Die Selonsroos

Posted on January 28, 2016 by Cape Rebel

Uit Unto Dust 
deur Herman Charlse Bosman

Enige storie (het oom Schalk Lourens gesê) oor daardie halfrooierige blom, die selonsroos, moet ’n ou storie wees. Dis die blom wat die meeste deur ’n Marico-meisie in haar hare vasgesteek word om haar aantreklik vir haar minnaar te maak. Die selonsroos is ook die blom wat gebruiklik deur ons, hier in die Marico, op ’n graf geplant word.

Een ding wat party onbedagsame mense soms oor my stories skimp, is dat daar eintlik niks in hulle plaasvind nie. Dan weer is daar ’n ander soort mens wat selfs verder gaan, en sê dat die stories wat ek vertel, almal stories is wat hy al voorheen gehoor het, êrens lank gelede – hy kan nie presies onthou wanneer nie, maar êrens agter in sy kop het hy geweet dis nie ’n nuwe storie nie.

Ek het daardie opmerking al ’n hele paar keer gehoor – wat nie verbasend is nie, aangesien ek nie regtig nuwe stories ken nie. Maar wat snaaks is daarvan is dat hierdie selfde mense, sê maar tien jaar later, weer sal opdaag en my vra om vir hulle ’n ander storie te vertel. En dan sal hulle sê, oor wat hulle intussen uit die lewe geleer het, hoe ouer hoe beter.

Hoe dit ook al sy, ek het tot die gevolgtrekking gekom dat dit met ’n ou storie gaan net soos met ’n ou liedjie. Mense raak maklik moeg vir ’n nuwe liedjie.

Ek onthou hoe dit was toe Marie du Preez teruggekeer het bosveld toe na haar ouers haar oorsee gestuur het om te gaan leer om te sing. Dit was omdat haar ouers diamante op hulle plaas ontdek het, en omdat Marie se onderwyser gesê het sy het ’n mooi sangstem. Toe, na Marie teruggekeer het van Europa af – deurdat die diamante op die Du Preez se plaas skielik klaargeraak het – was ons aan hierdie kant van die Dwarsberge baie gretig om Marie te kry om vir ons te kom sing.

Daardie aand, toe Marie du Preez ’n konsert in die Drogedalse skoolkamer aangebied het, was daar ’n groot klomp mense wat dit bygewoon het. Sy het gesing, wat sy genoem het, arias uit Italiaanse opera. En aan die begin het dinge glad nie goed gegaan nie. Daardie nuwe liedjies in Italiaans het ons nie juis aangestaan nie. Een lied het gegaan oor die oggendstond wat aan die kom was, totsiens geliefde, en om onder iemand se venster te wees – dit was wat Marie du Preez se ma in vinnig fluisteringe aan ons gesê het. Marie du Preez se ma het van die Kaap af gekom en het by die Wellingtonse seminarie studeer. ’n Ander lied was oor moeder kyk na hierdie trane. Die Hollandse skoolonderwyser het my die betekenis van daardie een vertel. Maar ek weet nie of dit op Marie se ma bedoel was nie.

Dit was nie dat ons nie van die liedjies wat Marie du Preez gesing het, gehou het nie. Dit was net dat hulle ons nie aangegryp en ontroer het nie.

Gevolglik, na die pouse, toe Marie weer op die lae verhogie voor die swartbord, waarop die onderwyser op skooldae die somme skryf, geklim het, het Philippus Bonthuys, ’n boer wat al die pad van Nietverdiend gekom het om die konsert by te woon, opgestaan en langs Marie du Preez gaan staan.

Philippus Bonthuys het gesê dat hy sommer so ’n gewoonweg-Dopper was. En ons het sy woorde toegejuig. Toe het Philippus Bonthuys gesê dat sy oupa ook maar net sommer ’n gewone Dopper was wat sy pyp en sy twaksak aan ’n stukkie lyn, wat aan die kant van sy broek vasgemaak was, gedra het. En toe het ons heelwat meer gejuig. Philippus Bonthuys het verder gesê dat hy die meeste van ou liedjies gehou het. Daardie nuwe liedjies wat gaan oor ’n gelaggery omdat iemand jou nar gesteel het, kan hulle maar hou. Ons het daarvan afgelei dat Marie se ma, ook deur vinnig aan hom te fluister, aan Philippus Bonthuys verduidelik het wat die betekenis was van sommige van Marie se liedjies.

En voor ons geweet het waar ons was, het die hele klomp in die skoolkamer aan die sing gegaan, met Philippus Bonthuys wat die maat slaan: My oupa was ’n dopper en ’n dopper was hy. Jy kan nie glo hoe aangrypend daardie ou lied geklink het nie, met Philippus Bonthuys wat die maat aangegee het, in die nag, onder die grasdak van daardie ou Marico skoolkamer, en Marie du Preez wat ietwat onthuts voorgekom het, maar nogtans ook maar meegedoen het – aangesien dit, tog eintlik, haar konsert was – en ook nie in Italiaans gesing het nie.

Ons het daarna baie liedjies gesing, en hulle was almal ou liedjies. Ons het Die vaal hare en die blou oge gesing, en Daar waar die son en die maan ondergaan, en Vat jou goed en trek Ferreira en Met my rooi rok voor jou deur. Dit was rêrig mooi.

Ons het tot laat in die nag gesing. Toe dit alles verby was en ons Marie du Preez se ma, wat dit alles gereël het, gelukgewens het op die sukses van haar dogter se konsert, het mevrou Du Preez gesê dat dit niks was nie, en net geglimlag.

Maar dit was ’n eienaardige soort glimlag.


Next

Previous