Te Veel van die Waarheid
Posted on
May 26, 2016
by
Cape Rebel
Uit The Rooinek in Mafeking Road
deur Herman Charles Bosman
In die eerste jaar waarin ons ons in die omgewing van Derdepoort gevestig het, het ons gehoor dat ’n Engelsman ’n plaas langs Gerhardus Grobbelaar gekoop het. Dit was in die voorkamer van Willem Odendaal se huis wat as ’n poskantoor gebruik is.
Die poswa het een keer per week met briewe van Zeerust af daar aangekom, en ons het by Willem Odendaal se huis bymekaargekom en gepraat en gerook en koffie gedrink. Baie min van ons het ooit briewe ontvang, en wanneer dit wel gebeur het, was dit meestal betalingsaanmanings vir die boorgate wat op ons plase geboor is, of vir sement en materiaal vir die heinings. Maar ons het gereeld elke week poskantoor toe gegaan. Soms het die poskar nie gekom nie, want die Groenrivier was in vloed, en die meeste van ons sou huis toe gegaan het sonder om daarvan bewus te wees, as dit nie was dat iemand daarvan gepraat het nie.
Toe Koos Steyn gehoor het dat ’n Engelsman tussen ons sou kom bly, het hy van die riempiesbank af opgestaan.
“Nee kêrels,” het hy gesê, “wanneer ’n Engelsman aan die kom is, beteken dit dat die Boer ’n rukkie later sal moet skuif. Ek gaan my wa pak en koffie maak en dan trek ek sommer môreoggend voor enigiets anders voorval.
Die meeste van ons het toe gelag. Dit het nogal baie gebeur dat Koos Steyn sulke snaakse goed gesê het. Op die een of ander manier het dit gelyk of daar te veel waarheid in Koos Steyn se woorde gesteek het.
Ons het die saak bespreek en besluit dat, as ons, die Boere in die Marico, dit kon verhelp, die rooinek nie vir te lank tussen ons sou bly nie. Omtrent ’n halfuur later het een van Willem Odendaal se kinders binnegekom en gesê dat daar ’n vreemde wa in die grootpad aan die kom was. Ons het deur toe gestap en uitgekyk. Soos die wa nadergekom het, het ons gesien dat daar allerhande soorte meubels daarop gepak was, en ook sinkplate en plaasgereedskap. Daar was so baie goed op die wa dat die tent afgehaal moes word om alles op te kry.
Die wa het aangerol gekom en voor die huis tot stilstand gekom. Daar was ’n man by die wa wat na waar ons gestaan het, aangeloop gekom het. Hy was net soos ons aangetrek, in ’n hemp en ’n broek en velskoene, en was oortrek met stof. Maar toe hy oor ’n doringbossie geklimloop het, het ons gesien dat hy ook kouse aangehad het. Daarom het ons geweet dat hy ’n Engelsman was.
Koos Steyn het voor die deur gestaan.
Die Engelsman het na hom toe opgeloop en sy hand uitgesteek.
“Goeie middag,” het hy in Afrikaans gesê. “My naam is Webber.”
Hulle het mekaar die hand gegee.
“My naam is prins lord Alfred Milner,” het Koos Steyn gesê.
Lord Milner was toe die goewerneur van Transvaal, en ons het almal gelag. Die rooinek het ook gelag.
“Ja wel, Lord Prins,” het hy gesê, “ek kan jou taal so ’n bietjie praat, en ek hoop om dit later beter te kan praat. Ek kom hier woon, en ek hoop dat ons almal vriende kan wees.”
Toe het hy na ons toe gekom, maar die mense het weggedraai en geweier om met hom hande te skud. Ek was die laaste een na wie toe hy gekom het. Ek het jammer gevoel vir hom; en hoewel sy nasie my volk onregverdig behandel het, en ek beide my kinders in die konsentrasiekamp verloor het, was dit nogtans nie juis dié Engelsman se skuld nie. Dit was die Engelse regering, wat ons goudmyne wou gehad het, se skuld. En dit was ook koningin Victoria, wat nie van oom Paul Kruger gehou het nie, se skuld. Want hulle sê dat toe hy London toe gegaan het, oom Paul net vir ’n paar minute met haar gepraat het. Oom Paul het gesê dat hy ʼn getroude man was en hy was bang vir weduwees.
Ek en Koos Steyn het saam met die Engelsman, Webber, terug na sy wa toe geloop.
~
Webber en Koos Steyn het groot vriende geword. ’n Paar weke voor Webber daar aangekom het, het Koos Steyn se vrou geboorte geskenk aan ’n baba. Dit was hulle eerste kind nadat hulle reeds sewe jaar getroud was, en hulle was baie ingenome met hulle kind. Dit was ’n dogtertjie. Koos Steyn het gesê dat hy liewer ’n seun sou wou gehad het, maar nogtans is dit beter as niks. Reg van die begin af het Webber ’n sinnigheid in die kind gehad. Sy is Jemima gedoop; vernoem na haar moeder. Dikwels, wanneer ek by Koos Steyn se huis verbygegaan het, het ek die Engelsman op die stoep sien sit met die kind op sy skoot.
Intussen het die ander boere in die omtrek hulle vervies oor Koos Steyn se vriendskap met die rooinek. Hulle het gesê dat Koos ’n hendsopper en ’n landsverraaier was. Hy was intiem bevriend met ’n man wat gehelp het om die Afrikanernasie se ondergang te bewerkstellig.
Dit was nogtans nie regverdig om Koos ’n hendsopper te noem nie. Koos het in die Graaff-Reinetse distrik gewoon toe die oorlog uitgebreek het, en was dus ’n Kaapse Boer, en dit was nie nodig vir hom om te veg nie. Nogtans het hy by die Vrystaatse kommando aangesluit en daar aangebly tot vrede gesluit is. En as hy deur die Engelse gevang sou word, sou hulle hom as ’n rebel doodgeskiet het, net soos hulle met Scheepers en van ander Boere gedoen het.
Gerhardus Grobbelaar het dit op ’n slag genoem toe ons in Willem Odendaal se poskantoor was.
“Jy doen nie die regte ding nie,” het Gerhardus gesê. “Sedert Slagtersnek is die Boer en die Engelsman vyande. Ons het hierdie oorlog verloor, maar eendag sal ons wen. Dis ’n plig wat ons aan ons kinders verskuldig is om teen die rooinekke gekant te wees. Onthou die konsentrasiekampe.”
Dit het vir my geklink of daar waarheid gesteek het in Gerhardus se woorde.
“Maar die Engelse is nou eenmaal hier, en ons moet saam met hulle lewe,” het Koos geantwoord. “Wanneer ons sover gekom het om mekaar te verstaan, sal dit miskien nie nodig wees om meer te baklei nie. Die Engelsman Webber is besig om Afrikaans goed aan te leer, en eendag sal hy amper soos een van ons wees. Al ding van hom wat ek nie mooi verstaan nie, is dat hy elke oggend bad. Maar as hy ’n einde daaraan kan maak, en as hy ophou om sy tande te borsel, sal jy dit moeilik vind om hom as iemand anders as ’n Boer aan te sien.”
Hoewel hy ʼn grap daarvan gemaak het, het ek gevoel dat daar ook waarheid gesteek het in dit wat Koos Steyn gesê het.
Next →
← Previous