Die kyk in sy oë

Posted on June 26, 2018 by Cape Rebel

Uit “Veld Maiden”
In Mafeking Road

deur Herman Charles Bosman

Ek weet wat dit is – het oom Schalk Lourens gesê – wanneer jy op só ’n manier van die veld praat. Ek weet van mense wat soos jy daar sit en droom van die veld, en wat snaakse dinge sê, en wat begin glo in wat hulle die siel van die veld noem, totdat die veld aan die einde vir hulle iets anders beteken as vir my.

Ek weet net dat dit gebruik kan word om mielies te kweek, en daarvoor is dit ook nie baie goed nie. Dit beteken ook baie harde werk vir my – om mielies te kweek. Daar is byvoorbeeld die geploeëry. Ek het gewoonlik pyne in my rug en skouers gekry van die hele dag se gesittery aan die kant van die land op ’n klip, vanwaar ek die werkers en die osse en die ploeg, op en af, vore kon sien maak. Hans Coetzee, wat ’n Boere-oorlogsgevangene op St Helena was, het my vertel hoe seesiek hy geword het deurdat hy die hele tyd die skip gesit en kyk het, hoe dit op en af, op en af, beweeg het.

En dit is dieselfde met die geploegery. Die enigste ware genesing vir hierdie ploegsiekte is om stil op ’n riempiesbank op die stoep te sit, met jou bene ietwat opgelig, en om koffie te drink tot die ploegseisoen verby is. Die meeste van die boere in die Marico-bosveld het hierdie raat aangeneem, soos jy seker teen hierdie tyd al opgelet het.

Maar daar is die veld. En dit is nie goed om te veel daaraan te dink nie. Want dan kan dit jou op vreemde maniere wegvoer. En soms wanneer die veld jou baie vêr weggevoer het – kom daar ’n kyk in jou oë wat God nie daar gesit het nie.

Dit was vroegsomer, kort na die reëns, dat ek vir die eerste keer John de Swardt raakgeloop het. Hy het langs ’n tent gesit wat hy agter die maroelas, aan die verste end van my plaas, waar dit grens aan Frans Welman se lande, opgerig het. Hy was al vir ’n hele paar dae daar en ek het nie daarvan geweet nie, want ek het op die stoep gesit omrede die ploeëry, wat ek alreeds aan jou verduidelik het.

Hy was ’n jong kêrel met lang swart hare. Toe ek nader beweeg het, het ek gesien waarmee hy doenig was. Hy het ’n stukkie wit bokseil op ’n staandertjie voor hom gehad en hy was besig om my plaas te skilder. Dit het gelyk of hy al die waardelose stukkies vir sy skildery uitgesoek het – ’n krans en ’n paar klippe en ’n klomp polle kakiebos.

~

Toe het John de Swardt my ’n ander skilderstuk gewys wat hy geverf het en toe ek dit gesien het, het ek ’n ander indruk gekry oor hierdie ding wat hy gesê het, kuns was. Ek het van De Swardt na die verfwerk gekyk en toe weer terug na De Swardt.

“Dit kon ek nooit van jou gedink het nie,” het ek gesê, “en jy het ook na so ’n stil soort van persoon gelyk.”

“Ek noem dit die ‘Veldmeisie’,” het John de Swardt gesê.

“As die predikant dit sien, sal hy dit ander name gee,” het ek geantwoord. “Maar ek is nie kleingeestig en nougeset nie. Ek was eenkeer in ’n kroeg in Zeerust en tweemaal in die bioskoop toe ek eintlik by die Nagmaal moes gewees het. Dus het ek niks teen ’n jongkêrel om idees van sy eie te hê nie. Maar jy moenie dat iemand hier rond hierdie Veldmeisie sien nie, tensy jy meer klere aan haar verf.”

“Ek kan nie,” het De Swardt geantwoord, “dis presies hoe ek haar sien. Dis hoe ek oor haar droom. Vir baie jare nou al, het sy so in my drome na my toe gekom.”

“Met haar arms só uitgestrek?” het ek gevra.

“Ja.”

“En met …”.

“Ja, ja, net só,” het De Swardt baie vinnig gesê. Toe het hy gebloos en ek kon sien hoe besonder jonk hy nog was. Dit was ’n jammerte dat só ’n gawe jong kêrel so van lotjie getik kon wees.

“In ieder geval, as jy ooit ’n verfwerkie soek,” het ek gesê toe ek geloop het, “kan jy kom en die agterkant van my skaapkraal afwit.”

Ek sê dikwels sulke grappige dinge aan mense.

~

’n Hele paar Sondae na mekaar het ek De Swardt oor die rant na Frans Welman se huis geneem. Sedert die tyd toe hy vir die verkeerde man by die skoolkomitee gestem het, het ek nie juis veel van ’n agting vir Frans se vermoë om te oordeel gehad nie. Maar ek het nie nog ’n buurman gehad vir wie ek te voet kon gaan kuier nie, en waarheen ek op ’n Sondag kon gaan nie. En ek moes iewers op ’n Sondag gaan kuier.

Ons het oor verskeie dinge gepraat. Frans se vrou, Sannie, was jonk en mooi, maar baie skaam. Maar dit was nie haar natuur om so te wees nie. Dit was net dat sy bang was om te praat ingeval sy iets sou sê wat haar man hom oor sou vervies. Die meeste van die tyd dus, het Sannie stil in die hoek gesit, en net af en toe opgestaan om vir ons nog koffie te maak.

In sommige opsigte was Frans Welman wat mens sou noem ’n harde man. Byvoorbeeld, die manier hoe hy sy vrou en die werkers op sy plaas behandel het, was iets van ’n verbloemde skandaal. Maar dan, andersyds, het hy baie goed na sy beeste en varke omgesien. En ek het altyd geglo dat dit vir ’n boer belangriker is as dat hy goed moet wees vir sy vrou en werkers.

In elk geval, ons het oor die mielies en die droogte van voor verlede jaar, gesels, en die subsidies. Ek kon sien dat die gesprek binnekort weer oor die volksraad sou gaan, en omdat ek nie gretig was om te hoor hoe Frans in die algemene verkiesing gaan stem nie – omdat ek glo dat so ’n onverantwoordelike persoon glad nie toegelaat moes word om te stem nie – het ek gou vir John de Swardt gevra om ons van sy skilderye te vertel.

Hy het daar en dan met sy Veldmeisie begin.

“Nie daardie een nie,” het ek gesê en sy maermerrie geskop. “Ek bedoel jou ander skilderye. Daardie soort wat die sprinkane skrikmaak.”

Ek het gevoel dat die Veldmeisie nie ’n gepaste onderwerp was om oor te gesels nie, veral nie met ’n vroumens teenwoordig nie. Dit was buitendien ’n Sondag.

Die skop het egter te laat gekom. De Swardt het sy maermerrie ’n paar keer gevryf en toe oor die onderwerp begin praat, en hoewel ek en Frans hier en daar ’n paar keer keelskoongemaak het, en Sannie met haar pragtige maar erg blosende wange op die vloer gekyk het, het die jong skilder alles oor daardie skildery verduidelik en wat dit vir hom beteken het.

“Dis nou ’n droom wat ek vir ’n lang tyd gekoester het,” het hy aan die einde gesê, “en elke keer wat sy na my toe kom, en ek my arms uitsteek om haar te omhels, verdwyn sy; en al wat oorbly is net die herinneringe van haar in my hart. Maar wanneer sy kom, is die hele wêreld in ’n pragtige skoonheid geklee.”

“Dis in elk geval meer as wat sy aan het,” het Frans gesê, “te oordeel na wat jy vir ons van haar vertel het.”

“Sy is ’n gees. Sy is die gees van die veld,” het De Swardt saggies gesê. “Sy fluister vreemde en betowerende dinge. Haar koms is soos die gefluister van die wind. Sy is geheel en al nie van hierdie aarde nie.”

“Nou ja,” het Frans spoedig daarna gesê, “jy kan jou Uitlander-spookvrouens maar vir jouself hou. ’n Boerenooi is goed genoeg vir ordinêre kêrels soos ek en Schalk Lourens.”

En so het die dae verbygegaan.

John de Swardt het ’n paar stukke rots en droogtegeteisterde kakiebos voltooi, en ek het só ver gegaan as om hom te oortuig om die een wat die slegste gelyk het, “Frans Welman se plaas”, te noem.

Maar een oggend het hy heel opgewonde by my aangekom.

“Ek het haar weer gesien, oom Schalk,” het hy gesê. “Ek het haar laasnag gesien. In al haar weergalose lieflikheid. Net so teen middernag se kant. Sy het saggies oor die veld na my tent toe gekom. Die aand was warm en allerpragtigs, en die sterre was verspot en vol sang. En daar was musiek waar haar wit voete aan die gras geraak het. En soms het dit gelyk of haar mond gelag het, en soms was dit weemoedig. En haar lippe was baie rooi, oom Schalk. En toe ek my arms na haar uitgestrek het, het sy weggegaan. Sy het in die maroelas verdwyn soos die gefluister van die wind. En in my ore was daar ’n gelui. En in my hart was daar ’n groene geurigheid, en ek het gedink aan die onverganklike ligte affodille wat in die velde van die paradys groei.”

“Ek weet nie so mooi van die paradys nie,” het ek gesê, “ maar as daar so ’n ding in my mielielande groei, sal ek hom dadelik uittrek. Ek hou nie van sulke spookagtige nonsies nie.”

En toe het ek hom goeie raad gegee. Ek het hom vertel om versigtig te wees vir die maan, wat toe amper vol was. Want die maan kan snaakse dinge in die Bosveld aan jou doen, veral as jy in ’n tent woon en dis volmaan en daar is spookagtige skaduwees tussen die maroelas.

Maar ek het geweet hy sou nie aandag gee aan wat ek hom vertel het nie. ’n Hele paar keer daarna het hy met dieselfde Veldmeisie-storie na my toe gekom en daarvoor het ek toe begin moeg word.

Toe hy een oggend weer daar opdaag, het ek deur die kyk in sy oë alles geweet. Ek het jou alreeds van daardie kyk vertel.

“Oom Schalk,” het hy begin.

“John de Swardt,” het ek aan hom gesê, “moet my niks vertel nie. Al wat ek van jou vra, is dat jy jou goedjies moet pak en dadelik my plaas verlaat.”

“Ek gaan vanaand,” het hy gesê. “Ek belowe jou dat ek teen moreoggend weg sal wees. Laat my toe om nog net een dag en een nag hier te bly.”

Sy stem het gebewe toe hy gepraat het, en sy knieë het ook gebewe. Maar dit was nie daaroor of vir sy onthalwe dat ek toegegee het nie. Ek het baie beleefd met hom gepraat ter wille van die kyk in sy oë.

“Nou maar goed dan,” het ek gesê, “maar jy moet reguit teruggaan Johannesburg toe. As jy voor sonop met die pad afloop deur die poort, sal dit vir jou moontlik wees om die regeringslorrie Zeerust toe te haal.

Hy het my bedank en geloop. Ek het hom nooit weer gesien nie.

Die volgende dag was sy tent nog agter die maroelas, maar John de Swardt was weg, en hy het al sy skilderye saam met hom gevat. Dit was almal behalwe die een van die Veldmeisie. Ek veronderstel dat hy dit nie meer nodig gehad het nie.

En, in elk geval, het die rysmiere reeds hulle ding daaraan begin doen. Dit is dus waarom ek dit, wat oorgebly het, openlik aan my voorhuismuur kan hang, en die predikant kan niks daar teenoor sê nie. Want die rysmiere het omtrent alles opgevreet behalwe die gesig.

Wat Frans Welman betref, het dit lank geduur voordat hy die soektog in die Marico na sy jong vrou, Sannie, gestaak het.


Next

Previous