Die stem van die drom

Posted on April 09, 2018 by Cape Rebel

Uit ‘The Drum’
In Unto Dust

deur Herman Charles Bosman

Ou Mosigo was die laaste van die drommanne wat by Gabarones oorgebly het – het oom Schalk Lourens gesê – toe hulle die telegraafdrade op lang pale na hierdie deel van die land gebring het. Maar daar was ’n tyd toe die stem van die drom regoor Afrika getrek het.

Die eienaardige ding hiervan was dat, selfs wanneer ’n boodskap afkomstig was van ’n stam met ’n algehele vreemde taal, die dromman van die stam wat die boodskap ontvang het, dit nog steeds kon vertolk. In die ou dae was daar twee drommanne in elke dorpie. Sedert hulle kinderdae is hulle in die kode van die drom onderrig, en dan – op hulle beurt – het hulle die kuns van die stuur en die ontvang van dromboodskappe aan dié wat ná hulle gekom het, geleer.

Geen witman kon al daarin slaag om die taal van die drom aan te leer nie. Die enigste een wat iets daarvan geweet het – en selfs sy kennis was maar bittermin – was Gerhardus van Tonder, wat gereeld saam met sy broer, Rooi Willem, diep in donker Afrika gereis het.

Gerhardus van Tonder het my vertel dat hy die drommanne van verskeie stamme gevra het om hom die betekenis van die klanke wat hulle op hulle tam-tams uitgetrammel het, te leer. “Maar ek kon nooit verstaan wat die drommanne oor en oor probeer het om aan my te verduidelik nie,” het Gerhardus van Tonder aan my gesê. “Selfs wanneer ’n dromman dieselfde ding tot tien keer herhaal het, kon ek dit nog steeds nie snap nie. So dom-onnosel is hulle.”

Nogtans, het Gerhardus gesê, omdat hy dieselfde boodskap so dikwels gehoor het, was hy later in staat om te verstaan wanneer die dromme die boodskap verkondig het dat sy broer, Rooi Willem, ’n olifant doodgeskiet het. Maar eendag het ’n olifant sy broer, Rooi Willem, doodgetrap. Gerhardus het na die boodskap geluister wat die dromme daarna uitgestuur het. Dit was presies dieselfde as al die vorige boodskappe, het Gerhardus gesê. Maar, dit was net andersom.

Selfs in daardie dae het die aansien van die dromman gedaal – omdat ’n sendingstasie op Gabarones gestig is, en die sendelinge hulle eie boodskap saam met hulle gebring het – en dit het gebots met die meer heidense nuus uit Sentraal-Afrika.

Maar toe die telegraafdrade van Kaapstad af boontoe gebring is, verby die Groot Marico, en by die Protektoraat geïnstalleer is, het almal geweet – by wyse van spreke – die dromman se dae was getel.

Tog op een geleentheid, toe ek met Mosigo oor die telegraaf gepraat het, was, wat hy te sê gehad het, dit: “Die dromman is beter as die koperdraad wat julle witmense op pale van regoor die wêreld bring. Ek het nie koperdraad nodig vir my drom se boodskappe nie. Ook nie lang pale met rye wit medisynebotteltjies op hulle nie.

Maar wat Masigo ook al gedink het, die outoriteite het die koperdrade so ver as Nietverdiend gebring. ’n Klein poskantoortjie is op Jurie Bekker se plaas gebou, en ’n jong telegraafoperateur van Pretoria af is aangestel as die posmeester. Hierdie jongman het met ’n kollega in Pretoria gereël om vir hom, so nou en dan, items uit koerante te telegrafeer. Deur middel van hierdie telegramme, wat op ’n kennisgewingbord in die poskantoor vasgesteek is, het ons wat in hierdie deel van die Bosveld gewoon het, in kontak met die buitewêreld gebly.

Die telegramme was almal baie kort. In een van hulle het ons van president Kruger se besoek aan Johannesburg gelees, en wat hy op ’n openbare vergadering oor die Uitlanders te sê gehad het.

“As dit al is wat die President kon sê oor die Uitlanders,” het Hans Grobler gesê, “naamlik ‘dat hulle ’n pes is stop en dat hulle behoort swaarder belas te word stop en dat ’n mynersoptog bottels gegooi het stop’, dan dink ek dat ek in die volgende verkiesing vir generaal Joubert sal stem. En waarom herhaal hierdie telegramme die woord ‘stop’ so aanhoudend?”

Die van ons wat daardie tyd toe ook in die poskantoor was, het saam met Hans Grobler gestem. Verder het ons gesê dat ons nie net ’n beter president benodig nie, maar ook ’n beter telegraafoperateur. En ons het saamgestem dat die verlenging van die telegraafdiens na Nietverdiend ’n vermorsing van honderde myle se koperdraad was, om nie eers te praat van al die daardie lang pale nie.

Toe ons dit vir die telegraafoperateur genoem het, het hy vir ’n paar oomblikke nadenkend van die een na die ander van ons gekyk. Toe het hy gesê: “Ja. Ja, ek dink dit was ’n vermorsing.”

~

“Maar kyk na hierdie telegram,” het Hans Grobler ons in die rede geval. “Oor die fanatikus wat op die koning van Spanje geskiet het en hom met minder as twee voet gemis het stop”. Watter waarde het so ’n boodskap vir ons Bosveldboere? En in elk geval, watter soort van ’n ding is ’n fanatikus?”

As gevolg van hierdie geselsery by die poskantoor, het ek besluit om ou Masigo te besoek – die laaste van die drommanne by Gabarones.

Ek het hom teëgekom waar hy voor sy hut gesit het. Die plooie op sy gesig was ontelbaar. Hulle het my laat dink aan voetpaadjies wat oor die lengte en breedte van Afrika kronkel, en waarop jy vir myl na myl en dag na dag kan loop en dat dit nooit tot ’n einde kom nie. En ek het gedink oor hoe die boodskappe wat Mosigo deur sy drom ontvang het, van êrens langs die verste paadjies van Afrika gekom het.

Hy was besig om op sy ou drom te klopspeel. Dit het vir my amper soos ’n stem geklink. Nou en dan het dit gevoel asof daar van baie ver af ’n geluid op die wind gesweef het, wat óf ’n antwoord op Mosigo se boodskap was, óf die weerklank van sy drom. Maar dit was nie soos in die ou dae nie. Toe kon jy duidelik hoor hoe die boodskap van een drom ontvang is en verder oor die koppies en vlaktes deur die ander dromme oorgedra is. Enigeen kon sien dat daar nie soveel drommanne in die Bosveld oorgebly het nie. En die afname was nie omdat die hoofmanne hulle vir die aasvoëls gevoer het omdat hulle slegte nuus gebring het nie.

Heel moontlik was dit as gevolg van mededinging met die witman se telegraafdrade.

~

Terwyl ek na Mosigo se plooie gekyk het, het ek gedink dat hy dinge beter verstaan het as daardie jong snipperige telegraafoperateur, wat net vir drie of vier jaar uit die skool uit was, en wat altyd die woord “stop” in die middel van ’n boodskap sit – ’n duidelike teken van sy algehele domheid.

Ek het dus vir Mosigo gesê dat die telegraaf nog maar slegs ’n nuwe ding was, en dat dit met tyd kon verbeter. Miskien kon dit sommer baie verbeter, het ek gesê, as – om mee te begin – hulle daardie jong telegraafoperateur op Nietverdiend in die pad steek.

Die jong telegraafoperateur was te voorbarig, het ek gesê.

Mosigo het saamgestem dat dit sou help. Dis ’n baie belangrike ding, het hy gesê, dat jy vir sulke werk die regte soort persoon het. Dit was nie goed nie, het hy verduidelik, dat ’n man wat nie geskik is vir sulke werk nie, nuus aan jou moet oordra.

“Nog ’n ding wat belangrik is, is om die regte persoon te hê aan wie die nuus vertel kan word,” het Mosigo verder gesê. “En jy moet ook mooi dink oor wie die nuus gaan. Vat nou maar daardie koning, van wie jy my vertel het, van wie jy by Nietverdiend oor die telegraaf gehoor het. Hy is ’n groot opperhoof, daardie koning, nie só nie?”

Ek het aan Mosigo gesê dat ek my kon voorstel dat hy ’n groot opperhoof moes wees, daardie koning van Spanje. Maar natuurlik weet ek nie verseker nie – mens kan nooit seker wees nie – veral nie met Uitlanders nie.

“Het hy baie troppe beeste en baie vrouens wat in die boontjieveld skoffel?” het Mosigo gevra. “Hierdie groot opperhoof, ken jy hom goed?”

Ek het Mosigo vertel dat ek nie die koning van Spanje geken het om met hom te praat nie, omdat ek hom nog nooit ontmoet het nie. Maar as ek hom ontmoet – ek was van plan om te verduidelik, toe Mosigo gesê het dat dit presies was wat hy bedoel het. “Wat help dit om van ’n man te hoor,” het hy gevra, “tensy jy weet wie daardie man is? Toe die telegraafoperateur jou van die groot hoofman vertel het, het hy dit aan die verkeerde man vertel.”

En hy het sy drom weer begin speel.

Van toe af het ek Mosigo gereeld besoek, ten einde om uit te vind wat in die wêreld aan die gang was. Ons het nog steeds dit wat op die kennisgewingbord in die poskantoor was, gelees. Byvoorbeeld dit wat daar in Rusland gebeur het – waar ’n fanatikus op die keiser geskiet het “en hom met een voet gemis het stop”. Uit die telegramme kon ons begin aflei dat ’n fanatikus iemand was wat nie goed kon mik nie. Maar om nuus te kry wat regtig van waarde was, moes ek altyd – daarna – vir Mosigo gaan besoek.

So het dit gebeur dat, toe ek een middag op pad terug van die poskantoor af, ou Mosigo besoek het, ek hom weer gevind het waar hy voor sy hut, voor sy drom gesit het. Hy het my vertel dat daar nie meer nuus van sy drom af sou kom nie, want hy het so pas ’n boodskap ontvang oor die dood van ’n dromman.

Dit was ’n boodskap wat van veraf gekom het, het hy gesê.

Nogtans het ek die volgende week weer na Gabarones toe oorgery. Dit was nadat ek ’n telegram op die kennisgewingbord in die poskantoor gelees het waarin gesê is dat ’n fanatikus die Franse president “met meer as twintig voet gemis het stop”.

En toe ek van Gaberones af weggery het – waar ek, hierdie keer, nie vir Mosigo gesien het nie, maar egter wel sy drom met die vel wat oor die houtraam gespan was, wat, in ooreenstemming met die ritueel by die afsterwe van ’n dromman, gesny was – op my pad huis toe, het ek daaroor gepeins en gewonder.

Ek het gewonder of daardie laaste boodskap wat ou Mosigo ontvang het, van ’n afstand regtig baie vêr weg gekom het: verder as Spanje of Frankryk of Rusland. Stop.


Next

Previous