Guerilla-Oorlogvoering

Posted on October 29, 2015 by Cape Rebel


Uit Eastern Approaches 
deur Fitzroy Maclean

[Redakteur se nota: Die volgende waarnemings aangaande guerrilla-gevegsoptrede in Jugoslawië gedurende die Tweede Wêreldoorlog, roep die guerrilla-fase van die Anglo Boere-oorlog (1899-1902) in gedagte terug. In Kommando – Van Perde en Manne, het Deneys Reitz die volgende geskryf: “My pa het gesê dat guerrilla-oorlogvoering meer geskik was vir die geniale vernuf van die Boere as gewone veldoperasies. Hy het George Washington en Valley Forge genoem, en ander skynbaar verlore sake wat uiteindelik geseëvier het, en hoewel ons nie sy optimisme heeltemal gedeel het nie (want ons kon nog steeds die gedemoraliseerde en vlugtende kommando’s in ons geestesoog sien) het sy vertroue ons geweldig opgebeur.”

Dink aan die heroïese guerrilla-oorlogkordaatstukke van De la Rey en De Wet, en van Smuts tydens sy inval in die Kaapkolonie; dink aan die kragdadigheid van die weerstand van die burgerlike Boeregemeenskap in die aangesig van die vyand se “metodes van barbarisme”; en die ooreenkomste met wat volg sal duidelik onmiskenbaar wees.]

~

Die situasie was strategies besonder geskik vir guerrillastryd-operasies. Alles in Jugoslawië het die guerrillas bevoordeel: die vyand se verbindingsweë met sy geïsoleerde garnisoene en installasies, asook die terrein wat uiters geskik was vir die doel. Die Partisans het in die heuwels en woude ’n agtergrond vir hulle ondernemings gehad wat na willekeur as ’n basis kon dien, as ’n vastrapplek, as ’n spasie waarin rondbeweeg kon word, asook ’n wegkruipplek. Dit was net so ’n noodsaaklike element vir hulle tipe oorlogvoering soos die see vir mariene-oorlogsvoering. Deur onverwags uit hulle landskap op te doem, was dit vir hulle moontlik om verrassings – die kern van guerrilla-oorlogvoering – te bewerkstellig. Deur weer daarin terug te smelt nadat hulle hul onmiddellikste taak afgehandel het, kon hulle die vyand ’n identifiseerbare teiken, waarop hulle kon terugslaan, ontsê. Hulle het ook die ondersteuning van die burgerlike gemeenskap geniet – mense wat diep besiel was met ’n tradisie van weerstand teen die buitelandse invallers – Duits of Romaans, Hongaars of Turks.

Miskien het die fundamentele rede vir die Partisans se sukses in die karakter van hul leiers gelê. Hulle was kommuniste. In guerrilla-oorlogvoering is idees baie belangriker as materiële reserwes. Daar is min idees wat met kommunisme vergelyk kan word wat betref sterkte, volharding, geslepenheid en sy mag oor die indiwidu. Hulle kommunistiese leiers het die Partisans met doelgerigtheid, meedoënlose vasberadenheid en genadelose dissipline voorsien – waarsonder hulle nie sou kon oorleef nie en, nog minder, suksesvol in hulle doelwit sou kon gewees het. Hulle het hulself en dié om hulle vervul en geïnspireer met ’n gees van absolute toewyding, wat tot gevolg gehad het dat hulle hul eie lewens en die van ander as van geen belang beskou het nie. Hulle het geen genade gevra of gegee nie. Hulle het aan die beweging ’n orakel geskenk – die gedragslyn van die Party. Hulle het ’n gevestigde intelligensiestelsel, ’n dikwels beproefde, wydvertakte en ervare ondergrondse netwerk gehad. Aan wat as ’n oorlog begin het, het hulle die karakter van ’n rewolusie gegee. Ten laaste – en dit was miskien hulle merkwaardigste prestasie – het hulle daarin geslaag om hulle volgelinge te beïnvloed om die ou onderlinge vetes en haat te vergeet en, deur die samevoeging van Serwiërs, Kroate, Slowene, Montenegryne en die res in die geveg teen die gemeenskaplike vyand, het hulle ’n nuwe sin van nasionale eenheid onder hul eie geledere geskep.

Teen 1943 was daar, sover as wat vasgestel kon word, omtrent 150 000 of meer Partisans. Hierdie mag, saamgestel uit strukture van wisselende sterkte, was oor die hele Jugoslawië versprei, meestal in bergagtige, beboste areas. Elke Partisan-formasie het sy eie hoofkwartier gehad en hierdie ondergeskikte hoofkwartiere was direk of indirek verantwoordelik aan Tito se algemene hoofkwartier, wat sodoende doeltreffende operasionele beheer oor die hele mag uitgeoefen het. Kommunikasie is deur middel van radio gedoen – gebuite vyandelike stelle is gebruik – of deur koeriers wat onder gevaarlike omstandighede van een deel van die land na ’n ander deur tussenliggende vyandelike linies beweeg het.

Die oorlog wat die Partisans gevoer het, was vreemd. Daar was geen vasgestelde front nie. Die grootste gedeelte van die gevegte was slegs met kleingewere en beperkte voorrade ammunisie gevoer, teen ’n goed geleerde, goed bewapende, goed toegeruste, goed voorsien van voorrade en ’n gemotoriseerde vyand, ondersteun deur pantservoertuie, grofgeskut en vliegtuie. Dit was vir hulle noodsaaklik om vaste veldslae waar hulle sonder uitsondering tweede beste daarvan sou afkom, te vermy. As hulle sukses sou kon behaal, was dit noodsaaklik dat hulle die inisiatief moes behou, en nie moes toelaat dat dit in die hande van die teenstanders beland nie. Hulle doel moes wees om die vyand aan te val daar waar die rykste teiken aangebied is, waar hy op sy swakste was, en, bowenal, waar hy dit die minste verwag het. Dit was net so belangrik dat na hulle hul doel bereik het, hulle nie daar sou talm en draal nie, maar dadelik moes wegsmeld in die agtergrond van heuwels en bosse, daar waar agtervolging hulle nie sou kon opspoor nie. Dit het ’n hoë graad van beweeglikheid benodig. Hulle menslike hulpbronne, soos hulle materiële hulpbronne, was kosbaar. Enige skermutseling waar die vyand se gesneuweldes nie ten minste vyf maal meer as hulle s’n was nie, het die Partisans as ’n nederlaag beskou.

Vir guerrillavegters om te oorleef in omstandighede soos dié waarin die Partisans geveg het, moet hulle ten alle koste verhoed dat die vyand ’n teiken kan kry om teen terug te slaan. Soos hulle getalle en die omvang van hulle aktiwiteite vermeerder het, het dit moeiliker geword. Hulle moes die versoeking weerstaan om op te volg en hulle suksesse te konsolideer. Alle voordele moes as tydelik beskou word. Dorpe, groot en klein, wat hulle met onverwagte, skielike aanvalle verower het, moes van afstand gedoen word wanneer die vyand met mag en krag teenaanvalle uitgevoer het. Vir die Partisans om toe te gelaat het om die rol te speel van ’n beleërde garnisoen, sou ’n fatale fout gewees het, soos indiwiduele bevelvoerders by geleentheid tot hulle bittere ervaring moes leer. En soos die dorpe keer op keer met hulle inwoners van veroweraar verwissel het, het die plekke elkers meer toegetakel daar uitgesien en in die proses meer inwoners afgestaan.

As gevolg van die ondersteuning wat hulle aan die Partisans gegee het, het die bevolking gruwelik gely. Behalwe die hongersnood en gebrek wat die verwoeste land geteister het, het die Duitsers, Italianers, die Bulgare en die verskillende plaaslike landsverraaiers barbaarse vergeldingsoptrede teen die mense van die land toegepas uit weerwraak vir die skade wat die Partisans hulle aangedoen het. Maar nóg die Partisans nóg die burgerlike ondersteuners het toegelaat dat enigiets hulle laat afsien het van hul weerstand teen die vyand. En, in werklikheid, het die vyand deur hulle barbarisme, hulle eie doelwit gedwarsboom, want so erg was die haat en die bitterheid wat dit voortgebring het, dat dit die geweld en die intensiteit van die nasionale weerstand eintlik versterk het.


Next

Previous