Uit No Outspan
deur Deneys Reitz
Generaal Hertzog, in sy langdurige toespraak voor die kabinet, het aangedui dat hy van plan was om op Maandag 4 September ’n voorstel by die parlement in te dien wat sou aandui dat Suid-Afrika in die oorlog neutral sou wees.
Hy was van nature so outokraties dat ek inderdaad geglo het dat hy dit nie werklik oorweeg het of hy wel daarin sou slaag om die voorstel aanvaar te kry of nie. In die verlede was dit sy gewoonte om by ons koukus in te loop en die wet neer te lê met ’n vuishou op die tafel. Hy kon geen weerstand duld nie, en met enige skimp van kritiek, het hy gedreig om te bedank en om hom op die land te beroep.
Dit was gewoonlik voldoende om sy volgelinge wat die naaste aan hom was, in hul spoor te laat trap. En aan ons kant het die lede in ’n mindere of meerdere mate hom maar sy gang laat gaan om die rede wat ek reeds aangedui het – hulle het generaal Smuts se raad aanvaar om nie ’n breuk oor onbenullighede te veroorsaak nie.
Ek is oortuig daarvan dat hy gedink het hy kon op die Maandagoggend op dieselfde manier by die parlement inloop en sy neutrale voorstel op ons afdwing met die druk van sy status. Deurdat hy staatgemaak het op sy dominasie, het hy nooit die moeite gedoen om hoofde te tel nie, en hy het geen idee gehad hoeveel lede moontlik sou stem ten gunste van ’n fundamentele saak soos hierdie nie. As hy dit sou gedoen het, sou ’n interessante, maar ’n nie te gerusstellende probleem, hom in die gesig gestaar het.
Die Suid-Afrikaanse Volksraad het uit eenhonderd drie en vyftig parlementslede bestaan, van wie almal behalwe ses nou in Kaapstad was. Teenwoordig was daar dus ’n honderd sewe en veertig van wie ’n honderd en vier die Verenigde Party ondersteun het; nege en twintig was Nasionaliste wat die amptelike opposisie onder dr. Malan, wat ’n stroewe ou Calvinis was, gevorm het. Sewe was Dominioniete (die Britse ekwivalent van Malan se Afrikaanse ekstremiste) onder leiding van kolonel Stallard, ’n Tory van die mid-Victoriaanse skool. Vier was lede van die Arbeidersparty, en drie was die sogenaamde Naturelle Verteenwoordigers, wat die swart mense in die parlement verteenwoordig het.
Op skrif het generaal Hertzog dus ’n groot meerderheid teenoor almal gehad, maar die struikelblok was dat, van die honderd en vier Verenigde Partylede wat onder hom gedien het, ses en sestig ondersteuners van generaal Smuts was, en hy kon slegs persoonlike ondersteuning van agt en dertig lede verwag. Dit was ’n feit wat hy in die ses jaar wat hy regeer het, skynbaar nooit besef het nie.
Andersyds sou die nege en twintig Nasionaliste, almal heftig anti-Brits, vir enigiets anti-Brittanje stem, en hulle sou ’n mosie van neutraliteit ondersteun. Met sy ondersteuning van agt en dertig, en met die nege en twintig balhorige Nasionaliste, het hy ’n gevolg van sewe en sestig stemme gehad teen ons ses en sestig. Maar ons het geweet dat die sewe Dominioniete, die vier Arbeiderslede en die drie Naturelle Verteenwoordigers almal by ons gestaan het, wat ons ’n meerderheid van dertien sou gee.
Ons het ’n voorlopige opname gemaak, en ons was seker van ons saak, maar generaal Hertzog, in sy hardvogtige verwaandheid, was onder die indruk dat hy ’n meerderheid in die Huis gehad het, en dat sy voorstel aangeneem sou word. Hy het dit inderdaad aan beide die goewerneur-generaal en generaal Smuts gesê, en nou het hy in ’n put getuimel wat hy self gegrawe het.
Daardie aand het ek, generaal Smuts en die vyf kabinetslede wat ons by Groote Schuur ondersteun het, by die Staatsdiensklub saamgekom en ’n teenmaatreël opgetrek wat generaal Smuts die volgende dag as wetsontwerp sou voorstel.
Teen Maandagoggend is die voëltjie se gefluit reeds êrens gehoor. Die Huis was veronderstel om halfelf te open, maar van nege-uur af het die lede alreeds in die voorportaal saamgedrom, en is ons met vrae bestook. Was dit waar dat die kabinet aan die verbrokkel was? Was dit waar dat generaal Hertzog van plan was om ’n mosie van neutraliteit voor te stel? Watter reg het ons gehad om te besluit sonder om die Party te raadpleeg? En so aan, ensovoorts. Dit was verstaanbaar dat hulle verontwaardig was, want generaal Hertzog moes in elk geval met sy vleuel van die Party beraadslaag het. Maar dit was sy saak, en ons het dit aan hom oorgelaat om dinge aan sy eie mense te verduidelik, terwyl ons ons self haastig slaggereed gemaak het vir die stryd.
Die Speaker se stereotipe gebed het die sitting geopen, en die wet om die senaatsitting te verleng, is aangeneem. Nou het die eintlike besigheid op ons gewag. Die openbare galerye was gepak, en daar was ’n doodse stilte toe generaal Hertzog opgestaan het om sy mosie om neutraal te bly voor te stel. Hy het lank gepraat en die argumente wat ons by Groote Schoor aangehoor het, herhaal – Hitler was geregverdig; die Britse konneksie sou ons altyd by hulle oorloë insleep, en ons in Suid-Afrika behoort uit die konflik te bly.
Daarna het generaal Smuts sy teenresolusie voorgestel. Hy het kortliks ons saak gestel vir deelname aan die oorlog. ’n Lang debat het daarop gevolg wat tot nege-uur die aand geduur het, en toe het die klok gelui vir die mees dramatiese hoofdelike stemming wat ek al ooit bygewoon het. Die stemopnemers het lank geneem om hulle lyste na te gaan, maar dit was nie nodig om ons mee te deel wie die dag gewen het nie.
Ek het generaal Hertzog dopgehou daar waar hy aan die oorkant van die Huis gesit het. Sy gesig was doodsbleek, en dit het gelyk of dit slegs op daardie oomblik tot hom deurgedring het dat hy ’n nederlaag in die gesig gestaar het. Die vyf ander kabinetsministers wat vir hom gestem het, het ontsteld en verontrus gelyk, en ek het die indruk gekry dat hulle woedend was dat hulle leier homself in ’n doodloopstraat laat bevind het.
Maar dit was te laat. Die stemopnemers het hulle getellery van die stemme voltooi en die lyste is aan die speaker oorhandig. Hy het opgestaan en die uitslag aangekondig: “Die ja-stemme ten gunste van die eerbare die eerste minister se mosie van neutraliteit – 67; die nee-stemme ten gunste van die mosie om betrokke te raak in die oorlog – 80; die nee-stemme het met ’n meerderheid van dertien gewen.”
Dit is moontlik dat generaal Hertzog ’n klein meerderheid sou kon behaal het, was dit nie vir sy erge mistastende taktiek deur Hitler se lof te besing nie, en ook as dit nie was vir die vurige en kragtige toespraak van generaal Smuts, in antwoord daarop, wat die wankelmoediges weer laat dink het nie.
Die besluit is in stilte ontvang, want gedurende die tellery het ons ’n fluister-boodskap aan ons mense gestuur: “Manne, moenie sout in hulle wonde vryf nie – moenie leedvermakerig wees nie.” Ons het geweet dat die krisis te ernstig was om daaroor te korswel, en al die lede het daarna stil uitgestap – die meeste diep ingedagte. Want die volle betekenis van wat plaasgevind het, het nog nie ingesink nie.
In die eerste plek het dit beteken dat ons in ’n oorlog teen Duitsland betrokke was, en dat ons dalk binnekort ook teen die Italianers oorlog sou maak.
Dit het ook beteken dat generaal Hertzog verslaan was en dat hy genoodsaak was om die regering van die land aan generaal Smuts te oorhandig.
Generaal Hertzog het reeds vroeër daardie oggend met die goewerneur-generaal, Sir Patrick Duncan, in verbinding getree om hom te vertel dat hy ’n mosie van neutraliteit sou indien en dat hy oor ’n meerderheid in die Huis beskik het. Toe egter, ’n paar uur later, het hy na die Goewerneurswoning gegaan om uit sy amp te bedank ná hy vir vyftien jaar lank die eerste minister van die Unie was. Met al sy foute het ons hom tog jammer gekry, maar ons was verheug dat generaal Smuts toe weereens aan die hoof van sake gestaan het, en dat Suid-Afrika sy wysheid tot ons beskikking sou hê om ons te lei. Dit was beter as om uitgelewer te wees aan die nukke van dié man – hoewel hy oor uitstaande eienskappe beskik het – wat te obsternaat, wispelturig en onlogies was om in sulke gevaarlike tye op te vertrou.
Die goewerneur-generaal het generaal Smuts dadelik gevra om ’n nuwe kabinet saam te stel. Na gelang van die stemmery in die Huis was dit duidelik dat ons oor ’n meerderheid beskik het slegs as gevolg van die welwillendheid van die Dominioniete, die Arbeiderslede en die Verteenwoordigers van die Naturelle. Hulle het almal hulle partyverskille oor die hoof gesien om oor dié saak saam eenstemmig te wees.
Generaal Smuts het toe besluit om ’n nasionale regering te vorm.
Next →
← Previous