Uit Gods of the Morning - A Bird's Eye View of a Highland Year
deur John Lister-Kaye
Laat ek dit nou mooi verduidelik: ek is nie sentimenteel oor my diere nie. Ek het hulle net so lief of nog liewer as die volgende persoon, en kan net so soetsapperig soos die volgende ou wees, maar ek staan nie daar en kyk hoe hulle ly nie. Ek het my honde en my perde al uit hierdie wêreld weggehelp wanneer daar geen ander uitweg uit hulle pyn was nie. Om self hulle lewe te beëindig, is ’n finale aksie van respek en opoffering – ’n persoonlike verbond wat ek nie aan iemand anders kan of wil delegeer nie. En so het ek toe eendag opgemerk dat Tumble onnatuurlike pogings aangewend het om te ontlas, en dit het my met bekommernis vervul. Ek het geweet waarheen ons op pad was. Ek het Hobson as gevolg van ’n aaklige dermprobleem verloor, en ek het glad nie gehou van wat ek toe hier opgemerk het nie. Ons het lakseermiddels probeer, maar dit was tevergeefs. Dit het soos ’n vulkaan gelyk en het niks goeds voorspel nie; ’n opgeswelde knop het om sy stert begin verskyn. Aanvanklik was dit sag en pynloos – nie soos ’n gewas nie – en ek het daarom geraai dat dit ’n rektumbreuk was.
Dorp of platteland, wanneer jou hond siek is, is dit ’n krisis. Wat dit in ons geval vererger het, was dat ons op ’n verafgeleë vallei in die Skotse Hooglande gewoon het. John Easton, ons vriendelike plaaslike veearts, was net twaalf myl van ons af en het ons gereeld besoek om na ons perde en beeste om te sien. Hy het my denke bevestig: gelukkig nie ’n tumor nie, maar twee breuke, nie net een nie, maar een aan elke kant van sy stert. “Jammer,” John het sy kop geskud. “Daar’s niks wat ek kan doen nie. Daar is geen mediese behandeling of kuur nie. Jou enigste hoop is ’n riskante en ingewikkelde operasie sonder ’n waarborg op sukses.” Verder was die ergste dat John nie die operasie self kon uitvoer nie, en ek sou na Glasgow moes gaan na die hoogs gerespekteerde Universiteit van Glasgow se veeartshospitaal. Op besige somerdae is dit ’n afstand van vier uitmergelende ure.
Tumble het my hond geword. Weereens het ek ’n skaduwee gehad, altyd daar, altyd bly om my te sien, altyd gretig om deel te neem aan wat ek ookal mee besig is. En in die aande het hy hom op my skoot, op my stoel langs die kaggel, opgekrul, al snorkend en dromend in die onmeetbare sluimer van voldaanheid wat net ’n hond van kan weet. Die hele somer lank het sy toestand agteruitgegaan. Met behulp van aptekersparaffien het ons hom aan die gang gehou. Op die oog af was hy op en wakker, gesond gelyk, ’n lewenslustige terriër; maar van agter was hy in pyn, misvormd, grotesk, en uiteindelik kon hy nie eers sy stertjie swaai nie. Wanneer ek hom buitekant toe geneem het, het dit hom tot ’n halfuur geneem om ontslae te raak van patetiese klein wurmpies van ontlasting, en dan ook slegs met my hulp om die obsene bulte aan beide kante van sy stert met my hande vas te hou. Hulle het daagliks groter geword, beheerverlies het hierna gevolg, die interne druk het so skielik oor hom gekom dat hy hulpeloos in die patos van sy eie nood geswelg het.
“Gaan ons ’n kans vat met chirurgie?” het ek vir Lucy en Hermione gevra. Hermione was toe elf jaar oud, en dit was sy wat altwee die jong hondjies vyf jaar gelede opgeraap het, en hoewel sy heel teësinnig Tumble aan my afgestaan het en Rough haar spesiale hond gemaak het, haar eie getroue metgesel, was sy nogtans behep met beide van hulle.
“Pappie,” het sy aan my gesê, terwyl sy hard probeer het om die trane weg te hou, en met ’n stemmetjie wat ek nog nie voorheen gehoor het nie, “Pappie moet alles probeer.” Ek het deurgebel Glasgow toe vir ’n afspraak.
’n Paar dae later was ons daar, ek en Tumble, van aangesig tot aangesig met ’n glimlaggende jong Australiese snydokter met die naam van Ross. Ek het Tumble versigtig op die ondersoektafel van vlekvrye staal staangemaak. Ross het chirurgiese handskoene aangetrek. “Dis nodig vir my om die omvang van die breuke te ondersoek. Kan jy hom vir my styf vashou?”
“Verseker,” het ek gesê, en toe vir Tumble: “Jammer, ou kêreltjie, hy gaan sy vinger in jou agterend opsteek.” Dit was seer en hy het getjank, en ek het soos ’n verraaier gevoel omdat ek hom so styf vasgehou het. “Jammer,” het ek weer geprewel toe dit verby was en ek my gesig in sy fluweelige ore verberg het. “Moet asseblief tog nie ophou om my te vertrou nie. Kan jy hom regmaak, Ross?” het ek gevra.
Hy het belowe dat hy sy bes sou probeer, maar ook gewaarsku dat as dit nie slaag nie, daar net een uitkoms kon wees. Daar was ’n oomblik van stilte wat net onderbreek is deur die geklap van die rubberhandskoene soos hy dit van sy hande afgetrek het. Hermione se woorde het in my kop gemaal. “Sal ons probeer?” het hy uiteindelik gevra.
Van sy eerlike oë het ek gehou, en sy kaal, skoongewaste voorarms het gelyk of dit ’n toonbeeld was van sy innerlike sterkte. Hierdie jongman het soos ’n ware professionele persoon opgetree. Soms dink ek dat Australiërs makliker die reguitpad loop as ons Britte. Ek het hierdie een instinktief vertrou. Ek het my kop geknik. Vir ’n oomblik was ek sonder woorde.
Natuurlik moes ek hom daar agterlaat, en die lang pad noord volg deur die wye, leë berge na ons afgesonderde Inverness-vallei, wat nou eensamer was sonder Tumble, en hartverskeurender deur Hermione se trane en Rough se klaende rusteloosheid. Die dae het verbygegaan, en toe het die telefoon gelui.
Ross het gesê dat dit veel erger was as wat hy verwag het. Toe hy Tumble oopgesny het, het hy gevind dat die hele derm verwronge was en in ’n s-vorm teruggedraai het. Hy moes dit reguit maak deur dit permanent aan die buikwand vas te heg. Toe het hy die skeure van die spiertjies waar die breuke uitgebult het, toegewerk in ’n net van sigsagssteke. Die hondjie het bygekom, maar hy was onder verdowing en lomerig. Hulle was van plan om hom daar te hou totdat daar ontlasting uit die derm plaasgevind het, om te sien of dit geslaagd was – die deurslaggewende toets. Dit sou nog ’n dag neem of miskien twee.
Die volgende dag het ’n vriendelike Glaswegiaanse verpleegster gebel: Tumble het iets geëet, maar sy maag het nog nie gewerk nie. ’n Verdere vier en twintiguur het verby gesleep. Die volgende oggend was dit weer so – nog steeds niks. Sy het voorgestel dat dit beter mog wees as ek daarheen sou kom en hom huis toe neem: “Sommige honde is baie puntenerig oor waar hulle hul ding wil doen.” Dis my Tumble daai, het ek gedink, en my loop gekry kar toe.
Na drie en ’n halfuur was ek daar, al op-en-af-wandelende in die gang soos ’n prisonier wat wag op die vonnis. Die deur het oopgegaan. Ek het gekniel om hom te groet. Dieselfde klein wit en swart gevlekte gesiggie met geelbruin wenkbroue, die swart neusie, dieselfde oë die kleur van gepoetste eikehout, gespitste ore in ’n ietwat benewelde herkenning, met net ’n kaal kol op sy nek waar die narkose toegedien is. Vir ’n oomblik het ek sy kop in my hande gehou, starende in daardie diep oë waarin daar geen teken van ’n skrobbering was nie. Is dit moontlik dat hy kon verstaan waarom ek hom so te sê in die steek gelaat het?
Ook maar goed dat ek my gestaal het, want sy agterstewe was ’n hele gedoente. Sy buik, stert en agterwêreld is pienk geskeer, die hele liggaampie dáár was lelik opgeswel, vol steke soos ’n kersfeeskalkoen, van sy maag af tot by sy droewige stertjie. Versigtig het ek hom uitgedra kar toe. “Sy maag sal eers moet werk voor ons kan weet of die derm behoorlik funksioneer,” het ’n ander assistent op pad motor toe aan my gesê. “Bel ons en laat ons asseblief weet.”
Op die terugtog het ek stilgehou by die eenduisend vyfhonderd en agt voet hoogste punt van Drumochter. Dié hoë bergpas skei die plat-rustige Tayside van die ruwe Inverness-graafskap waar die boomlose heuwels lugwaarts koers kies na die wolke aan beide kante van die pad. Tumble het opgekyk van waar hy tussen die komberse gelê het, asof hy ook na die uitsig wou kyk. “Mooi so,” het ek gesê, “laat ons nou versigtig te werk gaan.”
Hy het al waggelende uitgestap op die grasveld wat deur die herte kort gevreet is, en op daardie herfsdag rondgekyk na die geurvolle koel heuwels, asof hy wou sê: “Dis nou waarvan ek hou.” Vir ’n paar minute het hy stilgestaan, en so nou en dan sy neus opgelig om die lug te beruik. Toe het hy vlugtig na my geblik vir gerusstelling voordat hy aan ’n biesiepol begin snuif het. Hy het geleidelik vorentoe beweeg, probeer om sy been te lig, teruggekrimp van die pyn en toe liewer anders besluit – want kyk, hy is soos ’n vis oopgevlek. Hy het vir ’n bietjie raad terug na my toe gekyk.
“Aaa mooi, dis nou my goeie brakkie!” het ek gerusstellend gesê met die stemtoon wat ek gewoonlik gebruik het as my honde iets goeds gedoen het. Ek wou hê dat hy weer moes probeer, hoe seer dit ookal mog wees. Ek het geweet hoe belangrik die niere was. Maar hy het iets belangrikers in gedagte gehad: planne verhewener as dit. Vir ’n oomblik het hy ietwat beteuterd gelyk, eers na die berge gekyk en toe na my voordat hy ewe stryf-styf maar tog doelgerig na ’n plek wat hom aangestaan het, geloop het – ’n intieme amfiteater, ’n grasperk omring deur ’n ligpers waas van heide wat besig was om te verkleur. Onbeholpe en vol pyn het hy die fekale gehurkte houding ingeneem. Ek het my asem opgehou.
’n Oomblik later het die glansende, fynste, rondste en mees skouspelagtige vier en ’n halfduim van gesonde Weense worsie-terriërdrolletjie triomfantelik op die hoogland van die Perth-graafskap geland. Ek het nooit kon droom dat ek so opgewonde sou kon raak oor hoe ’n hond sy ding gedoen het nie. Met ’n breë glimlag het ek my selfoon uitgehaal.
Next →
← Previous