Uit A Boer Rip Van Winkel
deur Herman Charles Bosman
Elke skrywer het in ’n tas of ’n trommel wat êrens rondlê, verskeie dele van ’n storie waaraan hy so nou en dan aan gewerk het, en wat hy nooit klaargekry het nie, want hy kon nie vasstel hoe die tema gehanteer moes word nie. So ’n storie – wat ek vir baie jare in ’n tas laat lê het – draai om die dinge wat met Herklaas van Wyk gebeur het.
Die intrige van ’n storie staan my nie juis aan nie. Ek voel om te gaan sit en ’n intrige uit te werk, nie beroep doen op die hoogste vorm van literêre inspirasie nie. Daardie soort aktiwiteit laat mens dink aan die vaardigheid van die uitvinder.
My eie stories waarvan ek die meeste hou is daardie wat net eenvoudig ontwikkel het. Een of ander gemoedstemming, in ’n halfdosyn woorde opgeroep, het my aan die gang gekry, en dit het al dikwels met my gebeur dat, slegs wanneer ek na aan die einde van die skrywery daarvan gekom het, die vorm van die storie skielik tot my deurgedring en duidelik geword het. En ek was al meer as een keer verras om te vind dat dit ’n baie ou verhaal was wat my weg van die hoekie van die haard gehou het. Dit het my aangenaam verras, want ek het ’n voorkeur vir ou verhale.
Maar my onvermoë om die storie van Herklaas van Wyk klaar te skryf is nie as gevolg van die dénouement wat nie ’n herkenbare vorm in my kop in die laaste paar honderd woorde kon vorm en aanneem nie. Dit was nie daardie soort skrywersprobleem nie. Ek het nie my hand in ’n hoed gesteek en ’n storie uitgetrek wat nie wou ontvou nie. Inteendeel, hierdie storie het homself heeltemal mooi in al sy belangrikste noodsaaklikhede vertel. Wat meer is, binne die eerste paar paragrawe het ek duidelik geweet watter soort van verhaal dit moes wees. Maar daar was soveel leemtes tussen die tyd toe Herklaas van Wyk die laaste keer te siene was saam met dit wat oorgebly het van die Losberg-kommando, aan die einde van die Boereoorlog in 1902, en die tyd toe hy saam met generaal Kemp net buite Upington in die 1914 Rebellie gevangene geneem is.
As ek daardie tydsverloop van ’n dosyn jare bevredigend kon vul, sou ek steeds die storie van Herklaas van Wyk kon skryf. Tog is die wonder van hierdie storie innig gebonde aan die aard van daardie lacuna. Dis niks nuuts om ’n storie te hê wat in ’n raaisel eindig nie – iets wat die leser vir homself moet uitwerk, met of sonder ’n leidraad deur die skrywer voorsien. Maar wanneer die middelste gedeelte van ’n storie – wat atmosfeer aan die hele reeks van ware en denkbeeldige gebeurtenisse skenk – verlore is, dan voel dit vir my dat ek gekonfronteer word met ’n artistieke probleem van ’n klas waarvan ek nie seker is of dit wys is vir ’n skrywer om aan te pak nie.
Ek gee nie om, om ’n storie te skryf waarin die intrige vaag is nie. Maar wanneer die atmosfeer ontbreek – die agtergrond en die sielkunde en die wisselwerking van die situasie en die karakter – wat dan oorbly is nie my idee van ’n storie nie.
Die gebeurtenisse waarmee Herklaas van Wyk in die begin van 1902 verbind was, was alledaags genoeg. Daar lewe vandag nog ’n aantal Boere wat saam met hom op kommando was. Kritzinger se inval in die Kaapkolonie is ’n episode wat nou geskiedenis is. ’n Aantal Boere, lede van kommando’s wat in kleiner en nog kleiner groepe opgebreek het, het daarin geslaag om tot by die Atlantiese oseaan deur te breek. En hulle het diep binne-in die Kaapkolonie op die slagveld aangebly, lank na die hoofkommando tot anderkant die Vaal teruggeval het.
Dit was in 1902 dat Herklaas van Wyk, wat toe tot die rang van veldkornet bevorder is, in die verte die woelige Atlantiese oseaan in die oog gekry het. Die klein groepie manne het aangestoot tot op die strand. Hulle het ’n lang pad gekom, van Transvaal en die Vrystaat af, en ook vanuit die Karoo waar ’n aantal Kaapse rebelle by die vegtende magte van die Republieke aangesluit het. Dit was ’n gemengde groep burgers wat daar op die wit sand van die strand suid van Okiep halt geroep het.
~
Terwyl hy ver oor die see uitgekyk het, het Herklaas van Wyk stadig sy hoed afgehaal.
“Kêrels, dit lyk nie goed nie,” het hy so oor die gedreun en gedruis van die branders en die wind gesê. “Ons sal moet teruggaan. Daar is nie ’n drif hier rond waar ons die perde sal kan deurkry nie.”
Rondom Herklaas van Wyk was daar ’n mate van grootsheid, selfs in neerlaag.
En sy storie, tot met daardie tyd toe die seewind deur sy swart baard gefluit het, was eerlik en opreg genoeg. Jy kan inderdaad, in enige geskiedenisboek wat oor daardie periode handel, oor hom lees. Maar dis toe hy op pad terug Transvaal toe was, toe hy en sy manne vlugtige Engelse kolonne moes ontwyk en hulle verby doringdraadheinings vasgeknoop aan blokhuise moes kom, dat Herklaas van Wyk die gedrukte geskiedenisbladsye, geheel en al met datums en plekname, vaarwel toegeroep, en die terrein van legendes binnegegaan het.
Dit word algemeen aanvaar dat hy nog in die veld was toe die Boereoorlog in Mei 1902 geëindig het. Sy eie storie is dat hy aan die voet van ’n koppie, in die Upingtonse distrik by ’n verlate rondawel ingekruip het. Daar het hy aan die slaap geraak met sy Mauser langs hom en sy perd aan ’n doringboom vasgemaak.
’n Ander storie – toegeskryf aan twyfelagtige outoriteite deur medelede van die rebellekommando wat saam met Herklaas van Wyk in 1915, ná generaal Kemp nie daarin kon slaag om Upington in te neem nie, oorgegee het – verduidelik daardie tydperk van ’n dosyn jaar op ’n ander manier. Volgens die laasgenoemde poging om die feite te rekonstrueer, was al wat met Herklaas van Wyk tussen 1902, die einde van die Boereoorlog, en 1914, die jaar van die uitbreek van die rebellie, gebeur het, dat hy op ’n plaas in die distrik van Upington as ’n bywoner gewoon het. Dit is geredelik aanvaarbaar, het pleitbesorgers van hierdie standpunt verklaar, dat hy gedurende hierdie periode baie geslaap het, veral op warm middae wanneer sy werkgewer hom uitgestuur het om na afgedwaalde beeste te loop soek. Wie het nog nie gehoor – het hierdie groepie twyfelaars gevra – van ’n bywoner wat in sy rondawel gelê en slaap het terwyl hy by die boorgat water moes gepomp het nie?
Ek kan maar net sê dat hierdie teorie, wat hom as ’n dekadente bywoner uitbeeld, nie inpas met my voorstelling van Herklaas van Wyk as persoon nie.
~
Ek verkies nog Herklaas van Wyk se eie storie wat hy, ná hy deur Botha se regeringsmagte gevangene geneem is, aan enigeen wat wou luister, vertel het. Nog ’n ding, as ons Herklaas van Wyk se weergawe van sy lang slaap in die verlate rondawel aan die voet van die koppie in die Upingtonse distrik aanvaar, het ons die materiaal vir ’n Suid-Afrikaanse legende wat net so aangrypend is as die een wat Washington Irving geboekstaaf het. Dit is verseker geen ydele toeval nie. Bowenal is daar ’n gotiese element in Herklaas van Wyk se eie verhaal – ’n swaarmoedige grootsheid wat nooit afwesig is van die binnekant van ’n rondawel aan die voet van ’n koppie nie, as daardie koppie uit ysterklip gevorm is.
Herklaas van Wyk vas aan die slaap in ’n donker hoek, ’n grammadoelas-Barbarossa al wagtende op sy veraf ontwaking in ’n uur gevul met die donderende perdehoewe en die rumoer-lawaai van oorlog.
~
Die ou man met die wit baard en die geroeste Mauser en die lopende geraamte van ’n perd, was vir die grootste gedeelte van ’n week, saam met Kemp se kommando, besig met ’n moedelose weghollery van die regeringsmagte af. Dit het nou tot die kleinkrygsbende van 1914-rebelle deurgedring dat oom Herklaas van Wyk (soos hulle dit geïnterpreteer het) kens was. Dit was duidelik dat hy gedink het, dat dit die jaar 1902 was. Dit was voor die hand liggend dat hy nie geweet het dat hy ’n rebel was wat teen die troepe van die Unie te velde getrek het nie. In plaas daarvan het hy homself as ’n Transvaalse burger beskou, en het hy veragtelik verwys na Cronje se oorgawe by Paardeberg asof dit gister plaasgevind het.
Verder was hy ook verbysterd toe hy vir die eerste keer gehoor het dat daar deur ’n kolonne van Botha-manne op die rebellekommando jag gemaak is.
“Maar as Botha ons jaag,” het Herklaas van Wyk op aangedring, “wie baklei teen Kitchener?”
So het dit een aand gebeur, toe die rebelle in ’n bloekomplantasie kamp opgeslaan het, dat daar heelwat van ’n verduideliking plaasgevind het.
“Ek onthou die dag toe jy by ons aangesluit het, oom Herklaas,” het Jan Gouws, ’n jong rebel, gesê ná Herklaas van Wyk sy storie vertel het en hulle hom oortuig het dat die jaar inderdaad 1915 was, en dat hy nie in die Boereoorlog geveg het nie. “Jou wit baard het in die wind gewaai, oom Herklaas, en ’n hele klomp van ons het gelag oor die lompe manier wat jou ou perd geloopdraf het, met sy bene wat hy so na die kante toe uitgegooi het. So jy sê dat jy regtig vir twaalf jaar geslaap het?”
“Maar ek glo nou – nou dat jy my vertel het,” het Herklaas van Wyk geantwoord, “dat ek op die vloer van daardie rondawel vir al die jare gelê en slaap het. Dit moes seker net aan die einde van die Boereoorlog gewees het. En dis snaaks dat ek nie wakker geword het voor my nasie my weer nodig gehad het nie.”
Die rebelle het die ou man se laaste opmerking in stilte aangehoor. Hulle het begin twyfel daaraan of hulle gewapende opstand ’n verstandige ding was om te doen. Vir baie dae is hulle van bakboord na stuurboord aangejaag. En die onophoudelike reën het hulle geesdrif gedemp.
“Oom Herklaas, het jy onthou om jou horlosie op te wen voordat jy in daardie rondawel gaan lê en slaap het?” het Jan Gouws gevra, in ’n poging om die gesprek te verander.
Die ander burgers het nie vir hierdie kwinkslag gelag nie. Vereers het dit weer begin reën.
Sommige van die ander burgers het so half aan oom Herklaas se storie begin glo. Daar was iets onverklaarbaars gewigtig en plegtig aan die gedagte van ’n burger van die Transvaalse Republiek wat in die hoek van ’n verlate rondawel gaan lê en slaap het, met sy Mauser aan sy sy – en wat toe eers ’n dosyn jare later wakker geword het, toe daar weereens manne aan die ry was met hulle gewere wat dwarsoor hulle skouers gehang het.
“Het jy enigsins gedurende daardie tyd gedroom, oom Herklaas?” het ’n ander man op so ’n ietwat ernstige toon gevra.
Die ou man het vir ’n rukkie gedink.
“Ek onthou dat ek van ’n mossie gedroom het wat op ’n koraalboom vol rooi blomme gaan sit het,” het oom Herklaas stadig gesê, “maar ek dink dit was ’n lang ruk terug – nadat ek vir omtrent so vier jaar of so geslaap het.
’n Rilling het deur Jan Gouws gegaan. Die rooi blomme aan daardie boom moes seker teen hierdie tyd behoorlik verlep wees, het hy gedink. En dit het hom ’n snaakse gevoel gegee om te dink aan daardie mossie wat die ou man in sy droom gesien het, al fladderende in die sonskyn van lank gelede. Dit het Jan Gouws ongemaklik laat voel, vir ’n rede wat hy nie kon verduidelik nie.
“My Mauser is baie geroes,” het Herklaas van Wyk verder vertel. “Ek het hom probeer olie, maar dit help nie. Ek sal hensop moet skree of een van die vyand doodskiet en sy Lee-Metford van hom afvat, soos ons aan gewoond is. Hoe lank dink jy, sal dit ons vat om hierdie oorlog te wen?”
Die rebelle het nie geantwoord nie. Hulle het geweet hulle saak was alreeds aan skerwe geskiet. Ten spyte van die ou man se seniliteit, het dit gelyk of daar uit sy gees uit ’n vreemde soort van gerusstelling gestraal het, ’n vorm van standvastigheid in die gesig van teenspoed en nederlaag, iets wat hulle nie besit het nie. Dit het gelyk asof daar iets in die ingewande van hierdie burger van die Transvaalse Republiek was wat hulle nie gehad het nie. Iets ferms en konstant wat hulle verloor het. Hulle het gewaar geword van die verskil tussen die vorige geslag en hulle eie, sonder dat dit vir hulle moontlik was om hulle gevoelens in woorde uit te druk, en in daardie verskil het hulle hulle nederlaag gevoel.
“Wat het van jou perd geword, oom Herklaas?” het ’n jong rebel uiteindelik gevra.
Uiterlik sat en gedaan, het Herklaas van Wyk nog steeds op die een of ander wyse die wanhoop en die grootsheid van ’n vorige skittertyd verteenwoordig.
“Ek het my perd aan ’n doringboom vasgemaak,” het Herklaas van Wyk gesê, “en ook hy moes aan die slaap geraak het. Ek is seker die hoefslae van ’n kommando op volle galop moes hom ook laat wakker skrik het. Want toe ek by die doringboom aankom – wat nie gedurende daardie tyd veel gegroei het nie: jy weet mos hoe stadig ’n doringboom groei – het my ou oorlogsperd die wind geruik en die grond met sy pote gekap. En hy het met ’n sekelnek daar gestaan.”
Next →
← Previous