Familie Aangeleenthede

Posted on May 22, 2015 by Cape Rebel

Uit No Outspan
deur Deneys Reitz

My pa het in 1870 teruggekeer Kaap toe na hy as advokaat gekwalifiseer het. Voor hy egter gevestig geraak het, was hy ’n diamantdelwer, het hy ’n Kaapse parlementariër geword, en met ’n beeldskone Noorweegse meisie getrou. Daarna het hy as advokaat gepraktiseer, en in 1875 is hy die posisie as die eerste hoofregter van die jong Vrystaatse republiek, wat toe ’n hooggeregshof van sy eie daargestel het, aangebied. Hy het dit aanvaar.

Hy en my Noorweegse moeder het toe met ’n ossewa die trek na hulle nuwe tuiste, wat hulle amper drie maande geneem het, onderneem. En so het dit gebeur dat ek en my broers gebore en grootgeword het in Bloemfontein, die hoofstad van die Vrystaat. Daar was vyf van ons, twee ouer en twee jonger as ek, en ons het ’n sorglose Tom Sawyer-soort van lewe gevoer. Daar was geen kraanwater, spoorweë, telefone of elektriese ligte nie, en motors, vliegtuie en die radio was iets ongehoords. Ons het ’n klomp Basoeto-ponies op stal gehad en die wye wêreld om ons heen het gewemel van die wild. Ons kon na hartelus jag, visvang en perdry.

Sir John Brand was die president van die republiek. Met sy afsterwe in 1889 is my pa in sy posisie verkies, en vir ons seuns het die lewe nog interessanter geword.

Die bestuur van die land het ’n eenvoudige gedragslyn gevolg. Wanneer my pa sy uitvoerende raad byeen wou roep, het hy vir my en my broers op ons perde gestuur om die lede van die kabinet op hulle verafgeleë plase te gaan ontbied. Met hulle aankoms het hulle by ons oorgebly tot na die beraadslagings. Daarna het hulle vertrek soos hulle gekom het.

Soms moes my pa op lang besoeke deur die distrikte gaan, en ons het hom, waar hy in sy staatskoets gery het, op ons perde vergesel. Daar was sonder uitsondering ’n afdeling berede artilleriste wat hom geleide gedoen het. Ons het ewe trots saam met die skutters gery, en die antieke Krupp-voorlaaier wat hulle saam met hulle geneem het, het ons as’t ware beskou as behorende aan die familie. In die kontrei het die kommando’s saamgetrek om my pa te ontmoet, en ons het op die dak van die koets gesit en die perderuiters in hulle plaasklere wat verby gegaloppeer het, dopgehou soos hulle loskruitskote met hulle Martinis afgetrek het met die verbyry. Aan die einde van hierdie parades moes die president langs die ry afloop om met almal hande te skud. Op een van die geleenthede was daar ’n humoristiese voorval wat die familie steeds onthou.

Dit was my pa se gewoonte om, soos hy langs die ry burgers afgeloop het, aan elkeen te sê: “Goeie dag, goeie dag, hoe gaan dit?” En die stereotipe antwoord het gevolg: “Baie goed, dankie mnr. President,” waarop hy gesê het: “Ek is bly, ek is bly.” En so het hy dan aanbeweeg na die volgende man toe. Maar op ’n slag het hy ’n ou grysaard gevra hoe dit met hom gegaan het, en die ou man antwoord toe: “Meneer, my vrou is laasnag oorlede,” waarop my pa outomaties gesê het: “Ek is bly, ek is bly,” en aanbeweeg sonder om te besef watter kletterende blaps hy gemaak het. 

En so het ons aangename jeugjare gemaklik verbygegaan. Maar hierdie idilliese omstandighede was te goed om aan te hou. Stormwolke was besig om op te bou sonder dat ons daarvan bewus was. Bo in die noorde van Transvaal was daar toenemende wrywing tussen die ouer Boere-gemeenskap en die nuwe aankomelinge wat die land binnegestroom het met die ontdekking van die goudvelde. In die Vrystaat het ons tot op daardie stadium vriendelik verkeer met die Britte. Maar die rampspoedige Jameson-Inval in 1896 het alles oornag verander. Waar welwillendheid voorheen geheers het, het dit toe plek gemaak vir agterdog en wantroue. Ek en my broers was te jonk om dit te besef, maar die Jameson-Inval was ’n voorloper van die oorlog waarin ons diep betrokke sou raak, en wat ons klein wêreldjie geheel en al aan skerwe sou laat spat.

Posted in Afrikaans


Next

Previous