’n Indruk van Tydlose en Gloedvolle Weense Sjarme

Posted on July 24, 2015 by Cape Rebel

Uit A Time of Gifts 
deur Patrick Leigh Fermor

Met my wakker word een oggend, besef ek dat dit die 3de Maart was. Dit was onmoontlik om te glo dat ek reeds drie weke in Wene was. Die dae het verbygevlieg en hulself terselfdertyd in ’n leeftyd in die kleine gespin, en my tydelik in ’n Wener verander. (Anders as stilhouplekke in die somer, skenk ’n verblyf in die winter ’n soort van ereburgerskap.) Daar is nie juis ’n verklaring vir hierdie langsame verstryking van dae in die dorpe op hierdie reis nie; daar selde is. Ek het baie verskillende soorte mense ontmoet, etes in ’n hele aantal gasvrye huise genuttig, maar bowenal, het ek baie gesien. Lateraan, toe ek weer oor hierdie tydperk in Wene gelees het, is ek getref deur die neerslagtigheid wat blykbaar die skrywers so sterk beïndruk het. Die huidige politieke onsekerheid het minder daarmee te doen gehad as die kwynende voorspoed van die ou keiserlike stad. Hierdie skrywers het die dorp beter as ek geken, en hulle moes reg gewees het; daar was nogal oomblikke wat ek hulle weemoed gedeel het. Maar my indruk van die tydlose en gloedvolle sjarme is seker die gevolg van ’n algehele betrokkenheid in die verlede tesame met vreugdevolle pret. My gewete het my so ietwat gepla dat ek so lank daar oorgestaan het; ek het vriende gemaak, en om te vertrek sou ’n ontworteling wees. Vasbeslote om die volgende dag die pad te vat, het ek my goed en klerasie wat orals rondgelê het bymekaar begin maak.

Wat was die naam van die dorp op daardie voorlaaste oggend, en waar was dit? Wes van Wene, en verseker lê dit hoër, maar al die ander besonderhede is vergete. Dit was Saterdag; almal was vry; ons het in twee motorkarre gery en by ’n herberg wat langs ’n beukeboomwoud geleë was, feesgevier. Toe, getintel van die glüwein en Himbeergeist, het ons met moeite geloop, heel vrolik, en met die sneeu amper tot by ons knieë, weer af, in ’n lang woudrit. Ons het halt geroep in wolke van ons eie asem en vandaar noordooswaarts gekyk, regoor Wene na Czechoslovakia waar die fyn lyn van die Klein Carpathiaanse-bergreeks te siene was. En toe met dat die son besig was om te sak, het ons in ’n spookagtige woud op ’n bergmeertjie afgekom waar die takkies van die jong boompies wat vol ryp was, gelyk het soos wit varings, twee dimensioneel en bros. Die water was vasgeys, solied soos ’n ysbaan. Die yskeëls wat ons van die bome afgebreek het, het ons oor die oppervlakte van die dammetjie gegooi en dit het met ’n onheilspellende trillende klank geglybons na waar die skaduwees bymekaargekom het met ’n weerklank wat ’n halwe minuut geneem het om weg te raak. Dit was donker toe ons terug bestuur het, al pratende en singende met die vooruitsig van ’n genotvolle laaste aand wat op ons gewag het. Hoe anders het dit gevoel as toe ek eers hier aangehom het.

Miskien as gevolg van my gedagtes wat in beslag geneem was, het die gesprek die wending na Karel V se oupa, die eerste Maximiliaan, geneem. Die laaste van die ridders, soos na hom verwys is, half landskneg, en, tot jy met meer aandag na Dürer se skildery gekyk het, ook so half van ’n kaartspelende monarg. Iemand het beskryf hoe hy af en toe geneig was om van die sake van die keiserryk te ontvlug na ’n kasteel in die Tiroolse of Styriaanse woude. Hy het nie belang gestel in roers en kruisboë nie en gewapen met slegs ’n lang spies, het hy dae lank jagtogte onderneem op soek na takbokke en wildevarke. Dit was gedurende een van dié wegbreekvakansies dat hy ’n kwatryn geskryf het, en dit met kryt of lamproet teen die muur van die kasteel se kelder uitgekrap het. Die verteller het gesê dat dit nog steeds daar was.

Wie was dit wat ons dié dinge vertel het? … Ek het vergeet, net soos ek die plek waarvandaan ons gekom het en die naam van die kasteel, vergeet het. Wie dit ookal was, ek moes hom seker gevra het om dit neer te skryf, want hier is dit, aan die binnekant van ’n dagboek wat ek twee weke later begin hou het, geskryf – nou ietwat toiingrig en flenterig, maar met die ou Oostenrykse spelling ongeskonde. Ek het gedink dat daar iets talismanies aan die versreëls verbonde was.

Leb, waiss nit wie lang,
Und stürb, waiss nit wann
Muess fahren, waiss nit wohin
Mich wundert, das ich so frelich hin.

~

Vertaal deur Hendrik Jansen uit Patrick Leigh Fermor se Engelse vertaling:

Lewe, weet nie vir hoe lank,
En sterf, weet nie wanneer,
Moet vertrek, weet nie waarheen,
Heel verwonderd, dat ek so vrolik is. 

~

Skrywer se voetnota: “Laat berig! Ek het so pas ontdek dat die kasteel Schloss Tratzberg heet. Dit is naby Jenbach, dit bestaan nog, en is nie baie ver van Innsbruck af nie.”

Posted in Afrikaans


Next

Previous