Uit Met die Boere in die veld
deur Sarah Raal
Dit het toe weer tyd geword, vir ons om ’n voorraad voedsel te gaan haal. Ons doen ook ons bes om soveel moontlik in hande te kry, sodat ons nog iets vir die burgers kan gee, as hulle daar aankom. Hulle moet egter so versigtig wees; en omdat ons plaas so digby Krugerstasie geleë is, kon hulle net snags met enige mate van veiligheid, by ons ’n besoek aflê.
Ongeveer drie maande na my pa gevang is, kom daar een aand ’n groot Boerelaer by ons aan; dieselfde nag, sou hulle nog weer verder gaan. Ons is deur die Engelse gewaarsku dat, as ons nie die Boerekommando’s wat daar opdaag, rapporteer nie, ons sekerlik in die moeilikheid sou beland; maar aan rapporteer, het ons nie eens gedink nie. Selfs die ou bediendes op die plaas, was gewoond daaraan dat daar, af en toe, burgers aankom. Een werker met die naam van Andries, het nie minder as 27 jaar by my pa op die plaas gewerk.
Drie dae nadat die laer daar was, moes ons ’n nuwe voorraad kos gaan haal. Omdat die pas op my ma se naam was, gaan sy en neem my klein sustertjie en broertjie saam, sodat ek alleen op die plaas agterbly. Hulle sou weer dié middag tuis wees, en ek het baie werk om te doen.
Teen die middag, toe dit omtrent tyd was dat hulle moet terugkeer, neem ek die verkyker en gaan sit op die rantjie agter die huis, om die pad dop te hou. Dit gaan al naderhand sononder se kant toe, en nog daag hulle nie op nie. Ek begin, toe al, half onrustig raak. Maar, stel ek myself gerus, hulle het seker een or ander oponthoud gehad, en sal nou-nou hier wees. Dis later egter al sterk donker, en nog geen teken is daar van hulle te sien nie. Omdat ek toe ook niks meer kon sien nie, besluit ek maar om af te gaan, huis toe. Teen dié tyd, het ek ook al alle hoop op hul koms laat vaar. Ek laat ons ou bediende Tryn roep, om by my in die huis te kom slaap, en terselfdertyd ook vir ou Andries om van hom raad te vra, en te hoor of daar nog ’n ryperd oor is om vroeg die volgende môre, ’n jong werker daarmee te stuur, met die hoop dat hy sal kan uitvind wat van my moeder-hulle geword het.
Tot my grootste ontsteltenis en verbasing, moes ek uitvind dat ou Andries reeds die vorige nag al, sak en pak weggeloop het. Toe laat ek ou Sam, ou Tryn se man, roep, en hoor van hom dat ou Andries al lankal gepraat het van wegloop Engelse toe. Hulle, so vertel hy, behandel ’n mens so goed; jy kry ’n “uniform” en ’n “rifle”, en word nog boonop goed betaal as jy in hul diens is. Dadelik besef ek toe waarom ou Andries die laaste tyd so bot en nukkerig was, asook die rede dat daar die vorige aand so laat nog lig in sy hut was.
’n Nuwe vrees maak hom nou meester van my. Duisende spookgedagtes deurkruis my verwarde brein. Buite is dit donker, en alles lyk spookagtig. Binne-in die groot huis, is dit nog stiller en donkerder. Ek, meisiemens van nog maar ’n paar jaar in haar twintigs, weerloos, alleen, met net die plaasarbeiders. Elke kraak van die vloer, of gepiep van ’n vlermuis, laat ’n koue rilling langs my ruggraat afgaan. In my verbeelding sien ek allerhande spookgedaantes, wat uit elke donker hoek en kamer dreigend na my sit en loer. ’n Benoude gevoel van angs en verdriet, dreig om my rasend die huis te laat uitstorm. Maar buite is dit ewe aaklig en donker, en wie weet wat wag daar … ou Andries …
Dis nou al omstreeks tienuur, en ou Tryn, wat gou haar kleingoed gaan versorg het, is nou ook weer terug. Ek het ook nog niks geëet nie, en voel ook nie lus vir iets nie. Ons maak maar ’n plan om te gaan slaap. Slaap – wie kan slaap in sulke omstandighede? Ek sidder by die gedagte om alleen in die donker kamer te slaap. Ek is vanaand bang vir die huis, bang sommer vir alles. Ou Tryn oorreed my egter later om maar bed toe te gaan. “Môre kom hulle – en dan is alles weer reg,” troos sy.
Slaap kon ek egter nie. Ek lê en rondrol, en maak allerhande planne, om uit die moeilikheid te kom. Alles is vir my so deurmekaar, dat ek nie weet wat om daarvan te maak nie. Elke keer as dit vir my lyk ek het ’n moontlike oplossing gevind, dan kom daar weer ’n nagmerrie-gedagte, en verban die bietjie hoop wat daar nou net opgeflikker het. Dan begin ek maar van voor af oor. Ou Andries kom nou weer in my gedagtes na vore, wat my so laat skrik dat ek sommer orent sit in die bed. Ek is bang vir hom … waar sou hy wees? Sal hy my nie miskien kom aanval nie? In my verbeelding, sien ek hom in die donker nadersluip, na my venster toe. Ek word so benoud dat ek amper hard aan die skreeu gaan, maar die gesnork van ou Tryn, wat lekker in die kamer langsaan slaap, is gerusstellend, en laat my bietjie veiliger voel. Honderde gedagtes dwarrel nou weer deur my brein.
Ek begin maar weer die feite en gebeurtenisse opsom, en vergelyk. Die geheimsinnige wegbly van my moeder hulle, ou Andries se stories en weglopery – ja, nou kry ek die draad. Ek verbind die twee gebeurtenisse, en voel toe oortuig dat ek nou die oplossing gevind het. Dit is nooit anders nie. Ou Andries het gaan rapporteer van die Boerelaer, wat hier by ons was, as gevolg waarvan my ma sommer op die stasie gevang is. Dié gedagte verydel die laaste bietjie hoop, wat ek nog gehad het op hulle koms.
~
Hier sit ek met die hele boerdery om na om te sien, meer as 2,000 skape, perde, beeste, en ook al die landbougereedskap. Wat moet ek met alles maak? In die huis is nog £500, in my pa se geldtrommel, en ook nog al sy papiere en bewyse. Wat sal ek maak? Onder beskerming ingaan? Terwyl my ouers in die kamp is, en my broers veg, om dan agter hul bloed te skuil? Nee, nooit nie! Dan liewer vlug of self gaan veg. Ek kon nooit sommer alles so aan die vyand oorgee, sonder om iets te doen nie; ek moet ’n plan maak. Miskien kom hulle my nog vang, en dan vat hulle alles. Ek moet die geld versorg en die goed ook, maar hoe? Ek maak ’n plan om te vlug, maar weet ook nie hoe, en waarheen, nie. Ek maak nou eers ’n plan met die geld. “Wat sal nou die veiligste wees?” dink ek. Begrawe? Nee, die note sal nat word, en dan niks werd wees nie. Ná baie oorwegings, besluit ek om die geld aan my lyf te dra. Agtien pond was nog in goud; dié neem ek toe en werk dit in ’n linneband, en sit dié om my hoed met ’n swart band buite oor. Die ander geld – by die £500 in note – werk ek in die soom van ’n rok van my vas, en hou net £6 los in die beursie. As ek die rok dra, en die hoed op het, het ek al die geld aan my.
Nou dat die geld veilig is, voel ek meer gerus, en ook gereed om te vlug as dit so moet kom. Dit is nou al die derde dag dat my moeder-hulle weg is, en ek het nog niks van hulle gehoor nie. Miskien kom hulle my nog vang, wie weet. Ek kan ook niks uitvoer nie, en wag dus maar om te sien hoe dinge gaan verloop. Rusteloos dwaal ek rond, van die een kamer na die ander. Ek mag ook nie te veel laat agterkom dat ek bang is nie. Ou Sam en Tryn word dalk ook skrikkerig; en as hulle my verlaat, wat word dan van my? Die dae en nagte is almal te lank en eensaam, sodat ek half wens dat daar iets moet gebeur, wat ook al, net dat daar ’n verandering in die spel kom. ’n Week gaan so verby, sonder dat daar iets buitengewoons voorval. Vroeg een môre, kom ou Tryn my kamer ingestorm, en sê: “Jy moet gou opstaan, hier kom ’n klomp perderuiters aan. Dit lyk na Engelse.”
Haastig vlieg ek die bed uit, trek gou die rok met die geld aan, en sit die hoed op my kop, sluit die deure, en gaan staan op die stoep.
Gou-gou was die swart spioene ook daar, en sê ewe brutaal aan my: “Jy gee mos vir die Boere geld en kos; vandag sal ons jou wys wat ons kan doen.”
Teen dié tyd daag die vyand ook op, en hulle wil sommer die huis instorm, maar vind die deure gesluit. ’n Offisier kom na my toe en sê: “Wel, mej. Raal, het jy al van jou moeder gehoor?”
“Nee! Weet jy iets van haar af?”
“Ja, sy is gevang en weggestuur.”
“Waarom is sy gevang?”
“Hier was ’n Boerelaer, en julle het dit nie gerapporteer nie. Dit help nie om daaroor te praat nie. Ons is nou hier om die geld te kom haal. Julle voorman, ou Andries, het ons vertel, van die geld en kos wat julle aan die Boere gee.”
“Wel, daar is die huis, gaan kry maar die geld.”
’n Paar van hulle stap toe die huis binne, en begin rondsnuffel. Naderhand kom een by my klerekas uit, en kry daar my beursie met ’n paar pond in.
“So, en waar is die ander?” wil hy weet.
“Dit moet jy vir ou Andries vra,” antwoord ek.
Hy gooi die beursie neer; en terwyl hy uitstap, waarsku hy my dat ek nou baie versigtig moet wees. Hulle sou my in die tronk stop, as ek weer Boere daar kos of iets anders gee, of as die Boere net daar aankom. Verder, sê hy, hou hulle my van die stasie af dop, en sal voortaan elke dag vir ou Andries uitstuur, om ’n oog op my bewegings, hier op die plaas, te hou. Toe is hulle weg en, dank die Vader, my geld is nog veilig.
Ek weet nou dat my ma-hulle gevang en weggestuur is, na ’n kamp toe, maar waarheen weet ek nie. Van my pa en broers weet ek ook niks. Ek probeer maar gewoond raak aan die lewe. As ek nou maar hier ongestoord kan bly, sal dit nog goed gaan, maar ongelukkig is ons plaas baie na aan die spoor, en daarby word ek ook nog gereeld besoek, deur gewapende swart spioene. ’n Paar van ou Andries se kinders, wat niks met hom te doen wil hê nie, bly ook nog op die plaas, en deur hulle hoor ek altyd wanneer ou Andries daar kon opdaag.
Next →
← Previous