Diana Se Woudbewoners, Gunstelinge Van Die Maan

Posted on November 10, 2017 by Cape Rebel

Uit Abducting A General
deur Patrick Leigh Fermor

Toe ek die span gevind het, het hulle om ’n ou verbrokkelende hut van klip rondgestaan. Dit was in die skadu van ’n klomp plataanbome en ’n oorhangende rots, met ’n waterval en ’n diep waterpoel. George Harocopos, sy ou pa en sy pragtige sustertjie het na hulle in hierdie Daphnis en Chloë décor omgesien. Billy (in sy weergawe) vermeld die volgende: Aangesien die groep reeds vir twee dae daar was en dat daar gereeld kos voorsien moes word, en ook dat George, die steunpilaar van die huishouding, ons kon verlaat, het ek probeer om Oom Evthyios, die vader,  te dwing om ’n paar ponde te aanvaar. Dit was ’n toneel wat hom al dikwels afgespeel het. Twee jaar vantevore, het ek vyf pond met ’n begeleidende brief aan Aleko Kokonas, die onderwyser van Yerakari, gestuur. Hy en sy vriende het hulself behoorlik verrinneweer in hulle ondersteuning van Britse swerwers: “Hiermee iets vir sigarette,” het ek geskryf. Die volgende dag het die muntstukke met ’n nota teruggekom: “Dankie Mihali, maar ek rook nie.”

Dit was omtrent altyd dieselfde storie. Ons het net daarin geslaag om ons hoofkwartieruitgawes te betaal, maar niks anders nie, behalwe dat ons af en toe mense wat in die steek gelaat was deur ’n skielike afsterwe of ramp, gehelp het. Dieselfde is van toepassing op al hierdie vername gepratery van boodskappers wat dwarsoor die land gestuur is. Hulle, soos almal in hierdie storie, was onbetaalde vrywilligers wat só gewerk het omdat hulle eershalwe gevoel het om so te doen. Ons was bondgenote; en dit was nie nodig om iets verder te sê nie. Dit is waarom al die verwysings na “Engelse huurlinge” in Duitse communiqués die bal so lagwekkend mis geslaan het. Hulle was net so verkeerd in hulle verwysings, in die konteks van guerrilla-aktiwiteite, na “Kommuniste” en “Bolsjewieke”. Die enigste kommunistiese bydraes aan die Kretaanse weerstand, was hulle pogings om die weerstand, vir na-oorlogse politieke doeleindes, te ontwrig, soos hulle met groot bekwaamheid in die res van Europa gedoen het. Gelukkig het hulle die veld te laat daarvoor betree. Al wat op die eiland die moeite werd was, is jare tevore geabsorbeer, voor die nonpolitiese EOK-beweging – die Ethniki Organosi Kritis (die Nasionale Organisasie van Kreta) – ’n sentrale weerstandsbeweging.

Goeie more, Generaal. Hoe gaan dit?”

Aa, goeie more, Major. Ons het jou gemis.”

Ons kon net sowel in ’n sitkamer gewees het. Billy het my vertel dat die generaal se buie tussen stuurse depressie en redelike opgeruimdheid gewissel het. Hulle het ’n ligte meningsverskil gehad, nou weer opgemaak, ten tyde van die afbrand van die dorpies. Ek dink hulle was verder uitmekaar gehou as wat normaalweg die geval sou gewees het, as gevolg van die Potsdam-Kartuiser Frans wat hulle enigste medium van kommunikasie was. Dié brug was te wankelrig, behalwe vir die mankoliekerigste verwisseling van woorde.

Die generaal het baie geheg geraak aan Manoli, en Manoli het die indruk gehad dat hy kon probeer het om te ontsnap. Daarom het hy, veral gedurende die nagtelike ure, ’n goeie ogie op hom gehou. Om een ofander rede, het hy vir George gewantrou – dit was nogal vreemd, want George was van nature ’n innemende mens. Ek dink die herinnering aan die nabyheid van George se dolk gedurende ons rit deur Herakleion het diep spore gelaat. As ’n Duitser was die generaal in die eerste plek ’n voorwerp van afkeur vir almal in ons span. Maar as ’n menslike wese in die nabyheid van die warboel van die afgelope dae, was hulle meer op hulle hoede met hulle gevoelens maar, oor die algemeen, heel gaaf teenoor hom. Ek dink my tentatiewe gevoelens van meegevoel het begin met die Ode aan Thaliarchus op Kedrosberg terwyl ons na Idaberg gekyk het, en ek het ’n idee dat dit wedersyds was, hoewel nie een van ons, om dieselfde rede, daarna verwys het nie. In elk geval, soos dinge uitgedraai het, het ons die hemele gedank dat ons prisonier nie generaal Müller was nie. ’n Berugte oorlogsmisdadiger, sou hy die lewe ondraaglik gemaak het.

Dit was maklik om agter te kom dat die generaal, by verre na, nie ’n entoesiastiese Nazi of bewonderaar van Hitler was nie. Ek het hom oor die oorlogsmisdade uitgevra. Hy het gesê dat hy geweet het dat daar verskriklike dade in die Oekraïne gepleeg is, en dat daar op ander plekke “baie dinge gebeur het wat nie moes gebeur het nie.” In my vreemde rol as deels ’n gevangenemer en deels ’n gasheer, het ek ietwat van ’n weersin daarin gehad om hom druk om oor netelige sake te praat. Ons was, in elk geval, nie interrogasie amptenare nie.

Hy was verstom oor ons hegte verhouding met die Kretensers. Ek het die heersende gevoelens tussen Engeland en Griekeland sedert die Albanese veldtog verduidelik, en selfs lank voor daardie tyd. Ek het so goed as ek kon en in soverre as diskresie dit toegelaat het, aan hom die redes vir die huidige Husarenstück (Hussartruuk) vertel. Hy het sy kop stadig en nadenkend geskud, en gedink dat daar tog iets daarin kon steek.

Ek het hom oor Duitsland se bondgenote op die Russiese front uitgevra, en ek was baie verras oor sy antwoorde. By verre die beste, het hy gesê, was die Roemeniërs wat soos duiwels geveg het – “wie Teufel” (dit het by my opgekom dat dit miskien nie juis oor ideologiese redes was nie, maar eerder as gevolg van oeroue en atavistiese vrese, almal geregverdig, oor die lot van Bessarabië). Die volgende was die Italianers, wat, tot sy groot verbasing, baie goed was. Wat die Hongare betref, was dit asof hulle harte nie daarin was nie. Die Russiese veldtog het na ’n nagmerrie geklink. Hy het baie herinneringe oor die Eerste Wêreldoorlog opgehaal, waarna die geselskap heelwat ander onderwerpe gedek het.

Ons skielike plansverandering het vir ’n rukkie ’n verposing tot gevolg gehad. Die vreemde gevoel van hierdie rustige ure van rook en praat langs die skaduryke waterval, het sterk na vore gekom. Ek het ’n spesmaas gehad dat selfs in vroliker tye (vir hom) die generaal ietwat eenselwig van natuur was met ’n tikkie swaarmoedigheid daarby ingemeng. Op die oomblik egter was daar heelparty redes vir die swaarmoedige sugte wat voorgekom het terwyl hy gepraat het, en ook in oomblikke van stilte.

~

Ons pad in die westelike rigting oor die plato van Yious, was ons bekende oos-na-wes roete oor die nouste deel in die weste van Kreta. “Ons son kom op,” het George gesê toe ons met die opkoms van die maan die pad gevat het. Dit was ’n geliefkoosde gesegde op hierdie nagtelike toere. “Hier gaan ons,” het Manoli gesê, “Anthropoid tou Skolous.” Hierdie frase, “manne van die donkerte” was ’n cliché wat telkemale in Duitse propaganda opgeduik het wanneer hulle na mense soos ons verwys het, en ons het dit gretiglik ons eie gemaak.

Ek het gehoop dat ons op die laaste skof van ons reis was. Diana se woudbewoners. Gunstelinge van die maan.


Next

Previous