wat mens in die nag teen goolgeeste en die bose oog beskerm het.

Ndambe het nog ’n teken gegee. ’n Vrou met ’n kleipot op haar kop het opgestaan daar waar sy gekniel het en nader aan ons beweeg. Ons het toe gesien dat sy swart grond in die pot gehad het. Dit was nat en amper soos turfgrond. Ons kon nie verstaan hoekom hulle dit vir ons gebring het nie. Asof ons nie genoeg daarvan gehad het nie, reg daar waar ons gestaan het, en waar dit aan ons velskoene vasgesit het. En tog het Ndambe opgetree asof dit die kosbaarste deel van die vredesoffer was wat sy hoofman, Sijefu, aan ons gestuur het.

Toe het Ndambe weer gepraat en ons het gesien het hoe dom hy en sy hoofman en die hele Mtosastam eintlik was.

Hy het ’n handvol grond uit die pot geneem en dit tussen sy vingers toegevou en gedruk. Toe het hy ons vertel hoe geëerd die Mtosastam was omdat ons teen hulle oorlog gemaak het. In die verlede het hulle net platgesig Mshangaans met skerpgepunte knopkieries gehad om teen te veg, het hy gesê, maar nou was dit anders. Ons veldkornet het toe so ’n halwe tree vorentoe gestap net ingeval Ndambe weer sou begin om ons te vlei. Maar Ndambe het net eenvoudig gesê dat die Mtosas bly sou wees as ons later, wanneer hulle klaar geoes het, weer sou kom om teen hulle oorlog te maak. Maar intussen het die stam verkies om nie aan te gaan met die oorlog nie.

Dit was die tyd om te saai.

Ndambe het die grond deur sy vingers laat loop, om ons te wys hoe goed dit was. Hy het ons ook uitgenooi om daaraan te proe. Ons het dit van die hand gewys.

Ons het die presente aanvaar, en vrede is gesluit. Ek kan nog onthou hoe veldkornet Joubert sy kop geskud en gesê het: “Het jy nou al ooit groter domheid as dié van die Mtosas gesien?”

En ek kan ook nog steeds onthou wat Jurie Bekker gesê het. Dit was toe iets hom die beesboud van nader laat bekyk het, en hy sy eie brandmerk daarop gesien het.

~

Dit was nie lank daarna nie dat die oorlog teen Engeland uitgebreek het.

Teen die einde van die tweede jaar van die oorlog, het dit met die Boerekommando’s maar redelik sleg gegaan. Maar ons wou nie vrede sluit nie. Veldkornet Joubert is toe tot kommandant bevorder. Jurie Bekker was nog saam met ons, en so ook Fanie Louw. Dit was vreemd hoe geheg ons aan Fanie Louw geraak het tydens die ontberinge wat ons saam op die slagveld verduur het. Maar aan die einde moes ons erken, terwyl ons gewoond geraak het aan sy grappe en ons geweet het dat daar geen kwaad  in gesteek het nie, dat ons dit sou verkies het as hy daarmee sou ophou.

Het hy opgehou – vir altyd – in ’n skermutseling naby ’n blokhuis. Ons het hom in die skaduwee van ’n doringboom begrawe, waarna die kommandant ’n paar woorde gesê het en ons ons hoofde gebuig en ’n psalm gesing het. Soos jy weet is dit vir elke roubeklaer by ’n begrafnis die gebruik om ’n handvol grond te vat en dit in die graf te gooi.

Toe kommandant Joubert afgebuk en sy handvol grond opgetel het, het ’n vreemde ding gebeur. En ek het die ander oorlog onthou, die een teen die Mtosas. En ons het geweet – hoewel ons dit nie gesê het nie – wat nou die verlange in elkeen van ons se harte was. Want kommandant Joubert het nie sommer dadelik die grond in Fanie Louw se graf laat val nie. In plaas daarvan het hy die klammerige grond met sy vingers gebrei. Dit was asof hy vergeet het dat dit begrafnisgrond was. Dit het gelyk of hy nie aan die dood gedink het nie, maar aan die lewe.

Ons het sy voorbeeld gevolg en handevol grond opgetel, en dit gedruk. Ons het die leem daarin gevoel, en gesien hoe elasties dit was, en ons het dit deur ons vingers laat syfer. En ons kon net onthou dat dit die tyd was om te saai.

Toe het ek verstaan hoe, in daardie vroeëre oorlog, die Mtosas moes gevoel het – hulle wat ook boere was.


Next

Previous