Reis Ooswaarts

Posted on July 24, 2015 by Cape Rebel


Uit Eastern Approaches 
deur Fitzroy Maclean

Met die trein wat stadig spoed optel, trek ons weg uit Gare du Nord. Die vriende wat my kom afsien het, het totsiens gewaai en was besig om weg te draai; die waens het geklikklak soos hulle oor die wissels beweeg het, en die bottels mineraalwater by die venster het saggies teen mekaar geklingel. Gou was ons deur die somber, vaal voorstede van Parys en het ons trein gladweg oor die deurdrenkte landskap van Noord-Frankryk gesnel. Dit was reeds sterk skemer en in my kompartement was dit amper donker. Ek het nie sommer daar en dan die lig aangeskakel nie, maar eers uitgekyk oor die verbygaande modderige velde en druipende woude.

Ek was onderweg na Moskou, en, van Moskou af, was my plan – as dit menslik moontlik was – om na die Kaukasus en Sentraal-Asië, na Tashkent, Bokhaar en Samarkand, te reis. Reeds, terwyl ek die kleurlose, deurweekte wêreld daarbuite my venster beskou het, kon ek in my verbeelding die ruwe berge van Georgië sien, en die goue woestyne, die groen  oases en die sonverligte koepels en minarette van Turkestan. Skielik, terwyl ek daar in die halflig gesit het, het ek besonder opgewonde gevoel.

~

Om verskeie redes was ek jammer om Parys te verlaat. Dit was ’n ideale pos vir die aanvang van ’n diplomatieke loopbaan, en die jare wat ek daar deurgebring het, was deurlopend gelukkig. Verder was dit ook ’n stad wat my welgeval het. Daar was die breë omvang van die Champs-Elysées en die Avenue de Bois; die luisterryke prag van die Place Vendôme en die Place de la Concorde; die sonvergulde grys klipstene van die geboue; die groen van die bome; die lewe en gewoel op die strate wat minder oorweldigend was, maar intiemer as die gedruis van die Londense verkeer. Op someraande was daar die aangename wandelinge op die wal van die Seine, onder die bome, na die Ile de la Cité; die huise van vriende met hulle koel gepaneelde kamers; die weerkaatsing van die ligte in die rivier wanneer ’n mens in die aand huis toe gestap het.

Maar nou het die tyd aangebreek vir ’n verandering. Ek het altyd behae geskep in kontraste, en kon daar ná Parys ’n groter kontras wees as Moskou? Ek het iets van die Weste gesien, maar nou was dit tyd vir die Ooste.

My kennis van Rusland en die Russe was hoofsaaklik afkomstig van die sjarmante misplaaste Wit-Russiese uitgewekenes van beide geslagte wat in die nagklubs van elke hoofstad in die wêreld raakgeloop kon word, en huidiglik was hulle goed verteenwoordig in Parys. Van hierdie mense en van ’n paar Sowjet-films wat ek in ’n klein kommunistiese teater agter die Odeon gesien het, het ek, reg of verkeerd, die indruk gekry dat Rusland ’n misterieuse en besondere kleurvolle wêrelddeel was, anders as ander lande, en wat ook ’n beter geleentheid vir avontuur gebied het as baie ander plekke. Verskuil in my binneste was daar die gedagte dat, deur Moskou, die pad kon lei na Turkestan, na Samarkand, Tashkent en Bokhaar – name wat vir my toe, en nou ook nog, ’n weergalose aantrekkingskrag gehad het. Dit was hoofsaaklik dié gedagte wat my laat aansoek doen het vir ’n verplasing na Moskou.

Almal met wie ek my planne bespreek het, het my vertel dat ek ’n groot fout sou begaan. Hulle het my verseker dat die Moskouse ambassade ’n doodloopstraat was. Die lewe daar sou selfs besadigder wees en heelwat sieldodender as die lewe in Londen of Parys. Ek sou geen Russe ontmoet nie en geen insig verkry in die ingewikkelde beleid van die Soviet nie. Wat Turkestan betref, daar sou ek nooit uitkom nie. Hulle het gesê dat niemand vir die afgelope twintig jaar daar uitgekom het nie. Selfs voor die revolusie het die keisersregering hul bes gedoen om vreemdelinge weg te hou, en om nou daarheen te kon reis, was buite die kwessie – veral vir ’n amptenaar van die Britse regering. Hoekom bly ek nie liewer waar ek was nie, tot ek in die normale gang van sake verplaas sou word na Rome, Washington of Brussels? 

’n Gees van teenstrydigheid was maar altyd, in sekere mate, ’n rigsnoer vir my optrede. Hierdie goed bedoelde raad het my tot ’n vaste besluit laat kom. Die amptenare in die ministerie van buitelandse sake het as verbaasde maar tog gewillige bondgenote opgetree, want ek was die heel eerste lid van die diens wat nog ooit gevra het om na só ’n berugte onaangename pos verplaas te word, en hulle het die nodige voorbereidsels heel vining afgehandel.

En so, op ’n koue, ietwat trietserige aand in Februarie 1937, het ek myself heel gemaklik geïnstalleerd bevind in ’n sentraal verwarmde eersteklasslaapwa, op reis ooswaarts.

Posted in Afrikaans


Next

Previous