Baie Soos Die Grieke, Net Meer So

Posted on June 09, 2017 by Cape Rebel

 

Uit Patrick Leigh Fermor – An Adventure 
deur Artemis Cooper

 

Balasha was besig om na die radio in haar kar te luister, toe sy die nuus gehoor het dat Engeland oorlog teen Duitsland verklaar het. Op daardie oomblik het sy geweet dat haar tyd saam met Paddy verby was. Hy wou haar nie verlaat nie, maar hy was so gretig om terug te gaan Londen toe om aan te sluit dat hy dadelik reëlings begin tref het. Haar vriende het gevra waarom hy so haastig was om oorlog toe te gaan – kon hy nie ’n week of twee wag nie? Maar tog het Balasha jare later aan hom geskryf dat sy verstaan het en geen poging aangewend het om hom terug te hou nie: “Jou hart en siel het daarnatoe gebeur”.

Saam met Henry Nevile, ’n vriend wat in Boekarest gewoon het, het Paddy per trein terug Engeland toe gegaan met die hoop om by Ierse Wag aan te sluit. Om “van Ierse oorsprong te wees” was tot ’n groot mate deel van die romantiese persona wat hy vir homself geskep het, en sy begeerte om in die Ierse Wag  diens te doen, was ’n manier om daardie Iersheid vir homself toe te eien. Wat hy regtig begeer het, het Paddy aangevoer, was die uniform, met die “Star Saltire” van St. Patrick op die pet geblasoeneer en die knope in groepe van vier. “Ek het êrens gelees dat die gemiddelde lewe van ’n voetsoldaat-offisier in die Eerste Wêreldoorlog agt weke was, en ek het geen rede gehad om te dink dat die kanse in die Tweede veel beter sou wees nie. Daarom het ek gedink dat ek maar net so wel in ’n mooi uniform kon sterf.”

~

Op 14 November is Paddy beveel om na die Guards Depot in Caterham te gaan, en daar was hy onderwerp aan ’n regime wat ’n ernstige skok vir sy gestel was. Fisies was hy taai, maar daar het hy hom op ’n plek bevind waar sy sjarme nutteloos was, en die druk om te konformeer, meedoënloos was: dit was soos om weer op skool te wees, slegs drakonieser.

~

Die Inligtingsdiens, andersins, was nogal baie geïnteresseerd in die feit dat Paddy Frans, Duits, Roemeens en Grieks kon praat. En met die situasie wat in die Balkans vinnig aan die verander was, het hulle hom ’n kommissie aangebied. As hy dit sou aanneem, sou hy vry wees van enige verdere opleiding in die Guards Depot. Maar hy het steeds gehoop om ’n kommissie in die Ierse Wag te kry.

Hy het ’n onderhoud met die regiment se bevelvoerder gehad. Op daardie oomblik was daar vir hom geen vakature in die Ierse Wag nie. Luitenant-kolonel Versey het aan hom gesê dat hy inderdaad maande lank kon wag voor die geleentheid mog kom. Hoewel die meeste regimente daardie tyd desperaat was om jong offisiere te bekom, was Versey glad nie haastig om aan dié kadet ’n kommissie te gee nie – een van Paddy se rapporte het sy vordering as “benede gemiddeld” beskryf. Die Inligtingsdiens het egter dadelik ’n werksgeleentheid beskikbaar gehad, en die geleentheid was daar om terug te keer Griekeland toe.

Die finale, profetiese opmerking op Paddy se rapport is deur sy bevelvoerende offisier geskryf: “Geheel en al nutteloos as ’n regimentsoffisier, maar in ander kapasiteite sal hy van goeie diens vir die weermag wees.”

~

Monty Woodhouse was ’n Griekse geleerde met ’n ernstige soort van gemoed, wat toegegee het dat dit hom lank gevat het om Paddy se kwaliteite te waardeer. “Ek het hom vir die eerste keer op die perron by Glasgow gesien, met ’n pet van die Ierse Wag so laag oor sy oë getrek, dat hy agteroor moes leun om na jou te kyk.” Die twisappel tussen hulle was Griekeland. Woodhouse, wat ’n dubbele eersteklas in Klassieke Tale by Oxford behaal het en wat ook by Athene studeer het, was ’n akademikus. Paddy weer, het tussen die Grieke gewoon en het Vlachs en Sarakatsans, soldate, monnike en veewagters ontmoet. Soos Paddy dit gestel het: “Dít was altyd die ware wortel van die kwaad – ’n konstante en ongewapende stryd oor wie die grootste eiendomsreg op die Grieke gehad het.”

By Gibraltar het hulle na die kruiser HMS Ajax oorgestap en toe van daar na Alexandria gevaar. Toe, op die finale ent na Athene, het hulle by Sudabaai in Kreta stilgehou, om brandstof in te neem. Die skip sou eers oor drie ure vertrek, en Paddy het aan Woodhouse voorgestel dat hulle die eiland se westerse hoofstad, Chania, besoek. Ná ’n paar koppies koffie en sikoudia (’n drankie wat van moerbeie gemaak word) in die kroeë van die waterfront, het hulle besef dat dit laat geword het. ’n Soldaat van die Black Watch, het hulle terug na Suda toe opgelaai met sy vragmotor vol lemoene. Hoogsbesope het hy beheer oor die vragmotor verloor en dit omgegooi, en ’n stortvloed van lemoene het oraloor gebons en gerol.

Woodhouse en die bestuurder was onbeseer, maar Paddy wat saam met die lemoene uit die bak geval het, het ’n sny aan sy kop opgedoen en was vol bloed. Woodhouse was verplig om sonder hom weer by die skip aan te sluit, terwyl Paddy intussen na ’n dokter in Halepa toe geneem is, wat daarop aangedring het dat hy ’n nag of twee moes oorbly omdat dit ’n ernstige wond was.

Dit was Paddy se eerste geleentheid tussen die Kretensers, en hy het op onmiddellike empatie aanspraak gemaak: “Hulle was baie soos die Grieke, net meer so.”


Next

Previous