Uit Abducting A General
deur Patrick Leigh Fermor
’n Uur ná sononder het ons twee groepe, wat toe weer bymekaar aangesluit het, met ’n steil, moeilik sigbare, kronkelende bokpaadjie opgeloop. Op ’n muil in die middel, toegewikkel teen die koue in Strati se groen gendarme-dikjas, met Manoli aan sy sy, het die generaal gery. Of liewer, Theophilos – die woorde “Kreipe” of “Strategos” was so ver terug as Kastamonitza verbode.
Billy het my vertel dat hulle gedurende die dag ’n “Duitse waarskuwingsein” ontvang het, en dat hulle hul wegkruipplek verskuif het. (Kon dit ek en George gewees het?) Hulle het selfs daarin geslaag om ’n bietjie slaap in te kry. Hulle het gesê dat die generaal verstandig was en saamgewerk het, maar dat sy dringendste bekommernis, wat hy ook aan my herhaal het toe ons ’n rookbreek tussen die rotse geniet het, was die verlies van sy Ridderkruis. Ek het gesê dat dit moontlik in die geworstel afgekom het, en dat dit dalk gedurende die skoonmaakproses opgetel is. As dit die geval was, sou ek toesien dat dit terugbesorg word. Daarvoor het hy my bedank. Na aanleiding van die strooibiljette, wat ek vertaal het, het hy gesê: “Nou ja, jy het sekerlik nie verwag dat Braüer, my kollega, sou stilsit wanneer hy van my … verkragting (Mein Raub) gehoor het nie?”
“Nee, maar die Duitsers sal ons nie vang nie”. (Hier het ek aan die stam van ’n eikeboom na aan my geraak.) “Jy weet, die Kretensers is almal aan ons kant.”
“Ja, ek sien hulle is. En natuurlik het julle my nog.”
“Ja Generaal, ons het jou nog die hele tyd.”
By een van die ander haltplekke het hy, ná ’n gesug, amper net aan homself gesê: “Post coitum triste.” Ek was verwonderd oor hierdie opmerking, en het hom vertel dat, net ’n paar minute vroeër en waar niemand ons kon hoor nie, ek en Billy besluit het dat daardie uitdrukking in die kol was vir die gemoedstemming van deflasie wat ná ’n rukkie op die gevangeneming gevolg het.
“Dis alles heel gaaf vir jou, Major,” het die generaal gesê, “Ek neem aan dit gaan militêre glorie wees. Maar my hele loopbaan het in duie gestort. (Meine ganze Karriere ist kaput gegangen.) Soos jy gesê het, vir my is die oorlog verby. Om te dink dat my bevordering van generaal-majoor tot luitenant-generaal nou net deurgekom het!”
Sy swaar gesig – hy het ’n massiewe uitstaande ken gehad, reguit grys hare wat aan die kante kort gesny was, met ’n kuif wat lank genoeg was om oor sy voorkop te hang, en blou oë – het stug en treurig gelyk. “Ek wens ek het nooit na hierdie vervloekte eiland toe gekom nie.” Hy het droefgeestig gelag. “Dit was veronderstel om ’n aangename verandering te gewees het ná die Russiese front.”
Ons het altwee gelag. Dit was alles ietwat buitengewoon. Hy was ’n dik kêrel, groot gebou, maar nie vet nie. Ongelukkig vir die toer wat op ons gewag het, het hy dieselfde liggewig grys klere, net soos ons, aangehad – met ’n los ski-broek soos die bergtroepe, en, dank die hemel, stewige bergklimstewels.
Hy was die dertiende seun van ’n Lutherse pastoor in Hanover en ’n professionele soldaat in murg en been. Hy moes, in ’n omgewing waar daar meer ruimte daarvoor was, ’n stewige en imponerende teenwoordigheid gehad het.
Ons het ná middernag opgehou loop en op die souterige vloer van ’n ou herdershut opgekrul. Die vuur in die middel het die kegelvormige klip-igloe verlig. Dié plek was vol spinnerakke en roetagtig, en teen die mure was stapels kaas soos klein meulklippe en sakke dikmelk wat gedrup het. Ek en George het nog nie weer geslaap sedert Skalani nie, behalwe vir ’n uur wat onderbreek was deur ’n gekom en gegaan op die divan teen die muur van die priester se voorhuis.
Ons het almal in die donker opgestaan en ons reis hervat.
Met dagbreek is ons vanaf ’n oorhangende rotslys geroepgroet: dit was een van Mihali Xylouris se brandwagte wat daar met ’n geweer oor sy knieë gesit het. Hy het daar en dan teen die heuwel afgehardloop, sy geweer met ’n juigkreet eenkant toe gegooi, en sy arms om my en Billy, Manoli en George gegooi, en net betyds voor die verbysterde generaal gestop. Hy was een van my erepeetbroers, Kosta Kephaloyannis. Hy was omtrent negentien en het lenig en wild daar uitgesien, met ’n sonbruin gelaatskleur, groot groen oë en skitterwit tande, soos ’n jong swartluiperd.
~
Vir die generaal moes dit seker heel snaaks gewees het om saam met Mihali en sy manne te eet. Vooraf was daar die vele tekens van die kruis, en dan die glase wat teen mekaar geklink was met die gewone weerstandsheildronke: “Oorwinning!”, “Vryheid!”, “Salige Maagd staan naby ons!”, “Mag sy die roes van ons gewere afskuur!” en “Mag ons sterf met eer”.
Mihali en sy span was uiters hoflik, maar hulle het dit moeilik gevind om nie die hele tyd na ons vreemde prys te kyk nie. Die mees onversorgde en ongeletterde Kretense bergklimmers het dikwels ’n sjarme en fatsoenlike geaardheid besit, selfs as die aandete uit slegs bokmelk en klipharde, twee maal gebakte herdersbrood bestaan het. Dit het neergekom op ’n baie hoë lewenstyl, wat, ná die handjievol kleinburgerlike joiners in Herakleion wat sy enigste sosiale ervaring van die Grieke kon gewees het, ’n verrassing vir die generaal moes gewees het.
Dit was as wyser beskou om sonder ’n vuur klaar te kom. Terwyl ons raki gedrink het om warm te bly, het ons vir ’n ruk lank gesing: die ou Kretense rebellielied “Wanneer sal die hemele skoon wees?”, fyn afgewerkte rymende koeplette, ’n rizitika – ’n voorheuwel-berglied – “My vlugtige klein swaeltjie”, “’n Arend het daar gesit” in die mineurmode, en “Philedem” – ’n lied met ’n Turkse melodie waarvoor ek so lief was dat dit ’n bynaam geword het.
Deur die gebrek aan bedekking het ek, Billy en die generaal – ons al drie – maar nie vir die laaste keer nie, in die draadloosgrot onder een kombers geslaap. Manoli en George met hulle Marlin-gewere liefderik byderhand, was aan weerskante van ons waar hulle beurte geneem het om te slaap. By sulke plekke was daar altyd parasitiese-ongediertes wat vir my slaapmaats ’n groter treitering was as vir my wat ná amper twee jaar verhard was teen hulle aanslag.
Die daeraad wat deur die mond van die grot ingevloei het, en die wit voulyne van die Ida-berg omsoom het, het vir ’n seldsame oomblik gesorg. Ons het al drie daar in stilte gelê en rook, toe die generaal so stadig so half aan homself gesê het:
“Vides ut alta stet nive candidum Soracte”.
Dit was die aanvangsreël en ’n stukkie van een van die min odes van Horace wat ek uit my kop uit geken het. Dit was my geluk.
Ek het voortgegaan:
“Nec jam sustineant onus
silvae laborantes geluque
Flumina constiterint acuto”.
En ek het aangegaan met die ander strofes tot aan die einde van die ode. Ná ’n paar sekondes van stilte, het die generaal gesê: “Ach so, Herr Major.” Vir ’n volle vyf minute het die oorlog soos mis voor die son verdwyn.
~
Ná ’n paar ure van klim, was ons binne trefafstand van Kapetan Petrakoyeorgi se buiteposte, hoog op teen Ida se hange. Gou daarná was ons in die ontvangs van ’n verwelkoming wat selfs triomfanteliker en gevoelsopenbarender as Mihali s’n was. Petrakoyeorgi – hoë stewels, gebandelierd, kragtig en sterk, begaafd met woorde en, met sy sprankelende oë en opkrul snor en baard, was heel sjarmant – hy was een van wat die drie oorspronklike guerrilla-kapteins van die besetting wat met die inval spore gemaak het heuwels toe. Hulle het almal baie ontberinge verduur.
Die stewige Petrakoyeorgi met sy welige snor, was dapper, vreesloos en meedoënloos, ’n soort van Tamerlane. Ek het altyd van hom gehou ten spyte van sy skrille swakhede, waarvan die felste sy hardnekkige wispelturige temperament was wat hom laat neig het na onbesonne dade: dinge wat hy op die ingewing van ’n oomblik gedoen het, wat ’n hele jaar se versigtige voorbereiding deur die res van die weerstandsbeweging, verpletter het. Ek het gedink dat die generaal nogal beïndruk was deur sy pronkerige voorkoms en gasvrye en hartlike manier. Verder was hy ook miskien beïndruk deur die groot hoeveelheid wapens wat die manne wat by ons in die berge aangesluit het, besit het, en ook met die bekende en vriendelike persone tussen hulle. Die wapensmokkelary en valskermvoorsiening was besig om vrugte af te werp.
Petrakoyeorgi het ons ’n nuwe gids gegee, en Antoni Z, wat van Amari aan die suidekant van Ida, af gekom het, het vooraf met twee ander vertrek, wat hy dan later as boodskappers ná ’n rendezvous aan die anderkant van die waterskeiding, kon terugstuur.
Ons het ’n stelsel van groot vure uitgewerk om die roete aan te dui, as hy op ’n slim manier ’n pad deur die Duitse sametrekkings kon vind. Almal het gesê dat groot getalle aan die suidelike hange saamgetrek het. As daar geen roete op daardie oomblik bestaan het nie, sou hy ons laat weet dat ons moes wegkruip en bly daar waar ons was.
Next →
← Previous