Vir ’n Lang Oomblik, Het Die Oorlog Nie Bestaan Nie

Posted on July 23, 2015 by Cape Rebel

 

Uit A Time of Gifts 
deur Patrick Leigh Fermor

Die meeste van die Latynse bydraes [dit wat Fermor voorgedra het terwyl hy op die ouderdom van agtien deur Europa geloop het] was so voorspelbaar soos die res: Gedeeltes uit Virgilius, grootliks maar nie in die geheel nie, opgeneem en onthou deur die uitskryf van reëls op skool: Dit het gouer gegaan as mens dit uit jou kop uit geleer het. Niemand het skynbaar omgegee wie dit geskryf het nie, solank dit net sesvoetige verse was. Vir ’n ruk het ek Lukanis se Pharsalia gebruik, want dit het gelyk of dit net die vlotheid gehad het wat nodig was vir die taak. Gou egter het ek teruggekeer na Virgilius, tereg oortuig dat dit op die lange duur beter sou wees: Die gedeeltes wat ek die meeste besoek het, was die tweede en sesde boeke van die Aeneïde, met besoekies aan die Georgica en Ekloge. Die ander belangrikste Romeine was Catullus en Horatius: Catullus – ’n dosyn kort gedigte en gedeeltes van die Attis – want die jeug is geneig (ten minste was dit so in my geval) om hulself te identifiseer met hom wanneer hulle kwaad voel, alleen is, misverstaan word of smoorverlief is, rampspoed gehad het of gekul was in liefde. Ek het Horatius moontlik vereer vir die teenoorgestelde rede; en ’n aantal odes van buite geleer en ’n paar van hulle in lomp Engelse verse vertaal. Bo en behalwe hulle ander sjarme, was hulle onfeilbaar in die verandering van mens se gemoedstemming. 

Een van Horatius se Odes – I. ix Ad Thaliarchum – het ’n paar jaar later onder vreemde omstandighede tot my redding gekom. Die gevare van oorlog het my tussen die kranse en rotse van die besette Kreta laat beland saam met ’n krygsbende Kretaanse guerrillastryders. En by ons was ’n Duitse generaal wat ons gevangene was, nadat ons hom drie dae tevore in ’n hinderlaag gelok en ontvoer het, die berge in. Die Duitse garnisoen van die eiland was warm op ons hakke, maar gelukkig tydelik op ’n verkeerde koers. Dit was ’n tyd van angs en gevaar; en vir ons gevangene, moeitevol, veeleisend en ellendig. Gedurende ’n verposing in die agtervolging, het ons tussen die rotse wakker geword juis toe daar ’n briljante oggend oor die kruin van die berg Ida aangebreek het. Vir die afgelope twee dae het ons moeisaam daaroor geswoeg, deur sneeu en reën. Terwyl hy oor die vallei uitgekyk het na die vlammende kruin van die berg, het die generaal gemompel:

Vides ut alta stet nive candidum
Soracte …

Dit was een van dié wat ek geken het! Ek het aangegaan waar hy opgehou het:

... nec jam sustineant onus
Silvae laborantes, geluque
Flumina constiterint acuto,

en so aan, regdeur die oorblywende vyf stansas tot aan die einde. Die generaal se blou oë het van die bergkruin af weggedraai na myne toe – en na ek klaar was, na ’n lang stilte, het hy gesê: “Ach so, Herr Major!” Dit was baie vreemd. Asof, vir ’n lang oomblik, die oorlog nie meer bestaan het nie. Beide van ons het jare gelede by dieselfde fontein ons dors geles; en vir die res van die tyd wat ons saam was, was dinge anders tussen ons. 

~

In Fermor se lewensbeskrywing, Patrick Leigh Fermor – An Adventure, deur Artemis Cooper, is sy vertaling van Horatius se Ode 1.9, Aan Thaliarchus, ingesluit as ’n kort byvoegsel. Dit is in Desember 1930 in Fermor se skooltydskrif, The Cantuarian, gepubliseer toe hy vyftien jaar oud was. Hy is deur sy huisvader (in ’n skoolrapport) beskryf as ’n “gevaarlike mengsel van gekunsteldheid en roekeloosheid”. Dit was nie lank daarna nie dat Fermor uit sy skool geskors is.

Fermor se jeugdige vertaling van Horatius se Ode, Ad Thaliarchum, lui as volg:

Aanskou Soracte se magtige kruin bedek deur sneeu so rein
En binnekort sal die swaarbelaaide wit bome onbewus wees
Van die vinnigvloeiende riviere van ys wat ophou loop.
Gooi nog, O Thaliarchus, gooi nog van die gawe houtstompe op die vuur!
Bring van die aangesetselde, spinnerakgeweefde vierjarige ou wyn in die Sabynse kruik!
So sal ons die geniepsige winterkoue verdryf!
Sorgloos, die gode sal wel na alle ander sake omsien.
Die woeste winde op die kolkende waters sal gestuit word, en
Ongesteurd in hul rus die sipres en esboom.
Moenie vra wat die dag van more mag oplewer
Maar beskou dit wat die dae vir jou inhou, as ’n seën.
Versmaai nie die liefde nie, jongman, en die genot van dans.
Terwyl die verlepte ouderdom verafgeleë is, besoek die natuur weer en weer,
Die grasperke, geliefde skuilplekkies en besige lanings.
En teen die afgesproke tyd, in die aand miskien, word saggies van liefde gefluister.
Soete laggeluidjies verklap haar wegkruiplek.
In haar beskermende skuiling word die liefdespand teruggehou
Terwyl haar vinger halfhartig nee-weier-waai.

Posted in Afrikaans


Next

Previous