Die Here alleen weet waarheen

Posted on March 30, 2020 by Cape Rebel

Klik op die beeld om na die podgooi te luister

Uit Met die Boere in die veld
deur Sarah Raal

 

Maande gaan so verby, maande vol angs, kommer en onsekerheid. Geen taal of tyding van ’n familielid nie, en ek hier blootgestel aan al die gevare. Maar ek is vasbeslote om, wat ook al gebeur, vol te hou tot die bitter einde. Af en toe hoor ek die ontstellende berigte van lyding en dood in die kampe. By die gedagte dat ek miskien nog gevang mag word en ook na een van die kampe gestuur kon word, maak ek weer kliphard plan om te vlug. Sewe maande het so verbygegaan, toe ou Tryn een oggend weer by my kamer ingehardloop gekom het met: “Kleinnooi, kleinnooi, kom kyk wie is hier – die kleinbasies!”

Wat was die blydskap en opgewondenheid nie groot nie! Huil-huil het ek die een ná die ander omhels. My arme broers – sal ek die gesig ooit vergeet! Bruin gebrand, uitgehonger en verwaarloos in die wind en weer, met amper geen skoene meer aan nie, en klere soos vodde. Nogtans is hulle opgeruimd en bly dat hulle weer by die huis kan wees; maar instede van ’n hartlike verwelkoming, kry hulle ’n leë huis met ’n hulpelose suster.

My eerste vraag, so gou as wat ek weer kon praat, was: “Kom julle my haal?”

Vraend kyk die een na die ander en sê dan: “Ag, suster, hoe kan ons jou saamneem? Ons eie lewe is gedurig in gevaar en vol ontberinge. Hier kan ons ook nie bly nie; dis te na aan die vyand; en as hulle weet ons is hier, sal jou lewe verseker ook in gevaar wees.”

Dié dag bring ons toe maar stil deur. Hulle perde word goed in die stal versorg, en verder bly ons maar op die uitkyk na swart spioene; want ek weet dat as hulle uitvind dat my broers hier is, dan is dit klaarpraat met my. Laat dié middag hoor ek by een van ou Andries se seuns dat die ou weet van my broers, en dat hy dié nag met Engelse sou kom om hulle te vang. Ons het toe die paaie goed dopgehou en met skemer die aand het my broers opgesaal, my ook op ’n perd gesit, en ons is weg na die naaste buurplaas toe.

Toomfontein is ongeveer ’n halfuur te perd van ons plaas af. Daar het ons toe die nag oorgebly, en my broers het die oggend na hul kommando toe vertrek. Vroeg die volgende oggend was ou Sam ook daar om inligting van ons plaas af te kom oordra. Hy vertel ons toe alles wat daardie nag aangegaan het. Die Engelse het daar saam met ou Andries opgedaag, almal te perd en gewapen. Ná hulle hul perde versteek het, het hulle die huis omsingel om die Boere wat daar is, te vang. Toe daar niks van gekom het nie, wou hulle van ou Sam weet waar die Boere is. Maar ou Sam weet niks van Boere af nie, daar was geen Boere nie en ook nie my broers nie. Toe dit lig word, is hulle die huis in en snuffel dit deur van die kombuis tot by die solder uit. Verder wil hulle weet wat van die meisie geword het wat daar bly. Ná hulle niks en niemand kon vind nie en gehoor het dat ek gaan kuier het en weer dieselfde dag sou terugkom, is hulle daar weg.

Dié middag is ek weer terug huis-toe, waar ek alles weer rustig en stil aantref. Die berig dat my broers daar was, het die Engelse egter meer agterdogtig gemaak. Hulle vertrou die vrede nou glad nie meer nie, en omdat hulle my broers graag wil vang, stel hulle alles in werking en wend hulle alle pogings aan om hulle te betrap as hulle weer op die plaas mag kom. Elke nag stuur hulle swart spioene uit, onder leiding van ou Andries. Die ou ken mos alles op die plaas. Hy sê vir hulle waar om hul perde te versteek en waarlangs my broers sal kom. Ons huis ken hy ook van voor tot agter, selfs watter kamer myne is. Saans laat hoor ek hulle op die stoep onder my kamervenster; dan beveel hulle my om my deur te sluit en nie ’n voet uit die kamer te sit nie, anders sal hulle my wys wie is baas.

Onbeskryflik is die nagte van angs wat ek daar alleen moes deurmaak – ’n hulpelose vroumens alleen aan die genade van die barbare oorgelaat. Daarby nog die aaklige gedagte dat my broers enige nag, sonder dat ek hulle kan waarsku, in die val sal loop, om dan gevang of miskien voor my oë koelbloedig doodgeskiet te word.

Ou Sam en Tryn het gelukkig getrou gebly aan my. Hulle was dan ook nou my enigste hulp en raad. Ou Tryn het snags by my in dieselfde kamer geslaap, en ou Sam het vir my die boerdery behartig. Die swart spioene het, eienaardig genoeg, ’n soort eerbied vir ou Sam gehad. Dié ou het hulle dan ook gewaarsku om nie die kleinmies te molesteer nie, anders sou hy hulle gaan aangee by die Engelse. Hulle het dit dan ook nooit gewaag om in die huis te kom nie, maar het my op allerhande ander maniere getempteer. Partykeer as hulle oordag daar opdaag, beveel hulle die kleingoed om hul perde koud te lei en in die stal te sit en om toe te sien dat hulle water en voer kry. Dan stap hulle soos groot menere daar op die werf rond. Verder kom hulle by die huis aan en beveel ou Tryn om vir hulle koffie te maak en te gee wat hulle wil hê. Dit was genoeg om ’n mens mal te maak, en dit was alles bydraende oorsake wat my laat besef het dat die lewe vir my hier onmoontlik begin word het. Ek sou dit nie langer hier alleen kon uithou nie, en sou ook nie veel langer meer alleen gelaat word nie.

Die einde het vinnig nader gekom. Nou is ek hard aan die plan maak om weg te kom. Op ’n goeie môre kry ek ’n brief van die Engelse kommandant van Edenburg waarin hy my beveel om met al my goed na Edenburg toe te kom, met die vee en alles. Hulle beskuldig my daarvan dat ek net op die plaas sit om kwaad te doen, en ek voorsien die burgers van kos, en verder is ek daar ’n las vir hulle. Hulle sou oor ’n paar dae vir my ’n wa uitstuur om die koring en goed op te laai. Ek skrik my boeglam vir die brief en besef dat ek toe dadelik aanstaltes moet maak om weg te kom, anders vang hulle my nog op die plaas. Maar waar om te begin, of liewer, waarmee om te begin, was nou vir my die grootste probleem. Ek het ook niemand om te raadpleeg nie. Gaan ek vir ou Sam vra wat hy dink, dan sê hy vir my: “Wat dink die nonnie?”

Oor een saak egter was ek toe al absoluut vasbeslote, en dit was dat wat ook al gebeur, vir my sou hulle nie kry nie. As dit daarop neerkom, gee ek alles prys en vlug alleen. Ek kom liewer op die slagveld om, maar as ek dit kan verhelp, nie in ’n konsentrasiekamp nie. Aangespoor deur die vrees om gevang te word en deur die nood gedrewe, is my brein koorsagtig aan die werk. Oorgeeplanne het ek nooit gemaak nie en ek dink nou net in een rigting, en dit is hoe om weg te kom met alles wat daar is – die vee, waens, spaider en koring.

Dié middag was my planne, so goed of so swak as wat hulle ookal mag wees, taamlik agtermekaar. Ou Sam sou trek met die skape, ou Tryn en Piet moes die wa dryf, en ek sou met die spaider vlug. Maar daar was nie trekdiere nie. Dieselfde aand stuur ek nog vir ou Sam met ’n brief na die naaste burgerkommando en smeek hulle om vir my trekvee te stuur. Ek verduidelik ook aan hulle die posisie waarin ek verkeer, en sê dat ek die koring wil uitbring en dat ek wil wegkom. Die volgende middag, hier is ou Sam met die trekvee, en nou begin die pakkery in alle erns. Die osse ja ons in ’n kampie naby die huis en ons pak nou vir al wat ons werd is. Die koring en ander goed het ons op die wa, en alles word in gereedheid gebring vir “die Groot Trek”.

Die volgende middag was alles klaar, en ek beveel ou Sam om die osse nader te bring en nou begin die inspannery. Hier kom ons toe voor ’n nuwe probleem te staan. Dit is ’n vreemde trekspan, en ons het nie ’n idee hoe hulle trek nie en watter voorosse en watter agterosse is nie. Maar dit kom nou nie daarop aan watter voor- of agterosse is nie, hulle moet in en trek. Dit is eers die grootste gesukkel om die goed in die hande te kry; hulle het lank nie gewerk nie en is lewendig en stoterig. Ná ’n lang gesukkel, en nie voor ’n paar nek omgedraai is en ’n paar jukskeie gebreek is nie, het ons hulle so op ’n manier ingespan gekry, en toe het ou Sam vir Piet en ou Tryn gehelp. Ná dié ou my die spaider help inspan het, ry hy ook weg na die skape toe. Ek bly toe alleen agter om afskeid te neem van die ou plaas.

Vir laas stap ek die ou huis deur van een kamer na die ander om te sien dat alles toe is. Van elke kamer met sy meubels neem ek afskeid en sluit dit agter my. Die hele ou huis is somber en dood. Al wat ek hoor, is die tik-tak van die huisklok op die skoorsteenmantel in die voorhuis. Hom laat ek staan; waarvoor sal hy loop? Daar is niemand om voor tyd te hou nie.

Ek moet my haas. Buite begin dit al skemer word maar binne in my hart is dit al stikdonker. Nog ’n laaste kykie na die portrette van my pa-hulle, en onwillekeurig wel daar ’n traan op in my oog. Toe sluit ek die swaar voordeur agter my en stap spaider toe, waarmee ek ’n onsekere toekoms tegemoet moet gaan, ’n vreemde en bloeddorstige wêreld in. Die Here alleen weet waarheen.

 


Next

Previous