Die Tweede Oor-grenskruising

Posted on September 01, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast
Uit Tell Us About Fichtenhorst

deur Hans Hardt



Dit was ’n kouerige aand in September 1951 toe ek by die laaste dorp in die Sowjet-gebied van Oos-Duitsland, van die trein wat weswaarts gereis het, afgeklim het. Ek het dankbaar opgekyk na die donker wolke in die lug bokant my. Dit was net die regte weer om ongesiens oor die grens terug te glip, na die vrye Duitsland toe.

Ek het ’n dofverligte kafee opgesoek. Daar, terwyl ek rustig lemonade in klein teugies gedrink het, terwyl ek gewag het dat dit donker moes word, het ek die paar dae wat ek by my ouers en broer deurgebring het, herleef – ons eerste familie-reünie in meer as sewe jaar. My ouers se armoedigheid het my bedroef. Toe hulle in 1945 voor die Sowjet-weermag moes vlug, het hulle al hulle besittings verloor, en is daarná in die dorp waar hulle nou gewoon het, platgeloop en deur die Rooigety oorrompel. Om terug te kon keer na Fichtenhorst, ons geboortedorp, was ondenkbaar en verbode. Dit was nou deel van aan kommunistiese Pole.

Sedert ek in 1948 uit ’n krygsgevangenekamp in Brittanje vrygelaat is, het ek in Wes-Duitsland gewoon. Toe ek uiteindelik daarin geslaag het om uit te vind waar my ouers nou gewoon het, het ek te hore gekom dat my pa nou in die greep van veelvuldige sklerose was. Ek het besluit om hom na Wes-Duitsland te kry waar hy ordentlike mediese behandeling kon ontvang. Maar ná ek maande daarvoor gewag het, is my aansoek vir ’n Sowjet-visum afgekeur op grond van “politieke oorwegings” – vermoedelik omdat, as ’n krygsgevangene, ek vier jaar in Engeland deurgebring het.

In Mei 1951 het ek probeer om in Oos-Berlyn in te glip om my ouers te besoek, maar ek is by die grens voorgekeer en teruggestuur met my paspoort waarop daar gestempel was: “Onwettige oor-grenskruising”.

Nou, so omtrent vier maande later, het ek weer probeer en dié keer was ek suksesvol. Ek het geweet as hulle my weer ’n keer sou vang terwyl ek probeer het om uit te kom, na ’n ongerapporteerde verblyf van verskeie dae in die Sowjet-sone, dit iets baie ergers as ’n tjap op my paspoort sou wees.

Ek was redelik vol hoop dat ek sou kon terugkeer Wes-Duitsland toe, want ek het ’n volledige kaart gehad wat my broer vir my geteken het. Hierop het hy vir my presies die gekamoefleerde posisies van die grenswagte aangeteken, die ure aangedui wanneer die poste onbeman sou wees, en verskeie terreinbakens uitgewys, soos die hoë skoorstene van ’n hele paar fabrieke naby die grens.

My horlosie het gewys dat dit elfuur was. Dit was tyd om te gaan.

Ek het twee ure lank op ’n verlate pad geloop. Toe daar ’n gehuggie in sig gekom het, het ek skerp regs gedraai, en ’n paar minute later die woud wat tot by die grens gestrek het, binnegeloop. Ek het op my hurke gaan sit en ’n vuurhoutjie aangesteek om vir ’n laaste keer na die kaart te kyk. Toe het ek dit in my sak geprop en aangestap. Elke nou en dan, ná ’n paar minute, het ek stil gaan staan om te luister, om seker te maak dat die ritselende geluide maar slegs die wind en die blare was. Ek het gou by die pad aangekom wat die Ooste van die Weste geskei het.

Toe het ’n stem in Russies geskreeu: “Stoi.” (“Stop”).

Ek het op die grond neergeval en ’n paar treë weggerol, steierend op my voete gekom, en laat vat. ’n Masjiengeweer het geratel, en twee wit ligfakkels het bokant my kop oopgemaak. Toe die geskietery bedaar het, het ek die vreesaanjaende geluide van honde met hulle ore in die nek agter my gehoor. Toe het iets my teen die rug gestamp sodat ek daar kop eerste tussen ’n klomp bossies te lande gekom het. Toe ek my kop opgelig het, het ek in die hygende kake van ’n Duitse herdershond vasgekyk.

Twee Russiese soldate het my op my voete gepluk. Terwyl die een die warm loop van ’n masjiengeweer onder my ken gehou het, het die ander my sakke leeggemaak. Hulle het my hande vasgemaak en met my deur die woud aanmarsjeer. Skielik het my bloed gestol – ek het die kaart onthou!

Daardie nag het ek op en af in ’n koue kelderkamer met gegrendelde vensters geloop, terwyl ek myself verwens het dat ek nie dié stukkie papier vernietig het nie. Ek het gevoel dat dit sekerlik vir die Russe afdoende bewys sou wees dat ek ’n spioen moes wees.

Vroeg die volgende oggend het twee wagte my met stampe en stote die trappe op na ’n klein kantoortjie aangejaag. Agter ’n groot swart lessenaar het ’n offisier in die uniform van ’n majoor gesit. Die gehate rooi skouerlussies op sy baadjie het aangedui dat hy ’n lid van die Sowjetse veiligheidspolisie was.

“Goeie môre, klein spioentjie,” het hy met kille sarkasme gesê. “Het jy lekker geslaap?”

Ek was verras om in goeie Duits aangespreek te word, hoewel ek geweet het dat die Sowjetmagte gefynkam is vir manne wat vlot in Duits was om diens in Oos-Duitsland te doen. Maar die majoor se taktiek was Russies genoeg: Die minagting in die woorde “klein spioentjie”, die veronderstelling dat ek skuldig was, en die klaarblyklike verwagting dat ek gou met die volle waarheid na vore sou kom.

“Ek is nie ’n spioen nie,” het ek geprotesteer.

“Ek het jou nie gevra wat jou professie is nie, klein spioentjie, maar of jy goed geslaap het. So, jy het vier maande gelede die grens onwettig oorgesteek. Vertel my, asseblief, wat jy hierdie keer probeer uitvind het?”

“Niks,” het ek geantwoord. “Ek het slegs my ouers besoek.”

“En waar woon hulle?”

“Nee, nee, ek gaan nie sê nie.”

“Ons het maniere om uit te vind,” het die majoor gesê.

Hy het my paspoort deurgeblaai. “So, ek sien jy is in Fichtenhorst gebore?” Vir ’n oomblik het hy my skerp aangekyk, my paspoort toegemaak, en toe die handgetekende kaart opgetel.

“Dis netjies geteken. Paaie, dorpies, ons wagte se posisies, selfs die plekke waar sommige groot fabrieke is. Hoeveel betaal die Amerikaners jou vir so ’n gawe skets?”

Ek het stilgebly. Ek het besef dat my verduideliking maar power sou klink.

“Nou ja, kleine spioentjie,” het hy my toegesnou. “Miskien sal jy in Siberië praat. Wagte, kom vat hom weg.”

’n Doodsangs het my omklem met die aanhoor van die vreesaanjaende woord “Siberië”. Ek was doodmoeg en honger, maar ten spyte van my vrees, was ek nie lank in my sel nie voor ek ingesluimer het. Ek kan nie sê hoe lank ek geslaap het nie toe die wagte my wakkergemaak en weer na die majoor toe geneem het. Hy het ’n sigaret aangesteek en stip na my gekyk.

“Ons het die inligting op jou paspoort nagegaan. Dis alles leuens. Nou weet ons jy is ’n spioen. Jy beter nou begin praat.”

Ek was verbysterd. “Ek het geen rede om te lieg nie,” het ek teruggekap.

“Ons sal daaroor moet sien. Hoe lank het jy in Fichtenhorst gewoon?”

“Vir die eerste dertien jaar van my lewe.”

“Nou maar goed, vertel ons van Fichtenhorst. Dit is so dat ons die dorp ken.” Hy het sy oë toegemaak en teruggeleun in sy stoel.

Ek het van ons dorp wat aan die oostekant van die Oderrivier is, gepraat, en ook van die ou kerk tussen die lemmetjiebome. Ek het hom vertel hoe ons boerseuns saans die perde by die rivierwal afgewas het. Ek het oor die dorpspriester gepraat, en van die plaaslike onderwyser se tekortkominge, en van my ouma wat ’n groot plaas gehad het – haar goeie dade het van haar ’n geliefde persoon gemaak.

Terwyl ek gepraat het, het die majoor se gesig ’n houtmasker gebly. Toe ek gestop het, het hy sy oë oopgemaak en gevra: “Dan het jy ook seker vir Wolfgang Leuters, Magda Furst en Walter Korb geken?”

Ek het gewonder watter duiwelse spel hy besig was om met my te speel. Ek kon nie sulke mense in my tyd in die dorp onthou nie.

“Of die boer Stolpel – Ignaz Stolpel?” het hy weer aangegaan.

“Ja, ek het hom geken. Ken jy hom, Majoor?”

“Bly stil,” sy stem was kras. “Ek vra die vrae. Vertel my wat jy weet van Stolpel.”

“Goed, hy was die armste boer in Fichtenhorst. Sy grond was so sleg dat selfs die onkruit nie wou groei nie. Almal was jammer vir hom, want hy het so hard gewerk. Hy het nooit gekla nie, en hy was te trots om bystand te aanvaar. Frau Stolpel het elke dag hard op die landerye gewerk, en so ook Josef – dit was hul seun. Sy pa het die seun hard gedryf – net so hard soos hy homself gestoot het. Niemand het gedink dit was onregverdig nie. Dit was maar die lot van die meeste seuns op die dorp. Toe hy sestien jaar oud geword het, het Josef die huis verlaat. Die mense het gesê dat hy suid na Tsjeggo-Slowakye gegaan het, maar niemand was seker daaroor nie.”

Ek het ’n rukkie stilgebly terwyl ek onthou het hoe jammer ons almal vir die Stolpels gevoel het. “Gaan aan,” het die majoor beveel.

Ek het hom vertel hoe die arme boer verander het na hy sy seun verloor het. Hy het teen die dorp gedraai, geweier om selfs die misdiens by te woon, en sy vrou verbied om te gaan. Die mense het gesê dat op Sondae, wanneer die klokke gelui het, sy bitterlik geween het, want sy was diep godsdienstig.

“Hoekom wou hy haar nie laat gaan nie?” het die majoor gevra.

“Hulle het gesê dat sy die seun se kant gekies het, en dat dit Stolpel bitter gemaak het. Hy wou haar nie toelaat om met mense te praat nie. Twee jaar na haar seun weggeloop het, het mevrou Stolpel gesterf. Haar man het in sy werksklere na die begrafnis toe gegaan. Toe het hy teruggekeer na sy landerye toe, en tot laat daardie aand gewerk. Hy het stiller en vyandiger as voorheen geword.”

Ek het ’n oomblik stilgebly. “Wil jy hê ek moet aangaan, Majoor?”

“Ja.”

Ek het hom vertel dat my ouma die vereensaamde man wou help. Sy het hom ’n goeie stukkie grond aangebied in ruil vir sy barre land, maar hy het net sy kop geskud en verder aangegaan met sy werk. En toe het hulle hom eendag daar gevind het waar hy geval het. Hulle het hom inderhaas na die nabygeleë dorp se hospitaal geneem. Hy het ’n beroerte aanval gehad. Sy plaas is op ’n vendusie verkoop, maar dit het nie eers genoeg geld ingebring om sy hospitaalkoste te dek nie.

“Toe dit lente geword het, het hy teruggekeer,” het ek voortgegaan. “My ouma het hom raakgeloop waar hy op sy ou plaas rondgedwaal het, en hom teruggelei na haar huis toe. Sy het die ou man ’n kamer gegee en na hom omgesien. Hy het selde gepraat, nie eers om haar te bedank nie, maar hy het alles in sy vermoë gedoen om sy daaglikse brood te verdien.

“Deur my oë, die oë van ’n seun, het hy baie oud gelyk met sy wit hare en waggelende skrede. Aan die begin was ek ’n bietjie bang vir hom. Toe op ’n dag, toe ek probeer het om my eerste visstok te maak en ’n gemors daarvan gemaak het, het hy dit uit my hande geneem. Hy het dit besonder knaphandig reggemaak, en dit aan my teruggegee. Dit het hy alles gedoen sonder om ’n woord te sê, maar tog met ’n sagmoedigheid wat my vrees weggeneem het. Daarna was daar ’n onuitgesproke, stilswyende vriendskap tussen ons.

“Toe hy oorlede is, het my ouma sy vrou se gebedeboek boek gevind wat aan die binnekant van sy matras vasgewerk was. Binne in was ’n gekrapte nota: ‘Pa, ek gaan nou weg en ek sal nooit weer terugkom nie. Ek gaan weg, want Pa het my nie lief nie. Wees asseblief goed vir Ma.’ Dit was geteken: ‘Josef ’.

“Glo jy nou dat ek van Fichtenhorst afkomstig is?” Ek was klaar en ’n bietjie verleë, want ek het myself toegelaat om ’n bietjie deurmekaar aan te hou praat oor die ou man.

Die majoor het nie geantwoord nie. “Gaan terug na jou sel toe,” het hy bars beveel. Toe ek omgedraai het om te gaan, het hy die kaart opgetel. Onthuts het ek besef dat hy my kans gegee het om te verduidelik waarom ek die inkriminerende stukkie papier gehad het – en daar was mense wat gevonnis is tot van vyf tot tien jaar dwangarbeid op gebrekkiger getuienis van spioenasie. Ek het in sy strik getrap. Die feit dat hy nie die kaart genoem het nie, was genoeg vir my om te glo dat hy klaar sy besluit geneem het.

Verdwaas deur uitputting en wanhoop, het ek deur die nag geslaap. Vroeg die volgende oggend het ’n wag my wakkergemaak met: “Maak jouself reg.”

So, die oomblik het aangebreek. Ek was verslae en vol vertwyfeling.

“Ons gaan jou na die Westerse gebied neem,” het die wag gesê.

Terwyl ek ’n uur lank tussen die twee wagte gestap het, het ek die hele tyd verwag dat ons gaan terugdraai. Ek was seker dat dit een of ander wrede poets was. Toe hulle my papiere aan my teruggegee het, en vir my gesê het om die grenslyn na Wes-Duitsland oor te steek, kon ek hulle nog nie heeltemal glo nie.

“Jy is gelukkig,” het een van hulle, nie juis onvriendelik, toegevoeg.

Hy was só reg. Eers na ek in my paspoort gekyk het, het ek daar ’n nuwe stempel gesien: “Tweede onwettige oor-grenskruising”.

Dit was geteken: “Majoor Josef Stolpel”.


Next

Previous