Die Groot Reent Kêrels

Posted on February 25, 2016 by Cape Rebel

Uit Kommando – Van Perde en Manne 
deur Deneys Reitz

Dit het amper dadelik weer hard begin reën en dit was so donker dat mens nie ’n tree voor jou kon sien nie. Ons het skaars driehonderd treë ver gevorder toe ons die geplas van perdepote deur die modder voor ons gehoor het. Ons het in die agterhoede van ’n Engelse patrollie of kolonne vasgery. Watter een van die twee kon ons nie uitwerk nie. Nóg hulle nóg ons wou in die reën en donkerte slaags raak. Die troepe het weggalop en ons het ook van koers verander. Daar was egter ’n verskil: hulle kon voortry na die skuiling op die plaas, terwyl ons op die oop vlaktes rondgedwaal het.

Die nag wat gevolg het, was die verskriklikste wat ons nog verduur het. Ons gids het verdwaal, ons het knie-diep in die modder en water rondgeploeter, en ons arme perde het eers met dié en dan met dáárdie been vorentoe gegly en gestruikel. Die reën het op ons neergestort en die koue was ontsettend. Teen middernag het ysreën begin val. Die graansak wat ek gedra het, het kliphard soos ’n harnas teen my liggaam begin vries. Ek glo dat, as ons nie aangehou het om te beweeg nie, ons almal van die koue sou omgekom het. Ons het toe vir twee jaar al oorlog gemaak, maar nog nooit, so ver as wat ek kan onthou, was ons so na aan wanhoop as daardie nag nie. Uur na uur het ons aangeworstel. Manne wat nog nooit voorheen oor iets gekla het nie, het gekreun soos die koue hulle swak beskermde liggame binnegedring het. Veertien manne het daardie nag verlore geraak. Ons het nie geweet of hulle oorleef het of nie, maar ons het nooit weer van hulle gehoor nie.

Verder het ons ’n groot aantal perde verloor en ek onthou hoe ek elke nou en dan oor hulle karkasse gestruikel het. So het ons tot dagbreek aangehou al slepende aan ons liggame, en toe het die voorsienigheid ons op ’n verlate plaashuis laat afkom. Ons het in dié beskerming ingestrompel. Daar het ons in die kamers, stalle en skure bymekaar gestaan en bewe tot die oggend aangebreek het. Stadig het ons herstel van die gruwelike beproewing. Toe dit lig geword het, het daar vyftig of sestig perde morsdood buite gelê. My klein rooiskimmel merrie het nog gelewe, maar altwee my oom se perde het gevrek. Hy tesame met dertig of meer mense was nou voetsoldate. (Omdat omtrent elke burger die Oranjerivier met twee perde oorgesteek het, het die aantal perdelose manskappe nie juis ooreengestem met die getal perde wat gevrek het nie.)

Die “Groot Reën”, soos ons dit genoem het, het so ’n merk op ons gelos, dat ons later na ons self verwys het as “Die Groot Reent Kêrels”, om ons te onderskei van daardie wat dit nie ervaar het nie. So ver dit my aangegaan het, was ek gedurende die hele oorlog aan nog geen groter toets onderwerp nie.

Die dag was koud en woes, maar dit het opgehou met reën. Ons het die vloere, vensters, stoele, tafels en enigiets wat kon brand, opgebreek en groot vure gemaak om ons klere en komberse droog te kry, en om ook ’n bietjie warmte in ons bevrore ledemate te kry. Teen die middel van die dag het generaal Smuts ons beveel om na ’n ander groot plaas, so agt of nege myl van daar af, te verskuif. ’n Swartman het hom vertel dat daar baie perdevoer was.

Geen poging is aangewend om na die verlore manskappe te gaan soek nie, want ons was te gedaan en hulle is toe aan hulle lot oorgelaat. Ons het deur die sopnat, water deurtrekte area voortgestrompel. ’n Kwart van ons was te voet en die res kon enige oomblik by die stappers aangesluit het. Daar was nie een fikse perd in die hele kommando nie.

Dié plaas was ook verlate, maar daar was beskerming vir almal en ’n goeie voorraad hawergerwe. Daar was ook skape wat geslag kon word en, alhoewel die reën weer geval het, het ons ten minste ’n gerieflike nag deurgebring.


Next

Previous