Uit Abducting A General
deur Patrick Leigh Fermor
Uiteindelik, gedurende die nag van 4 April, het die geluid van ’n skip se motore, na die derde nag van seine met flitse, ons seine beantwoord. Gou daarná het ’n matroos in ’n rubberbootjie die beskutte baaitjie binnegeroei en ’n tou uitgegooi. Sonder om enige tyd te mors, was die geëvakueerders aan boord en die skip het in die donker verdwyn. En daar op die rotse, amper ongelooflik ná al ons probleme, was Billy, Manoli en George. Ons het die goed op die muile gelaai, Vasili Konios, ons beskermheer in die area, vaarwel toegeroep, en koers gevat binneland toe om die lang klim na veiligheid aan te pak. Uiteindelik het ons tot stilstand gekom en op ’n hoë bergkloof vol selonsrose afgepak, terwyl die see daar vêr onder geblink het.
Vir die res van die nag was daar maar min geslaap, so ook vir die volgende dag; daar was te veel om oor te praat. Raki en wyn is uitgehaal; twee skape is geslag en gebraai. Die lente het skielik op die eiland uitgebars en die geurige kruiereuk het die nuwe aankomelinge myle ver uit op die Libiese see getref. Soos ek gehoop het was Billy verstom deur die skouspelagtige bergreekse om ons, en die swier, gasvryheid, goedhartigheid en humor van die Kretensers was besig om hom te beïndruk.
~
Ons lomp karavaan kon slegs in die nag voortbeweeg. Ons het met sononder vertrek, en na ’n lang sukkelgang deur diep klowe, waar ons elke af en toe moes halt roep by ’n waterval of ’n vriendelike skaapkraal, het ons by Skoinia uitgekom, waar ons in Mihali se huis tuisgegaan het. ’n Dag en ’n nag het hier verlore geraak, as gevolg van die besoek van ’n hele klomp plaaslike leiers, die groot Kapetan Athanasios Bourdzalis ingesluit, en die opwagting, in haar moeder se arms, van ’n klein peetdogtertjie van my. Hierdie gebeurtenisse het aanleiding gegee tot ’n banket en liedere – hierdie keer was daar goedgeplaasde skildwagte. Ons moes klaarmaak en oppak en ’n nagmars aanpak wat ons noord-oos, halfpad oor die wydte van die eiland sou neem – oor die gevaarlike kant van die Messara-vlakte; om garnisoenbesette dorpe, en deur dorpe wat nie beset was nie waar ons in die strate hardop sou beveel: “Halt!”, “Marsch!”, of “Los!” en waar ons met rasperstemme sou sing: “Bomber über England”, “Lili Marlene” of die “Horstwessellied”, om onduidelikheid omtrent ons identiteit te versprei.
Op ’n slag het dit saggies op die laagliggende landstreek gereën en oral was daar flikkerende liggies: honderde dorpsvrouens was besig om slakke op te tel wat deur die reën aangelok is. Voor dagbreek het ons die hoogliggende dorpie Kastamoniza en die skuilplek van die familie van Kimon Zographakis bereik. Hy was van die kus af saam met ons – ’n jong man vol gees en waagmoed wat voorheen ’n gids was vir kommandostrooptogte. Die vrygewigheid en warmte van sy hele familie was waarlik merkwaardig – ’n ouer broer is onlangs gevang en doodgeskiet as gevolg van sy versetwerk. Gedurende die dag moes ons binnemuurs bly, want daar was ’n Duitse hospitaal in die dorp: vyandige stemme en voetstappe kon onder die vensters gehoor word. Die boonste kamer het ’n besige hoofkwartier geword waar roetekaarte en voorrade uitgesorteer is en vanwaar boodskappers uitgestuur en ontvang is. Verder is ons die hele tyd deur ons gashere en hulle seuns en dogters bederf.
Hoog in die berge bokant Kastamoniza, in ’n siklopiese grot tussen rotse en kranse en eikeboomwoude, met ’n uitsig oor die hele laagliggende vlakte van Kastelli Pediada, het Siphoyannis, ’n ou bokwagter en ’n ware vriend, gewoon. Dit was die regte plek vir ons om ’n paar dae te kon wegkruip terwyl ek Herakleion toe gegaan het om dié wêreld te verken. Ek het ons span met twee lede versterk. Hulle was ouer as die ander, taai, stewig en sterk, opgeruimd en onwrikbaar: Antoni Papaleonidas, oorspronklik van Klein-Asië en wat as ’n dokwerker in Herakleion gewerk het, en Grigori Chnarakis, ’n plaasboer uit Thrapsano, net daar onderkant ons. (Beide van hulle het later peetbroers van my geword. So ’n verwantskap – synteknos in Kreta en koumbares in Griekeland – is belangrik en bindend. Mens word ’n synteknos deur die doop van ’n kind, of deur die strooijonker vir iemand se seun of dogter te wees.) ’n Jaar gelede het Grigori Chnarakis twee Britse vlieëniers, wat uit ’n brandende bomwerper moes spring, op ’n skouspelagtige wyse gered. (Een van hulle, vliegsersant Jo Bradley, voordat hy na veiligheid geëvakueer is, het vir ’n hele paar maande my seiner geword ná my vorige seinwerker, Apostolos Evanghelo or Leros, deur die vyand gevang en teregstel is.)
Die span – Billy, Manoli, George, Grigori en Antoni, met Kimon wat met die dorp geskakel het (en deur middel van ’n boodskapper, met my in Herakleion), en met Siphhojannis se waaksaamheid daar bo in die bokrotse, en naby ’n goeie fontein en ’n hele trop om te eet – sou so veilig wees soos arende. Almal het dadelik van Billy gehou, en hy van hulle. Hy het van sy vegtenue met die skouerbandjies ontslae geraak, en ’n kort broek en swart hemp gedra, en die skuilnaam Dimitri aangeneem.
Intussen het ’n ander boodskapper – gewoonlik het hulle hul boodskappe in hulle stewels of in hulle tulbanhoede gedra – in aller yl vir Micky Akoumianakis van Herakleion laat kom. Hy was omtrent so oud soos ek, intelligent en goed opgelei – nie een van die ander was juis geleerd nie – en die hoof van ons inligtingsnetwerk in Herakleion. Dit was ’n groot geluk dat hy langsaan die Villa Ariadne by Knossos, net buite Herakleion, gewoon het. Dié groot huis is deur Sir Arthur Evans vir die opgrawing en restourasie van die groot Minoër-liggingsterrein, gebou. Micky se pa, nou oorlede, was vir baie jare Sir Arthur se opsigter en handlanger. Die Villa was nou generaal Kreipe se woning.
My klere is deur die familie heraangepas sodat dit gelyk het na ’n boer van die platteland wat die stad besoek het: verbleikte snor en ooghare wat deur ’n stukkie gebrande kurk verdonker was. Kleursel loop soms wat strepe op jou gesig laat soos ’n zebra s’n. Daar is baie Kretensers ligter as ek, maar die Duitsers het hulle skuins aangekyk en dikwels gevra om hulle dokumente te sien, onder die indruk dat hulle dalk vermomde Britse, Nieu-Seelandse of Australiese swerwers kon wees. My dokumente is uitgemaak asof ek Mhali Phrangidakis is, ’n 27 jarige plantkweker, afkomstig uit Amari. Ons het totsiens gesê, op die lendelam bus van Kastrelli afgeklim, en die pad gevat. Op die bus was daar ’n paar plattelanders wat groente en pluimvee mark toe in Herakleion gevat het. Die kondukteur was ’n vriend. Maar met my Grieks, hoewel dit vinnig en voldoende was, was dit moontlik dat vreeslike flaters my kon verklap, en ek het dus liewer voorgegee dat ek geslaap het. Die enigste ander voertuie was Duitse trokke, karre en motorfietse. By een van die padblokkades naby Herakleion was ons voorgekeer, en twee Feldpolizei-korporaals het vir ons dokumente gevra. Teen die aand was ons veilig in Mihali se huis in Knossos, waar hy saam met sy suster by die venster uitgeloer het.
Die heining was net ’n paar tree weg, en daar, in sy baie mooi woud van bome en struikgewasse, met die Duitse vlag wat op die dak gewapper het, het die Villa gestaan. Formidabele doringdraad het dit omring. (Een keer, gedurende die Slag van Kreta, was ek al daarbinne toe dit ’n geïmproviseerde hospitaal vol Geallieerde – en Duitse – gewondes en sterwendes was.) Ons kon die chevron-versperring oor die pad sien, asook die skildwaghuisies waar die wagte met die stormhoede besig was om afgelos te word. Die vyand se verkeer het buite verbygedreun op pad na Herakleion toe wat drie myl verder weg was. Na die suide toe het die skerp spleet van die Jouchtas-gebergte opgereis. Aan die weste en suidekant het die ontsaglike sneeupieke van Mount Ida, die geboorteplek van Zeus, opgestyg. Anderkant die stof van die stad het die Egeïese See en die klein eilandjie van Dia gelê. Oos van die pad, aan die kant van die spierwit vallei met wingerde hier en daar, het die bolagtige bloedrooi pilare afgedaal na die groot trappe van die Paleis en die reusagtige gekapte stene van Koning Minos.
~
Om enige verskoning of voorwendsel vir weerwraak op die Kretensers te vermy, was ek vasbeslote dat die operasies sonder enige bloedvergieting uitgevoer moes word. Die enigste manier was om die generaal op sy pad huis toe vanaf die divisiehoofkwartier op Ano Archanes, vyf myl daarvandaan, te onderskep. Om meer tyd te kon kry, moes sy, met vlaggetooide, kar op ’n dwaalspoor gebring word.
Next →
← Previous