Die Wind Wat Roer in die Kalahari

Posted on June 03, 2016 by Cape Rebel

Uit The Rooinek in Mafeking Road 
deur Herman Charles Bosman

Click Here to Play Podcast

 

Toe het die miltsiekte ’n jaar na die droogte uitgebreek. Dit het ons  baie ontmoedig. Amper ons almal in daardie gedeelte van die Marico het weer begin boer op dit wat die regering ons gegee het. Maar nou dat ons vee gevrek het, het ons niks oorgehad nie. Teen die tempo wat die beeste gevrek het, kon ons nie eers mielies saai nie, want binnekort sou daar geen osse oor wees om die ploeg te trek nie.

Dis toe dat iemand die gedagte gekry het om te trek. Binne ’n paar dae het niemand oor enigiets anders gepraat nie. Iemand het van Duits-Suidwes Afrika gepraat.

“Die vloek van die Engelse is dwarsoor Suid-Afrika,” het Gerhardus Grobbelaar gesê. “Hier sal ons bly net om dood te gaan. Ons moet êrens heengaan waar die Engelse vlag nie wapper nie.”

Binne ’n paar weke het ons alles gereed gehad. Ons plan was om deur die Kalahari na Duitse grondgebied te trek. Alles wat ons besit het, het ons opgelaai. Ons het die vee voor ons aangejaag en ons het agter hulle op die waens gevolg. Daar was vyf families: die Steyns, die Grobbelaars, die Odendaals, die Ferreiras en ek en Sannie. Webber het ook saam met ons gekom. Dit was nie soseer dat hy gretig was om die plek te verlaat nie, maar hy en Koos Steyn het heel geheg geraak aan mekaar, en die Engelsman wou nie juis alleen agtergelaat word nie.

Die jongste persoon in ons trek was Koos Steyn se dogter, Jemima, wat toe omtrent agtien maande oud was. Aangesien sy die baba was, was sy ons almal se lieflingskind.

Webber het sy wa verkoop en by Koos Steyn se trek aangesluit.

~

Ons het so ver die woestyn ingetrek dat ons mekaar begin wysmaak het dat ons na aan die einde moes wees. Hoewel ons geweet het dat Duitswes ver weg was, het ons nogtans aan mekaar leuens vertel oor hoe naby aan water ons moontlik kon wees. Op die manier wat ons getrek het, het ons nog nie veel verder as net aan die begin van die Kalahari gekom nie. Maar in sy hart het elke persoon geweet wat die waarheid werklik was.

~

Na ’n ruk was daar nie meer trane in die kamp nie. Sommige van die vrouens wat die verskriklike gebeure van die dae wat gevolg het, oorleef het, en wat Transvaal weer veilig bereik het, het nooit weer gehuil nie. Dit het gelyk asof dit wat hulle gesien het, hulle verhard het. In hierdie opsig het hulle soos mans geword. Ek dink dit is die treurigste ding wat in hierdie wêreld kan gebeur, dat vrouens wat hewige smart en ontberinge deurlewe het, soos mans word.

~

Tot dusver het ons Gerhardus as leier getrou gevolg, en ons vertroue in hom was onwrikbaar. Maar nou dat hy besluit het om terug te draai, het ons ons vertroue in hom verloor. En dit het skielik gebeur. Ons het geweet dat dit die beste ding was om om te draai, en om voort te gegaan het, sou beteken dat ons almal in die Kalahari sou sterf. Maar tog, as Gerhardus gesê het dat ons moes aangaan, sou ons so gemaak het. Ons sou saam met hom tot reg aan die einde aangehou het. Maar nou dat hy gesê het dat die woestyn hom verslaan het, het ons geen vertroue meer in Gerhardus gehad nie.

Dit is waarom Paul Kruger a groter man as Gerhardus was. Paul Kruger was daardie soort man wat steeds deur ons aanbid was alhoewel hy besluit het om terug te val. As dit Paul Kruger was wat ons beveel het om terug te gaan, sou ons met groot geesdrif teruggegaan het. Ons sou presies dieselfde liefde vir ons leier gehad het, hoewel ons geweet het dat hy verslaan was. Maar van die oomblik af dat Gerhardus ons aangesê het om terug te keer, het ons almal geweet dat hy nie langer ons leier was nie. En Gerhardus het dit ook geweet.

~

Toe het ons gesien dat Koos Steyn van sy kop afgeraak het. Want hy het geweier om terug te draai. Hy het sy osse ingespan en reggemaak om aan te gaan met sy trek.

“Maar man,” het Gerhardus Grobbelaar aan hom gesê, “jy het geen water om te drink nie.”

“Dan drink ek koffie,” het Koos Steyn gesê terwyl hy soos gewoonlik gelag het. Hy het sy sweep gevat en langs sy wa begin wegstap. En Webber het saam met hom gegaan, seker omdat Koos Steyn goed was vir hom. Dis hoekom ek gesê het dat die Engelsman snaaks is. Webber moes geweet het dat Koos Steyn se kop bietjie aangekap het, en wat hy toe gedoen het malligheid was, en tog het hy by hom gebly.

Ons paaie het geskei. Ons waens het stadig teruggekeer Malopolole toe. Koos Steyn se wa het dieper die Kalahari ingegaan. Ek het teruggekyk na die Steyns se wa toe. Op daardie oomblik het Webber ook omgekyk. Hy het my gesien en met sy hand gewuif. Dit het my herinner aan daardie dag in die Anglo-Boereoorlog toe daardie ander Engelsman wie se kameraad deur ons geskiet is, ook omgedraai en gewuif het.

Ons het uiteindelik weer met twee waens en ’n handjievol beeste by Malopolole aangekom. Verskriklike dinge het in die woestyn gebeur. ’n Hele aantal kinders het gesterf. Gerhardus Grobbelaar se wa was voor myne. Op ’n keer het ek ’n bondeltjie gesien wat aan die kant van die watent uitgegooi is. Ek het geweet wat dit was. Gerhardus het nie die moeite gedoen om sy dooie kind te begrawe nie, en sy vrou het in die tent gelê, te swak om te beweeg. Ek het van die wa afgeklim en ’n hopie sand oor die lykie geskraap. Al wat ek van die res van die tog kan onthou, is die son en die sand. En die dors.

Tot vandag toe is ek nie seker hoeveel dae ons geneem het om terug te keer nie, tensy ek gaan sit en dit probeer uitwerk, en selfs dan sal ek dit seker verkeerd kry. Ons het teruggekeer na Malopolole en water. Ons het gesê dat ons nooit weer van daar af sou wegtrek nie. Ek het gedink dat selfs nie daardie ouers wat kinders verloor het oor hulle gerou het nie. Hulle was totaal verbysterd oor wat hulle ervaar het. Maar ek het geweet dat dit later sou terugkom. Dan sou hulle dinge soos vlak grafte in die sand onthou, en Gerhardus Grobbelaar en sy vrou sou dink aan ’n klein bondeltjie wat daar buite in die Kalahari gelê het. En ek het geweet hoe hulle sou voel.

Daarna het ons vars osse voor ons waens ingespan; en ons het genoegsame voorrade water saam met ons geneem om na die Steyn- familie te gaan soek. Met die hulp van ’n paar Bechuanas, wat spore kon sien wat ons nie kon sien nie, het ons die wa gekry. Die osse was uitgespan; ’n paar het dood langs die wa gelê. Die Bechuanas het vir ons voetspore in die sand gewys, wat vir ons die rigting wat daardie twee mans en die vrou ingeslaan het, aangedui het.

Uiteindelik het ons hulle gekry.

Koos Steyn en sy vrou het langs mekaar in die sand gelê. Die vrou se kop het op die man se skouer gerus. Haar lang hare het losgeraak en het saggies in die wind gewaai. Heelwat sand het oor hulle liggame gewaai. Baba Jemima kon ons nooit vind nie. Sy moes êrens langs die pad gesterf het, en Koos Steyn moes haar daar begrawe het.

Maar ons het saamgestem dat die Engelsman Webber verskriklike dinge moes ervaar het. Hy kon seker nie enige begrip oorgehad het om te verstaan wat die Steyns met hulle baba gedoen het nie. Hy het moontlik tot met sy sterwensoomblik gedink dat hy die kind gedra het. Want, toe ons sy liggaam opgelig het, het ons gevind, nog steeds vasgeklem in sy verstarde arms, ’n klompie ou flenter-toiings en ’n kind se klere.

Dit het vir ons gelyk of die wind wat altyd in die Kalahari geroer het, daardie oggend baie kalm en sag gewaai het.

Ja, die wind het heel sagkens gewaai.


Next

Previous